Die Israeliete se God (2024)

  • Banie Swanepoel:

001 Die Israeliete se God (22-09-2024)

Die Israeliete het ‘n God wat geen ander volk het nie. Net hulle kan Hom hulle God noem. Anders as met ander volke, het die Israeliete nie hulle God gekies nie, maar Hy het hulle gekies. Reeds voordat hulle ‘n volk was, het hulle God ‘n ooreenkoms met hulle Vaders gemaak waarin Hy gesê het dat Hy hulle God is en hulle, met hulle nageslag, sal sy volk wees. (Die beginsel is dat jy nie hierdie God kan kies om jou God te wees nie, maar dat Hy jou kies)  Johannes 6: 44  Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

Die persoon met wie God die ooreenkoms gemaak het, was natuurlik Abraham. Génesis 17: 5  Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou ‘n vader van ‘n menigte van nasies.  6  En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom.  7  En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou8  En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ‘n God wees. (Die ooreenkoms)

Hoewel Abraham  8 seuns gehad het, het die God van Abraham sy ooreenkoms met net één van daardie agt seuns voortgesit, naamlik Isak. Dus, hoewel Ismael die eersgeborene van Abraham was, was God nié die God van Ismael nie, ook nie vir die van die ander ses broers nie, maar nét Isak.

Isak het op sy beurt weer twee seuns gehad, en hoewel die God van Abraham en die God van Isak gesê het hy sal Abraham en sy nageslag se God wees, gebeur dieselfde met die seuns van Isak, as wat met die seuns van Abraham gebeur het. Hoewel Isak twee seuns gehad het, is Hy net die God van een van hulle. Die ander een het Hy verwerp en Hy is nie sy God nie. Esau was nie geregtig om te sê dat die God van Isak, sy God is nie.

Romeine 9: 13  Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat. (Ons is onder die indruk dat ons God moet kies, maar intussen moet Hy ons kies.)

Jakob het twaalf seuns gehad en God maak sy ooreenkoms met hulle almal. Jakob se naam word deur sy God verander na Israel en al sy kinders is sy kinders en daarom praat God van die kinders van Israel, dit beteken die kinders van Jakob. As ons dan 187 keer in die Bybel lees van “Die God van Israel” beteken dit Hy is die God van Israel en nie van iemand  anders nie. Die Israeliete se God is nie die God van die hele wêreld nie, maar van die Israeliete alleen.

Toe die kinders van Jakob na hulle uittog uit Egipte by die berg Sinai kom, , het hulle God sy ooreenkoms met hulle bevestig. Hy praat met hulle met ‘n hoorbare stem en sê dat Hy hulle God is en hulle sy volk is. So het Hy met geen ander volk gedoen nie. Hy openbaar ook sy rede vir sy ooreenkoms met hulle deur aan hulle te sê; hoewel hulle die geringste van al die nasies was, Hy nog steeds met hulle alleen ‘n ooreenkoms gemaak het. Die rede vir sy ooreenkoms was omdat Hy hulle liefgehad het. Dit impliseer dan dat Hy geen ander van die nasies op die aarde liefhet nie, ander sou Hy hulle God ook gewees het. Ons verstaan dus dat die Israeliete se God nie met alle mense ‘n ooreenkoms het nie, maar net met die mense wat Hy lief het.

Deuteronómium 7: 7  Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.  8  Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos.

  • As dit dan net die nageslag van Israel is wie se God die God van die Bybel is, watter gode moet die ander mense dan aanbid?
  • As die God van die kinders van Israel al die beloftes in die Bybel met die kinders van Israel gemaak het, wat van al die ander mense op die aarde?
  • As die kinders van Israel by Hom geliefd is, wat dan van al die ander mense op die aarde? Miga 4: 5  Want al die volke mag wandel elkeen in die naam van sy god, maar óns sal wandel in die Naam van die HERE onse God vir ewig en altoos.

Wanneer God dan sê dat Hy sy Seun gestuur het om vir die wêreld se sonde te betaal deur aan die kruis te sterf, op watter punt het Hy dan vir al die ander mense van die wêreld begin lief word as Hy by Sinai nog nie vir hulle lief was nie?

Daar word gesê dat Hy by die kruis vir die hele wêreld lief geword het, maar dan is die tyd-orde verkeerd, want voor die kruis moes Hy vir hulle lief geword het, anders sou Hy nie by die kruis vir hulle lief gewees het nie. As God dus sê: Johannes 3: 16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Dan moes hierdie liefde gebeur het voor die besluit om sy Seun as offer te stuur, want Hy het net die kinders van Jakob lief gehad met die kruisiging.

As Hy dus sy Seun gestuur het om vir die mense te sterf vir wie Hy lief is, dan beteken dit tog seker dat Hy gesterf het vir die kinders van Jakob met wie Hy ‘n ooreenkoms het slegs omdat Hy vir hulle lief is. Hoewel Johannes 3: 16 ons verwar, is daar tog ander woorde van God wat nie verwarrend is nie: Matthéüs 1: 20  Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees;  21  en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. Die ooreenkoms was: Ek sal vir julle ‘n God wees en julle sal vir my ‘n volk wees.

As die God van die kinders van Jakob dan net gesterf het vir die vir wie Hy lief was, hoe verklaar ons dan Johannes 3: 16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.? Die punt van verwarring is dat God nie vir die Israeliete liefgeword het omdat Hy vir hulle gekruisig was nie, Hy het hulle voor die kruisiging reeds liefgehad. Die Engel was dus reg.

Dit lyk dus of die God van die kinders van Jakob nog steeds net die God van die kinders van Jakob alleen is, en dat Hy net vir hulle sonde gesterf het. Dit is ‘n gewigtige onderwerp met geweldige implikasies. As dit wel so is, was ons as mensdom al die jare verkeerd betreffende die liefde van God.

Daar word wêreldwyd deur alle kerke verkondig en aanvaar dat Hy vir die wêreld se mense gesterf het, hoewel alle kerke aanvaar dat Hy ‘n ooreenkoms met die kinders van Jakob het. Maar as Hy dan net gesterf het vir die mense vir wie Hy lief was, dan is daar ‘n groot misverstand iewers. Johannes 3: 16 se verklaring van God se liefde blyk om loodreg in te druis teen sy liefdesverklaring aan die nageslag van Jakob by Sinai en dit veroorsaak ‘n groot verwarring omdat dit lyk na ‘n teenstelling.

Johannes wat geskryf het van die liefde vir die wêreld in 3:16 het ook in Johannes 13:1 daarvan geskryf, maar dan sien ons dat die wêreld ‘n plek is en nie die mense van die wêreld nie.  Johannes 13: 1  En voor die fees van die pasga het Jesus, omdat Hy wis dat sy uur gekom het dat Hy uit hierdie wêreld sou oorgaan na die Vader, en omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe.

Hy het die wêreld lief, maar tog kan Hy uit die wêreld weggeneem word, dit is dus ‘n plek. Hy het die hele wêreld lief gehad, want dit is die plek waar die kinders van Jakob is wie se God Hy is en vir wie Hy lief is. In die wêreld is baie mense, maar in die wêreld is ook sy eie mense: die kinders van Jakob, wat Hy lief het.

Matthéüs 13: 44  Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.

Matthéüs 13: 37  En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens,  38  en die saailand is die wêreld. Die goeie saad—dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose,  39  en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.

Buiten Johannes 3: 16 is daar ook ander gedeeltes in die Bybel wat van die heidene praat en die vrede wat God met hulle gemaak het. Ons moet oënskynlike teëspraak deur God versigtig benader omdat ons nie die agtergrond van die skepping van ons hemel en aarde ken nie. Ons wil ons reëls en agtergrond toepas op God, soos wat ons dit verstaan. Ons is ook ongelukkig baie beïnvloedbaar en net soos met Eva kry die Satan dit maklik reg om ons denke te beïnvloed, sodat ons anders begin dink as wat God dink.

Die eerste beginsel waarby ons moet bly is dat God is wat Hy is en Hy verander nie. Hy sê baie dinge van Homself en dit is die beginsels wat nie kan verander nie. Die Satan val ons juis aan om te vra of dinge wat God gesê het regtig so is.

God sê Hy is waarheid en Hy kan nie lieg nie. Dan sê Hy vir Israel dat Hy hulle God is en dat Hy hulle alleen uitverkies het uit al die nasies wat op die aarde is om hulle God te wees. Indien Hy ná die kruis al die volke sou liefhê en hulle almal uitverkies het, lieg Hy dan nie vir Israel nie?  Indien Hy by die kruis nét vir die sonde van sy volk betaal het, soos wat die engel gesê het, sal sy Naam nie dan gestand bly en geëer word nie? Ons is banger om aan mense aanstoot te gee, as aan God.

Net soos wat daar ‘n verklaring is van Johannes 3: 16 om te kan sien dat God se liefde nie verander het nie, net so is daar ‘n verklaring van die heidene wat deel van God se volk word. Uit beginsel uit en uit geloof in God se Naam moet ons dit reeds weet, want dit is wat geloof beteken. Ek glo God net omdat Hy so gesê het en wanneer ek sy Woord nie verstaan nie, sal Hy dit aan my openbaar as ek dit soek met my hele hart.

**&&**

002 Die Israeliete se God (29-09-2024)

Maar wie is sy volk dan?

  1. Is dit die Jode en hulle wat hul-self Jode noem?
    1. Openbaring 2: 9  Ek ken jou werke en verdrukking en armoede maar jy is ryk en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan.
    1. Die Moderne Jood is nie ‘n geslag nie, maar ‘n kultuur. God se ooreenkoms is met Abraham en sy nageslag deur Jakob.
  2. Is dit die kerk en die geredde mense?
    1. Niemand van ons kan gered word tensy ons die volk van God is nie.
    1. Ons word nie die volk van God omdat ons gered is nie, maar die nageslag van Jakob is die volk van God, ongeag of hulle gered is of nie
    1. Jesaja 59: 20  Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die HERE.  21  Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die HERE: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie.
  3. Is dit die mense aan wie die apostels die evangelie gaan verkondig het?
    1. Ons kan die kaart agter in ons Bybel gaan bestudeer

Matthéüs 28: 19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Romeine 15: 24  sal ek na julle kom wanneer ek na Spanje reis; want ek hoop om julle op my deurreis te sien en deur julle daarheen voortgehelp te word, as ek eers ‘n tyd lank van julle geniet het.

Handelinge 20: 1  En nadat die oproer verby was, het Paulus die dissipels na hom geroep en gegroet en het vertrek om na Macedónië te reis.  2  En hy het daardie streke deurgegaan, en nadat hy hulle met baie woorde bemoedig het, in Griekeland gekom.

Handelinge 19: 21  En toe hierdie dinge verby was, het Paulus hom voorgeneem om deur Macedónië en Acháje te gaan en na Jerusalem te reis. Hy het gesê: Nadat ek daar gewees het, moet ek Rome ook sien.

Markus 16: 15  En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.

Kollesense 1: 23  as julle ten minste gegrond en vas bly in die geloof en julle nie laat afbring van die hoop van die evangelie nie, wat julle gehoor het en wat verkondig is in die ganse mensdom onder die hemel, waarvan ek, Paulus, ‘n dienaar geword het.

Tog is Paulus na die heidene gestuur

Romeine 11: 13  Want aan julle heidene sê ek: Vir sover as ek ‘n apostel van die heidene is, verheerlik ek my bediening  14  as ek tog maar net my eie volk jaloers kan maak en sommige uit hulle kan red!

Galásiërs 2: 7  Maar, inteendeel, toe hulle sien dat aan my die evangelie vir die onbesnedenes toevertrou is, net soos aan Petrus dié vir die besnedenes—  8  want Hy wat Petrus bekragtig het met die oog op die apostelskap vir die besnedenes, het my ook bekragtig met die oog op die heidene—  9  en toe hulle merk die genade wat aan my gegee is, het Jakobus en Céfas en Johannes, wat as pilare geag is, aan my en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee, sodat ons na die heidene en hulle na die besnedenes kon gaan;

As die God van die Israeliete dan net hulle God is, wie is hierdie heidene vir wie Paulus bedien het?

Romeine 9 is deur Paulus geskryf en verduidelik wie die heidene is:

  • 1. Paulus noem homself ‘n Israeliet en is die Apostel vir die heidene.
  • 2. Hy sê dat nie almal wat uit Abraham is Israeliete is nie, maar net        

hulle wat deel is van die belofte aan Abraham, kinders van God is.

  • 3. Die belofte was net aan sy seun Isak en nie aan die ander sewe  

seuns nie, dus was net Isak ‘n kind van die belofte.

  • 4. Die belofte was net aan sy seun Jakob en nie aan Jakob se broer Esau nie, dus was net Jakob ‘n kind van die belofte. Wat dan van Esau? Hom het God gehaat en is vertorend op sy nageslag tot in ewigheid.
  • 5. Is God dan nie onregverdig nie? Nee Hy kan doen wat Hy wil, Hy is God.
  • 6. Hy maak die kinders van die belofte as voorwerpe tot eer en die ander mense as voorwerpe tot oneer, daarom handel Hy met die kinders van die belofte anders as met die kinders sonder belofte.
  • 7. Die kinders van die belofte wat Hy gemaak het tot eer, is egter nie     

net uit die Jode nie, maar ook uit die heidene wie deel is van die belofte van Abraham, Isak en Jakob, soos wat Hy in Hoséa sê.

  • 8. Hoséa profeteer dat God sy liefdesverbond met tien van die stamme van Israel gaan breek, omdat hulle nooit aan Hom gehoorsaam is nie.
  • 9. Dit gebeur ook so en toe hulle 700 vC. in ballingskap gaan, 

 verheidens hulle omdat God nie meer hulle God is nie.

  • 10. Hoewel God nie meer hulle God is nie, is dit ‘n tydelike toestand, want terwyl Hoséa profeteer dat Hy nie meer hulle God gaan wees nie, profeteer hy ook dat Hy weer hulle God sal wees.
  • 11. Hierdie heidene aan wie Paulus die evangelie verkondig is hierdie 10 stamme wat verheidens het, maar nou deur die offer van Yahshua deur ‘n nuwe verbond kan hulle weer deel van die huis van Dawid word.
  • 12. Daar is dus “heidene” en “heidene”. Daar is dus “Israeliete” en “Israeliete”.

Romeine 9: 1  Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees  2  dat dit vir my ‘n groot droefheid is en ‘n onophoudelike smart vir my hart.  3  Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, ‘n vervloeking te wees, wég van Christus af.  4  Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes;  5  aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.  6  Maar ek sê dit nie asof die woord van God verval het nie; want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie.  7  Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word.  8  Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag.  9  Want dit is die woord van die belofte: Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara sal ‘n seun hê.  10  En nie alleen dit nie, maar ook Rebekka was swanger uit een, naamlik Isak, ons vader.  11  Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep  12  is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien.  13  Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.  14  Wat sal ons dan sê? Is daar miskien onreg by God? Nee, stellig nie!  15 Want aan Moses sê Hy: Ek sal barmhartig wees oor wie Ek barmhartig wil wees en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.  16  So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is.  17  Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.  18  So is Hy dan barmhartig oor wie Hy wil en Hy verhard wie Hy wil.  19 Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan?  20  Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?  21  Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?  22  En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het,  23  juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid,  24  ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene?  25  Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde;  26  en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God. 

Hoséa 1: 1  Die woord van die HERE wat gekom het tot Hoséa, die seun van Beëri, in die dae van Ussía, Jotam, Agas, Jehiskía, konings van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, koning van Israel.  2  Die begin van wat die HERE met Hoséa gespreek het; die HERE het aan Hoséa gesê: Gaan heen, neem vir jou ‘n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die HERE afvallig te word.  3  Toe het hy gegaan en Gomer, die dogter van Diblaim, geneem; en sy het swanger geword en vir hom ‘n seun gebaar.  4  En die HERE het vir hom gesê: Noem hom Jísreël, want nog ‘n klein tydjie, dan sal Ek die bloedskuld van Jísreël aan die huis van Jehu besoek en ‘n einde maak aan die koninkryk van die huis van Israel5  Ja, in dié dag sal Ek die boog van Israel verbreek in die laagte van Jísreël.  6  Toe het sy weer swanger geword en ‘n dogter gebaar; en Hy het vir hom gesê: Noem haar Lo-Rugáma, want Ek sal My verder nie meer oor die huis van Israel ontferm deur hulle vergifnis te skenk nie7 Maar oor die huis van Juda sal Ek My ontferm en hulle verlos deur die HERE hulle God, en Ek sal hulle nie deur boog of swaard of oorlog, deur perde of ruiters verlos nie.  8  Nadat sy Lo-Rugáma gespeen het, het sy weer swanger geword en ‘n seun gebaar.  9  En Hy het gesê: Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie, en Ek sal nie julle s’n wees nie10  Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie—sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God.  11  Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel almal saam vergader en vir hulle een hoof aanstel en uit die land optrek; want groot is die dag van Jísreël!  12  Sê aan julle broers: Ammi, (my volk) en aan julle susters: Rugáma (vergifnis).

**&&**

003  Die Israeliete se God

Dit gaan oor  ‘n liefdesverhouding (06-10-2024)

Psalm 50: 7  Hoor, my volk, dat Ek kan spreek; Israel, dat Ek jou dit kan inskerp: Ek is God, jou God!   

Wanneer kerke kyk na die verhouding tussen God en sy volk, is dit ‘n akademiese oefening en word dan deel van elke kerk se dogma op grond van hoe hulle dit insien. Ons speel egter met ons lewe wanneer ons hierdie onderwerp sonder respek en vrees hanteer.

YHWH is nie die God van die Israeliete terwille van hulle verlossingsplan, terwille van die verlossing van die wêreld, terwille van  geregtigheid of enige ander rede, behalwe terwille van sy verhouding met hulle nie.

Van Abraham se tyd af het dit vir God gegaan oor ‘n verhouding met hom en sy nageslag na hom. Hierdie verhouding van God met hulle, is nie net ‘n vriendskapsverhouding nie, maar ‘n liefdesverhouding.

By die berg Sinai gee God sy rede waarom Hy Israel uitverkies het bo al die ander nasies wat op die aarde is;  Hy het hulle lief gehad. Hy kies dus uit, omdat Hy sommige nasies liefhet en ander nie, anders sou Hy met die ander nasies ook ‘n verhouding gehad het.

Exodus 20: 4  Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. 5 Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou (Israel) God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; 6 en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

By Sinai sê Hy vir die Israeliete dat Hy hulle God is en dat hulle geen ander gode mag hê nie, want Hy is jaloers op hulle, omdat Hy in ‘n liefdesverhouding met hulle is. Net soos wat ‘n man met ‘n vrou trou en sy nie met ander mans ‘n verhouding mag hê nie, net so mag Israel nie met ander gode ‘n verhouding hê nie.

Wanneer God vir Israel sê dat hulle nie ander gode mag liefhê nie, sê Hy ook vir hulle dat Hy geen ander nasies sal liefhê nie. Dieselfde belofte wat ons tydens huwelike doen, het God met sy volk gedoen. Ons moet dus baie versigtig wees om te sê, of om selfs net te dink, dat Hy sy gelofte verbreek het.

Deuteronómium 4: 15 Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele — want julle het géén verskyning gesien op die dag dat die HERE by Horeb uit die vuur met julle gespreek het nie — 16 sodat julle nie verderflik handel deurdat julle vir julle ‘n gesnede beeld, ‘n gelykenis van enige afgodsbeeld, maak nie: ‘n afbeelding van man of vrou, 17 ‘n afbeelding van enige dier wat op die aarde is, ‘n afbeelding van enige gevleuelde voël wat in die lug vlieg, 18 ‘n afbeelding van enigiets wat op die aarde kruip, ‘n afbeelding van enige vis wat in die water onder die aarde is; 19 dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan, en as jy die son sien en die maan en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie — dinge wat die HERE jou God aan al die volke onder die hele hemel uitgedeel het. 20  Maar die HERE het julle geneem en julle uit die yster-smeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy erfvolk te wees soos dit vandag is.

Deuteronómium 4: 25  As jy kinders en kindskinders sal verwek en julle in die land verouderd sal wees en verderflik handel deurdat julle ‘n gesnede beeld maak, ‘n gelykenis van enigiets, en doen u wat verkeerd is in die oë van die HERE jou God om Hom te terg, 26 dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word. 27 En die HERE sal julle onder die volke verstrooi, en ‘n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die HERE julle sal drywe. 28 En daar sal julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie. 29 Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. 30 As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister. 31 Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie. 32 Want doen tog ondersoek na die vorige dae wat voor jou gewees het, van die dag af dat God mense op die aarde geskape het, en van die een einde van die hemel tot by die ander einde van die hemel, of so iets groots gebeur het of iets dergeliks gehoor is. 33 Het ‘n volk die stem van God uit die vuur hoor spreek, soos jy gehoor het, en in die lewe gebly? 34 Of het ‘n god probeer om vir hom ‘n nasie uit ‘n ander nasie te gaan neem deur versoekinge, deur tekens en wonders en deur oorlog en deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade soos die HERE julle God met julle voor jou oë in Egipte gedoen het? 35 Jy self het dit te sien gekry, dat jy kan weet dat die HERE God is; daar is geen ander buiten Hom nie. 36 Uit die hemel het Hy jou sy stem laat hoor om jou te onderrig; en op die aarde het Hy jou sy groot vuur laat sien, en jy het sy woorde uit die vuur gehoor. 37 En omdat Hy jou vaders liefgehad en hulle nageslag na hulle uitverkies het, en Hy self jou deur sy grote krag uit Egipte uitgelei het, 38 om nasies groter en magtiger as jy voor jou uit te verdrywe en jou in te bring om hulle land aan jou as erfenis te gee soos dit vandag is — 39 daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat die HERE God is, bo in die hemel en onder op die aarde; daar is geen ander nie

Deuteronómium 7: 16 En jy sal al die volke verteer wat die HERE jou God aan jou oorgee; jou oog mag hulle nie verskoon nie, en jy mag hulle gode nie dien nie; want dit sal vir jou ‘n strik wees. 17 As jy in jou hart dink: Hierdie nasies is meer as ek, hoe sou ek hulle kan verdrywe? — 18 wees dan nie bevrees vir hulle nie; dink gedurig aan wat die HERE jou God aan Farao en die hele Egipte gedoen het, 19 die groot versoekinge wat jou oë gesien het, en die tekens en die wonders en die sterke hand en die uitgestrekte arm waardeur die HERE jou God jou uitgelei het; so sal die HERE jou God aan al die volke doen vir wie jy bevrees is.

Deuteronómium 23: 5  Maar die HERE jou God wou nie na Bíleam luister nie; maar die HERE jou God het vir jou die vloek in ‘n seën verander, omdat die HERE jou God jou liefgehad het. 6  Jy mag hulle vrede en hulle geluk solank as jy lewe, vir ewig nie soek nie.”

Deuteronómium 10: 12   En nou, Israel, wat eis die HERE jou God van jou as net om die HERE jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die HERE jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, 13 om te hou die gebooie van die HERE en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan? 14  Kyk, aan die HERE jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is. 15  Maar net aan jou vaders het die HERE ‘n welgevalle gehad om hulle lief te hê, en Hy het julle, hulle nageslag ná hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag is.”

Deuteronómium 7: 6  Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. 7  Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. 8  Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos. 9  Jy moet dan weet dat die HERE jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom lief het en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte. 10  Maar aan die wat Hom haat, aan elkeen persoonlik, vergeld Hy dit, om hom te vernietig; Hy sal met sy hater nie versuim nie, hom persoonlik sal Hy dit vergelde.

Die nasies sal na goëlaars en waarsêers luister, maar Israel sal na Yahshua luister.

Deuteronómium 18: 13  Opreg moet jy wees met die HERE jou God. 14 Want hierdie nasies wat jy uit hulle besitting verdrywe, luister na goëlaars en waarsêers; maar wat jou aangaan, die HERE jou God het jou nie so iets toegelaat nie. 15  ‘n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister —

Die Israeliete se beloftes vanaf hulle God

Josua 1: 9  Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan.

Jesaja 41: 8 Maar jy, Israel, my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend,  9   jy, wat Ek gegryp het van die eindes van die aarde en van sy uithoeke geroep het, en Ek het aan jou gesê: Jy (Israel) is my kneg; jou (Israel) het Ek uitverkies en jou (Israel) nie verwerp nie.  10  Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou (Israel); kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.  11 Kyk, hulle almal sal beskaamd staan en in die skande kom wat op jou toornig is; hulle sal word soos niks, en jou teëparty sal omkom.  12  Jy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie—die manne wat met jou twis; hulle sal word soos niks en soos ‘n nietige ding—die manne wat teen jou oorlog voer.  13  Want Ek, die HERE jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou.  14   Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ék help jou, spreek die HERE, en jou Losser is die Heilige van Israel.

Jesaja 43: 1 Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!  2   As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.  3   Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland; Ek het Egipte gegee as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek.  4  Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe.  5  Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af.  6  Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af,  7  elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het.  8  Bring uit die volk wat blind is en tog oë het, en die dowes wat ore het.  9  Al die nasies het saam vergader, en die volke is versamel. Wie onder hulle kan sulke dinge verkondig? En laat hulle ons die vorige dinge bekend maak! Laat hulle hul getuies bring, dat hulle in die gelyk gestel kan word; en laat hulle hoor en sê: Dit is die waarheid!

Matthéüs 10: 34  Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. 35  Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder. 36  En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees. 37  Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. 38  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. 39  Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. 

Efésiërs 5: 14  Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn. 

Jeremia 31: 31  Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit; 32  nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. 33  Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. 34  En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie. 35  So sê die HERE wat die son gee tot ‘n lig oordag, die ordeninge van die maan en van die sterre tot ‘n lig in die nag; wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis, HERE van die leërskare is sy Naam: 36  As hierdie verordeninge voor my aangesig sal wyk, spreek die HERE, dan sal die nageslag van Israel ook ophou om ‘n volk te wees voor my aangesig vir altyd. 37  So sê die HERE: As die hemele daarbo gemeet en die fondamente van die aarde daaronder nagespeur kan word, dan sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp weens alles wat hulle gedoen het, spreek die HERE. 

**&&**

DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE