Petrus, Johannes en Paulus se Evangelies (11-12-2016)

– Banie Swanepoel:

Dit is belangrik dat ons die erns besef met Wie en waarmee ons besig is en die tyd uitkoop, want die dae is boos.

In die Ou Verbond was jy verplig om die sabbat te hou.

Hoeveel kans het jy gekry om die sabbat te verbreek? Nul keer… As jy dit een keer verbreek het, was jy met klippe doodgegooi.

Nou is ons in die Nuwe Verbond en ons glo die sabbat is vervul en in plaas daarvan dat ons net een dag uit die sewe aan GOD heilig, heilig ons nou al sewe dae.

Besef ons dat ons nie een dag kan uitsonder om dit níe aan GOD te heilig nie?

Hierdie boodskap gaan oor die evangelies van Petrus, Johannes en Paulus.

Petrus was een van die twaalf disippels, het saam met Yahshua gewandel, was ook saam met Johannes en Jakobus op die berg van verheerliking.

Petrus was ook baie voortvarend.

Met die uitstorting van die Heilige Gees op pinksterdag, was hy die een wat voorgegaan het en gespreek het.

Sy lewe getuig dat hy verstaan het wie Yahshua is, wat wedergeboorte is, dat die dinge op die aarde tydelik is, ons vervolg sal word, maar dat dit wel sal ophou en dat daar ‘n ewigheid van oorwinning en vrede sal wees.

1 Petrus 1:3  Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, 4  sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons 5  wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd. 6  Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, 7  sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus; 8  vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, 9  en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry. 

1 Petrus 1:13  Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus. 14  Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. 15  Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, 16  omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. 17  En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; 

1 Petrus 1:22  As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit ‘n rein hart; 23  want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. 24  Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, 25  maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is. 

Johannes het na alles anders gekyk. Vanuit die evangelies kan ons agterkom dat hy “diep denke” gehad het.

Hy was ook een van die dissipels, het ook saam met Yahshua gewandel en was ook een van die drie saam op die berg van verheerliking.

Johannes was ‘n baie sagte en nederige mens. Johannes het baie insig oor die Godheid, wie GOD is en GOD se verhouding met die mens, gehad.

Johannes het ook verstaan wat die liefde is.

Johannes 1:1  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2  Hy was in die begin by God. 3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 4  In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. 5  En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie. 

Johannes 14:18  Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19  Nog ‘n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20  In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. 

Johannes 15:4  Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 5  Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. 

Johannes 15:12  Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. 13  Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. 

1 Johannes 2:7  Broeders, dit is geen nuwe gebod wat ek aan julle skryf nie, maar ‘n ou gebod wat julle van die begin af gehad het. Die ou gebod is die woord wat julle van die begin af gehoor het. 8  En tog skryf ek aan julle ‘n nuwe gebod wat waar is in Hom en in julle, want die duisternis gaan verby en die waaragtige lig skyn alreeds. 9  Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe. 10  Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en in hom is geen oorsaak van struikeling nie. 

1 Johannes 3:14  Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood. 15  Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie. 16  Hieraan het ons die liefde leer ken, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het; en ons behoort ons lewe vir die broeders af te lê. 

1 Johannes 3:23  En dit is sy gebod, dat ons in die Naam van sy Seun, Jesus Christus, moet glo en mekaar liefhê soos Hy ons ‘n gebod gegee het. 24  En hy wat sy gebooie bewaar, bly in Hom, en Hy in hom. En hieraan weet ons dat Hy in ons bly aan die Gees wat Hy ons gegee het. 

1 Johannes 4:11  Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. 12  Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword. 13  Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het. 

1 Johannes 4:15  Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom, en hy in God. 16  En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom. 17  Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. 18  Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. 

Paulus was nie een van die twaalf dissipels nie en soos ons weet, was hy ‘n baie dinamiese en kwaai persoon. Dinge was óf reg, óf verkeerd.

Hy was ook baie ywerig en opreg en voor hy tot bekering gekom het, was hy opreg verkeerd.

Hy was ‘n streng Farrisiër en ‘n kundige wetsgeleerde en het die gemeente vervolg, maar hy het in opregtheid geglo dat hy reg was.

Paulus was ook bekend daarvoor dat hy die evangelie aan die heidene verkondig het, maar het ook die uitverkiesing verstaan.

Hy besef wat die vervuling van die wet is en ook die Nuwe Verbond.

Hy verduidelik ook die Gees- en die vleesmens.

Filippense 3:7  Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. 8  Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry 9  en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; 10  sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, 

2 Petrus 3:15  En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, 16  net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf. 

Romeine 9:20  Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? 21  Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? 22  En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, 23  juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid, 24  ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? 25  Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde; 26  en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God. 

Hoséa 1:2  Die begin van wat die HERE met Hoséa gespreek het; die HERE het aan Hoséa gesê: Gaan heen, neem vir jou ‘n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die HERE afvallig te word. 3  Toe het hy gegaan en Gomer, die dogter van Diblaim, geneem; en sy het swanger geword en vir hom ‘n seun gebaar. 4  En die HERE het vir hom gesê: Noem hom Jísreël, want nog ‘n klein tydjie, dan sal Ek die bloedskuld van Jísreël aan die huis van Jehu besoek en ‘n einde maak aan die koninkryk van die huis van Israel. 5  Ja, in dié dag sal Ek die boog van Israel verbreek in die laagte van Jísreël. 6  Toe het sy weer swanger geword en ‘n dogter gebaar; en Hy het vir hom gesê: Noem haar Lo-Rugáma, want Ek sal My verder nie meer oor die huis van Israel ontferm deur hulle vergifnis te skenk nie. 7  Maar oor die huis van Juda sal Ek My ontferm en hulle verlos deur die HERE hulle God, en Ek sal hulle nie deur boog of swaard of oorlog, deur perde of ruiters verlos nie. 8  Nadat sy Lo-Rugáma gespeen het, het sy weer swanger geword en ‘n seun gebaar. 9  En Hy het gesê: Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie, en Ek sal nie julle s’n wees nie. 10  Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie—sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God. 11  Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel almal saam vergader en vir hulle een hoof aanstel en uit die land optrek; want groot is die dag van Jísreël! 12  Sê aan julle broers: Ammi, en aan julle susters: Rugáma. 

Romeine 3:19  Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; 20  aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. 21  Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, 22  die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; 

2 Korinthiërs 3:5  Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, 6  wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend. 7  En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, 8  hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie? 9  Want as die bediening wat veroordeel, heerlikheid was, veel meer is die bediening wat regverdig maak, oorvloedig in heerlikheid. 10  Want wat verheerlik was, is ook in hierdie geval nie verheerlik nie, vanweë die alles oortreffende heerlikheid. 11  Want as wat moes vergaan, met heerlikheid was, veel meer is wat moet bly, in heerlikheid. 

Galásiërs 3:1  o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? 2  Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? 3  Is julle so onverstandig? Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees? 

Galásiërs 3:5  Hy wat julle dan die Gees verleen en kragte onder julle werk, doen Hy dit uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? 

Galásiërs 3:23  Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word. 24  Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof. 25  Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie. 

Romeine 6:3  Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. 

Romeine 8:1  Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 2  Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 

1 Korinthiërs 3:1  En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus. 2  Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, 3  omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie? 

1 Korinthiërs 15:50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. 

Galásiërs 5:16  Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; 17  want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. 18  Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie. 

1 Timótheüs 6:3  As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie, 4  dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, 5  nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense. 6  Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins. 

DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE