2 en 3 Johannes (28-04-2026)

2 Johannes 1:1  Die ouderling aan die uitverkore vrou en aan haar kinders—wat ek in waarheid liefhet, en nie ek alleen nie, maar ook almal wat die waarheid leer ken het; 2  ter wille van die waarheid wat in ons bly en by ons vir ewig sal wees— 3  genade, barmhartigheid, vrede sal met julle wees van God die Vader en van die Here Jesus Christus, die Seun van die Vader, in waarheid en liefde. 

4  Ek was baie bly dat ek van u kinders gevind het wat in die waarheid wandel, soos ons ‘n gebod van die Vader ontvang het. 

5  En nou bid ek u, uitverkore vrou, nie asof ek u ‘n nuwe gebod skryf nie, maar een wat ons van die begin af gehad het: dat ons mekaar moet liefhê. 

6  En dit is die liefde, dat ons wandel volgens sy gebooie. Dit is die gebod soos julle van die begin af gehoor het dat julle daarin moet wandel. 

7  Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris. 

8  Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang. 

9  Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun. 

10  As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. 

11  Want die een wat hom groet, het gemeenskap aan sy bose werke. 

12  Alhoewel ek baie het om aan julle te skrywe, wou ek dit nie met papier en ink doen nie, maar ek hoop om na julle te kom en van mond tot mond te spreek, sodat ons blydskap volkome kan wees. 

13  Die kinders van u uitverkore suster groet u. Amen. 

3 Johannes 1:1  Die ouderling aan die geliefde Gajus wat ek in waarheid liefhet. 

2  Geliefde, ek wens dat dit met jou in alles goed mag gaan en dat jy gesond is, soos dit met jou siel goed gaan; 3  want ek was baie bly as daar broeders kom en van jou waarheid getuig, soos jy in die waarheid wandel. 

4  Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel. 

5  Geliefde, jy handel getrou in alles wat jy doen vir die broeders, en dit vir vreemdelinge, 6  wat van jou liefde voor die gemeente getuig het. Jy sal goed doen as jy hulle voorthelp op ‘n voor God waardige wyse. 

7  Want vir sy Naam het hulle uitgegaan sonder om iets van die heidene te neem. 

8  Ons behoort dan sulke mense goed te ontvang, sodat ons mede-arbeiders van die waarheid kan word. 

9  Ek het aan die gemeente geskrywe, maar Diótrefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie. 

10  Daarom, as ek kom, sal ek hom herinner aan die werke wat hy doen deur met slegte woorde teen ons uit te vaar; en hiermee nie tevrede nie, ontvang hy nie alleen self die broeders nie gasvry nie, maar verhinder ook die wat dit wil doen en werp hulle uit die gemeente. 

11  Geliefde, moenie navolg wat kwaad is nie, maar wat goed is. Hy wat goed doen, is uit God; maar hy wat kwaad doen, het God nie gesien nie. 

12  Van Demétrius is deur almal getuienis gegee en deur die waarheid self; en ons getuig ook, en julle weet dat ons getuienis waar is. 

13  Ek het baie dinge gehad om te skrywe, maar ek wil nie met ink en pen aan jou skryf nie. 

14  Maar ek hoop om jou gou te sien, en ons sal van mond tot mond spreek. 

15  Vrede vir jou! Die vriende groet jou. Groet die vriende by die naam. 

DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE