Banie Swanepoel:
Ons kan ons lewe lank God dien en aanbid, maar aan die einde daarvan, hoor ons dalk hierdie woorde van God af: Hebreërs 3:10-11 Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar húlle het my weë nie leer ken nie, 11 sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie.
Wat is God se weë en wat is dit wat ons moet leer ken?, want as ons dit nie leer ken het nie, sal ons in sy rus nie ingaan nie. Dit is nie noodwendig dinge wat ons met die vlees moet doen nie. Ons moet Sy hart leer ken en weet wat Hom gelukkig maak en waarvan Hy hou.
Elke Christen en elke denominasie het ‘n verskillende idee van wat sy weë is en wat dit is wat Hom gelukkig maak met ‘n verhouding met Hom, maar weet ons werklik wat Hy van ons wil hê? Weet ons wat Hom gelukkig maak met ‘n verhouding met Hom?
- As ons kan uitvind waarom God vir Adam geskape het en wat sy verwagting van Adam was, sal ons kan sien wat God uit sy verhouding met Adam verwag het.
- Adam was na sy beeld geskape en het dus karaktereienskappe van God gehad.
- Adam het met God gekommunikeer omdat God hom met sulke vermoë geskape het.
- Adam het namens God die aarde regeer en met God daaroor gesels.
- God het met hom in die aandwindjie gewandel.
God wil met ons ‘n verhouding hê en dit is die rede waarom Hy vir Adam en ook vir ons geskape het. Ons wil ook met Hom ‘n verhouding hê, want dit is waarom ons onsself Christene noem. Die probleem is dat ons nie met Hom ‘n verhouding kan hê wat óns kies en wat óns gelukkig maak nie, maar Hy skryf voor en ons moet uitvind wat sy voorskrifte is, voordat Hy met ons verhouding sal hê.
Elke persoon moet dus stil word en kyk wat sy eie verhouding met die Almagtige is en dan die Skrif ondersoek om te sien wat Hy in sy verhouding met ons wil hê en dan besluit of ons verhouding met Hom daaraan voldoen.
Omdat alle verhoudings tussen persone verskil, sal ons elkeen se verhouding met Vader ook verskil, maar dit moet binne God se voorskrif van verhouding wees.
- Party van ons, soos Abraham, sal met Hom ‘n baie goeie verhouding hê.
- Ander van ons sal soos Dawid ook ‘n baie goeie verhouding met Hom hê, maar verskillend van Abraham en verskillend van Dawid.
- Party van ons sal met Hom ‘n oppervlakkige verhouding hê en party van ons sal met Hom ‘n swak verhouding hê.
- Laastens sal party van ons ‘n vyandige verhouding met Hom hê.
Wat is dit wat ‘n goeie verhouding bepaal en wat is dit wat ‘n slegte verhouding bepaal, en dan is die vraag of ek met ‘n slegte verhouding sy Koninkryk sal kan beërwe? Wat is ‘n verhouding met God en hoe het ek ‘n goeie verhouding met Hom?
Wat is volgens die algemene Christen die kriteria wat ‘n verhouding met God kwalifiseer?
- Ek is lid van my kerk en gaan gereeld kerk toe.
- Ek gee geld vir die kerk en vir die arm mense.
- Ek sing in die kerk se koor.
- Ek werk naweke by ‘n tehuis vir siek mense.
- Ek leef moreel goed en probeer om my naaste lief te hê soos myself.
- Ek hou sekere van sy wette wat Hy deur Moses voorgeskryf het en veral die tien gebooie:
- Ek hou die sabbat.
- Ek hou die Pasga.
- Ek het my selfs laat besny.
- Ek eet nie varkvleis nie.
- Ek eet nie varkvleis nie en ook nie volstruis en ander onrein diere en seediere nie.
- Ek misbruik nie drank nie en vloek nie.
- Ek bid gereeld by openbare plekke en in my binnekamer.
- Ek kyk nie verkeerde dinge op TV nie en neem nie deel aan swak gesprekke nie.
Hierdie is dalk soms goeie standaarde om volgens te lewe, maar nie een van hierdie dinge dui op verhouding nie en ook nie op ‘n verhouding met God nie, maar is alles werke wat ek met my liggaam kan doen, al is daar nie ‘n God betrokke nie.
Die probleem met vormgodsdiens is, is dat daar vir die lid voorgeskryf word van hoe hy ‘n verhouding met God moet hê en net soos ons as mense nie met mekaar ‘n voorgeskrewe verhouding kan hê nie, kan ons dit ook nie met God hê nie, want dan is dit nie meer ‘n verhouding nie.
- Ses dae is jou eie tyd, maar die sewende dag is heilig aan God.
- Dan moet jy kerk toe gaan en mag nie sport doen nie.
- By die kerk gebeur alles volgens voorafbepaalde gebeure en meeste mense is net bystanders en toeskouers. Die enigste deelname is gewoonlik die sang. Daar is geen verhouding met God nie.
- Al wanneer ons dan andersins werklik tot God nader, is as ons in die nood is en bid vir verlossing.
- Ons verhouding met Hom is dus net as ons Hom nodig het, maar as ons Hom nie nodig het nie, is daar geen toenadering nie.
In die wêreld is daar 50 000 denominasies en elke denominasie het sy eie voorskrif van wie God is, hoe Hy aanbid moet word en hoe ons verhouding met Hom moet wees. In die kerk waar ons na God gaan soek, word ons dan geleer hoe om met Hom verhouding te hê en almal in daardie kerk het met Hom dieselfde voorgeskrewe verhouding.
As ‘n pa 10 kinders het, gaan hy beslis 10 verskillende verhoudings beleef en as hulle begin om dieselfde vorm aan te neem, sal hy onraad vermoed en begin ondersoek instel, want dit is onnatuurlik. Tog het almal in een kerk-denominasie almal soortgelyke verhoudings met God. Dit beteken ons het met Hom ‘n kerk-verhouding en nie ‘n persoonlike verhouding nie. Ons het nie sy weë leer ken nie. Ons doen niks waarvan Hy noodwendig hou nie, want ons weet nie waarvan Hy hou nie.
Om radikaal te wees en die probleem te identifiseer moet ons onsself afvra of dit moontlik is om met Vader ‘n verhouding te kan hê sonder die insette van enige kerk, en die antwoord is beslis ja. As die antwoord dan ja is, wat is die nut van die kerk dan? Onderlinge byeenkomste is nie verhouding met God nie, maar onderlinge verhouding met mekaar. Waar is die verhouding met Vader dan? Ons is onder die indruk dat wanneer ons kerk toe gaan en oor Hom praat en saam musiek maak oor Hom, dat ons met Hom verhouding gehad het. Dit veroorsaak egter dat ons geen verhouding met Hom het nie.
Nie Abraham of Dawid was ooit in ‘n kerk of ‘n ander onderlinge byeenkoms om met God ‘n verhouding te hê nie. Toe Adam die enigste mens op aarde was, het hy met God verhouding gehad. Verhouding met vader is nie ‘n groep-oefening nie, maar “ek en Hy” en “Hy en ek”- verhouding. Vir meeste mense wat hul self as Christine beskou, is dit ‘n vreemde en selfs skrikkerige gedagte: alleen-tyd met God. Selfs hulle wat vieruur in die oggend opstaan om te gaan bid, het dalk net verval in ‘n ritueel om God te probeer beïndruk en doen geen verhouding nie.
Wat is verhouding met Vader?
- In die begin het God Adam gemaak, na sy beeld, en met hom ‘n perfekte verhouding gehad. Adam breek Vader se hart en die verhouding gaan ten gronde. Vader se weë is dat Hy ‘n hart het wat liefkry en daarom ook kan breek.
- Menslik gesproke lyk dit of Vader belangstelling verloor het in die mens en vir 2000 jaar laat Hy dinge maar net gebeur met die mens en maak nie bemoeienis met hulle nie. Hy erken selfs dat Hy spyt is dat Hy hulle gemaak het.
- Dan, na die sondvloed kom Abraham op die toneel. ‘n Man wat God glo en Hom aanbid, nie vir dit wat Hy uit God uit kan kry nie, maar vir wie God is. Hy vertrou sy lewe aan God toe en betaal enige prys wat God se vriendskapsverhouding vereis, omdat Hy vir Hom lief is. God maak ‘n verbond met Abraham en noem hom ‘n vriend.
- Met Abraham beleef Vader weer verhouding met die mens en Hy reik opnuut uit na die mens en verklaar selfs sy liefde teenoor hulle by die berg Sinai, maar na Abraham is daar weer ‘n leemte vir verhouding en meeste van die kinders van die verbond dien Hom met hulle lippe, maar hulle harte is ver van Hom af.
- Dawid is ‘n man na God se hart en omdat God sy Vader en vertroueling is, raadpleeg hy Hom oor alle fassette van sy lewe. Ons sien dit in baie van sy psalms.
Dawid het verhouding met God gehad:
- Terwyl hy skape opgepas het.
- Toe hy die reus verslaan het.
- Toe hy vir Saul wapendraer was en Saul hom wou doodmaak.
- Toe hy vir Saul gevlug het en in Felistia gaan skuil het.
- Toe die vyande al hulle mense en besittings geroof het en Dawid se eie mense hom wou doodmaak.
- Toe Dawid teen die Filistyne oorlog gemaak het en hy wou weet of hy hulle voor, of agter die bos, moes aanval.
- Toe Dawid moord en owerspel gepleeg het.
- Toe Dawid vir sy eie seun, Absalom, gevlug het dié hom wou doodmaak.
- Toe Dawid se seun Absolom deur Dawid se weermag doodgemaak was en Dawid nie oor sy dood kon rou nie.
- Toe Dawid oud was en sy koninkryk moes oorgaan na sy seun Salomo.
Matthéüs 5: 1 En toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom; 2 en Hy het sy mond geopen en hulle geleer en gesê: 3 Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. 4 Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word. 5 Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. 6 Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word. 7 Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. 8 Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. 9 Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. 10 Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. 11 Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil.
Omdat ons almal verskil, sal ons verhoudings met God ook verskil, maar Hy vereis:
- Geloof in Hom.
- Ons eerste liefde is Syne.
- Omdat ons vertrou in Hom en ons lewe aan Hom behoort, mag ons niks vrees nie.
- Moet ons Hom ken vir wie Hy is en moet Hy ons ken, sodat ons verhouding kan hê, omdat ons mekaar ken.
Dinge wat Hy nie vereis om verhouding te hê nie:
- Vormgodsdiens.
- Rituele.
- Vasgestelde datums en tye.
- Lofprysing.
Wanneer ons self besluit, of as daar vir ons deur ‘n denominasie besluit word waarvan God hou, maar Hy hou nie noodwendig daarvan nie, is ons verhouding met Hom net in ons gedagte.
Ons besluit sommer dat Hy daarvan hou as ons byeenkomste het en met mekaar kuier en saam sing en mekaar druk, maar geen verhouding met Hom gehad het nie.
Ons maak vir onsself sekere reëls en wette waarvolgens ons lewe en wat ons besluit het Hy van hou. Wanneer ons redelik in staat is om by daardie reëls te hou, dink ons dit maak God gelukkig. Intussen is dit net ons eie gedagte om saligheid te verdien.
As ons God soek net terwille van ons verlossing, is ons nog steeds nie besig met verhouding met Hom nie, maar ons gebruik hom net as ‘n middel tot verlossing.
‘n Goeie verhouding gee, maar ‘n slegte verhouding wil net hê.
As ons lewe volgens God se wil sodat ons geregverdig kan word en hemel toe gaan, is ons motief ons verlossing en nie ons verhouding met Hom nie.
Omdat ons Hom lief het en ‘n verhouding met Hom het, werk ons aan ons verhouding met Hom om dit beter te maak. Dan doen ons nie dinge waarvan Hy nie hou nie, terwille van ons verhouding met Hom.
As jou kind die grassny sodat Hy R10 kan kry, doen hy dit vir die voordeel wat jy vir hom inhou en nie omdat hy ‘n liefdesverhouding met jou het nie. ‘n Vrou kan vir haar man broodjies insit werk toe omdat dit die regte ding is om te doen, of omdat sy vir hom lief is en in ‘n verhouding met hom is.
Waarom maak ons met God bemoeienis? Is dit omdat ons nie wil hel toe gaan nie, of omdat ons Hom ken en met Hom ‘n verhouding het? Ons eerste verhouding moet met Hom wees ten koste van alle ander verhoudings, indien nodig.
Lukas 18: 10 Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. 13 En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!
Markus 10: 15 Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.
DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE