Banie Swanepoel:
Deuteronómium 6:13-15 Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer. (14) Julle mag nie agter ander gode aan loop uit die gode van die volke wat rondom julle is nie— (15) want die HERE jou God is ‘n jaloerse God by jou—sodat die toorn van die HERE jou God nie teen jou ontvlam en Hy jou van die aarde verdelg nie.
Nahum 1:2 ‘n Jaloerse God en ‘n wreker is die HERE, ‘n wreker is die HERE, en vol grimmigheid; ‘n wreker is die HERE vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn teen sy vyande.
Spreuke 6:32-35 Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hy doen so iets; (33) slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie; (34) want jaloersheid is ‘n toorngloed in ‘n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie; (35) hy neem glad geen losprys in aanmerking nie, en hy willig nie in nie al maak jy die omkoop geskenk nog so groot.
Wanneer ‘n man hom aan ‘n vrou verbind het, is haar liefde en lewe net vir hom en indien sy met ‘n ander man te doen het, sal daar vanself ‘n jaloersheid in haar man ontstaan. In die moderne tyd, met sosiale media, gebeur dit ook dikwels dat jaloesie ontstaan omdat eggenote nog vorige verhoudings deur die internet koester terwyl hulle reeds getroud is.
Hierdie verhoudings word deur die een party gesien as net vriende, maar deur die ander party word dit verpes omdat daar vir hulle nie plek is in hulle huwelik vir ander verhoudings nie. Dikwels lei dit dan tot jaloesie en gaan die verhouding tussen die getroudes as gevolg daarvan dood.
Wanneer ons met ons God in ‘n verhouding is, is Hy uiters gesteld daarop dat dit nét Hy in die verhouding is met ons, en geen ander gode nie.
- Ons mag nie geloof in Hom en ook in iemand, of iets anders, hê nie.
- Ons mag nie ons vertroue ook in iemand anders plaas nie.
- Ons mag nie ons aanbidding en verwondering vir Hom ook in iemand anders hê nie.
Ons mag nie ander gode ook aanbid, bewonder en vereer nie.
Exodus 34:13-14 Maar hulle altare moet julle omgooi en hulle klip pilare verbrysel en hulle heilige boomstamme afkap. (14) Want jy mag jou nie neerbuig voor ‘n ander god nie; want die HERE se Naam is Jaloers—’n jaloerse God is Hy.
Net soos wat ‘n man jaloers word as sy vrou met ‘n ander man te doen het, net so word God op ons jaloers as ons met ander Gode te doen het. God se jaloesie loop uit in wraak en vergelding indien ons ons nie bekeer van sulke verhoudings met afgode nie, dit is onvermydelik, want Hy is ‘n jaloerse God.
Deuteronómium 6:14-15 Julle mag nie agter ander gode aan loop uit die gode van die volke wat rondom julle is nie— (15) want die HERE jou God is ‘n jaloerse God by jou—sodat die toorn van die HERE jou God nie teen jou ontvlam en Hy jou van die aarde verdelg nie.
Alle Christene is oortuig dat hulle geen ander Gode aanbid nie, maar net soos wat iemand ‘n sosiale media verhouding het wat hulle huwelik verwoes, net so het ons sogenaamde onskuldige verhoudings met ander gode en weet nie dat ons dit doen nie en weet nie dat God dit haat nie.
As jy in ‘n sosiale media verhouding is en jou huweliksmaat vra jou om dit te stop, en jy doen nie, maar het allerhande redes waarom dit nie verkeerd is nie, dan ag jy die sosiale media verhouding hoër as jou huweliksverhouding. As God ons vra om ons afgodsverhoudings te stop en ons doen nie, maar hou aan verskonings hê omdat dit in ons oë onskuldig is, ag ons ons afgodsverhoudings hoër as ons verhouding met Hom.
In ons eie lewe word ons deur die profete gewaarsku van ander gode, ons word deur stemme van ander mense in ons lewe gewaarsku van ander Gode, ons voel ongemaklik in ons binneste oor daardie waarskuwings, en in ons hart weet ons daar is fout, maar ons wil dit nie ondersoek nie, want dan moet ons dalk breek met dit.
Net soos wat dit onaangenaam is om die sosiale media verhoudings te breek, is dit onaangenaam om die verhoudings met ander gode te breek. Sommige van daardie sosiale media verhoudings kom van skooldae af en om dit te breek vra ‘n prys. Ons aanbidding van ander gode kom deur geslagte en om daarmee te breek vra ‘n prys. Dit is lekker om ander gode te dien en om op te hou is “onlekker”.
Nimrod is een van daardie gode wat ons vandag nog saam met die God van die Bybel dien, en ons weet dit nie en ons weet nie dat dit God woedend maak nie. Dit maak God ontstoke elke keer wat ons ons hart tot Nimrod wend en aan hom verering gee, maar omdat ons daarmee grootgeword het en meeste Christene dit doen, en ons geestelike leiers dit self regverdig, doen ons dit ook.
Ons dink in ons hart en in ons verstand dat dit geen verhouding is nie en dat dit God nie jaloers maak nie, net soos wat ‘n eggenoot op sosiale media dink dat dit geen verhouding is nie en sy huweliksmaat nie affekteer nie. Die impak wat dit het op die belangriker verhouding neem ons nie in ag nie, want ons geniet die ander verhouding, dit is vir ons lekker, maar ten koste van die verhouding met God.
Dit laat my dink aan ‘n man wat jaarliks sy vrou by die huis laat bly en dan saam met ‘n skool vriendin gaan vakansie hou het. Vir ons is dit absurd, maar vir hom is dit normaal. Ons gaan jaarliks saam met Nimrod met vakansie en dink dit is normaal, maar dit is absurd.
Jeremia 10:2-8 So sê die HERE: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. (3) Want die insettinge van die volke is nietigheid; want ‘n boom uit die bos kap hulle om, die handewerk van ‘n ambagsman met die byl. (4) Hulle versier dit met silwer en goud, hulle maak dit vas met spykers en hamers, dat dit nie waggel nie. (5) Soos ‘n voëlverskrikker in ‘n komkommer tuin is hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie. (6) Geeneen is soos U nie, o HERE! U is groot, en u Naam is groot in krag. (7) Wie sou U nie vrees nie, o Koning van die nasies? Want U kom dit toe; want onder al die wyse manne van die nasies en in hulle hele koninkryk is geeneen soos U nie. (8) Maar almal saam word hulle dom en dwaas, die tugtiging van die nietige afgode—dit is hout.
Elke jaar gaan ons in die bos en kom terug met die boom. Ons maak hom staan in ons huis en versier hom en het geen idee hoekom ons dit doen en waar die gebruik vandaan kom nie. Ons wil liewer nie navraag doen nie, want wat as dit dalk verkeerd is, dan moet ek ophou en ek wil nie, want dit is lekker.
Nimrod het geleef in die tyd van die toring van Babel. Hy was volgens die Bybel ‘n magtige jagter en ‘n heerser in sy tyd. Hy was ‘n rebel teen die Almagtige en ‘n yweraar vir die toring waarmee die mens hulle kon verskans teen die Almagtige.
Génesis 10:8 Kus was ook die vader van Nimrod. Hy het begin om ‘n geweldenaar op aarde te wees. (9) Hy was ‘n geweldige jagter voor die aangesig van die HERE. Daarom sê hulle: Soos Nimrod, ‘n geweldige jagter voor die aangesig van die HERE. (10) En die begin van sy ryk was Babel en Ereg en Akkad en Kalne in die land Sínear. (11) Uit hierdie land het hy getrek na Assur en gebou: Ninevé en Réhobot-Ir en Kalag (12) en Resen, tussen Ninevé en Kalag—dit is die groot stad.
Volgens die geskiedenis was hy getroud met Semiramis. Sy was ‘n heks en Satansaanbidder. Nimrod het as koning geheers en sy was die hoof van aanbidding. Terwyl Nimrod op een van sy jagtogte was het Semiramis swanger geword deur haar hoerery. Nimrod het egter nie teruggekom van sy jagtog nie, maar is dood tydens die jagtog.
Omdat Semiramis swanger was en haar man nie daar was om haar swanger te maak nie, was sy in ‘n verleentheid en almal sou wonder wie se kind dit is. Haar hoop was dat haar man betyds sou terugkom, maar nou was hy dood. Toe die kind gebore word het sy verklaar dat sy deur Nimrod bevrug was, al was hy dood, en dat die kind wat gebore is Nimrod was wat gereïnkarneer is. Die teken dat dit ‘n wonderwerk is, is dat daar wonderbaarlik ‘n volgroeide boom in haar tuin verskyn het wat gister nie daar was nie. Sy, en al die ander mense, het jaarliks daardie boom versier om Nimrod se nuwe lewe te herdenk. Hierdie verjaardag van Nimrod was 25 Desember.
Die kind wat gebore was se naam was Tamus en saam met sy pa, Nimrod, wat dan eintlik hyself was, en met sy ma Semiramis vorm hulle die driemanskap wat vandag nog oral in die wêreld se afgode gevind word. Hierdie godsdiens het deur die wêreld versprei nadat God die taal by die toring van Babel verwar het en die mense oor die aarde versprei het. Egipte, Babilon, China, Indië en nog ander volke aanbid hierdie drie, elke volk het net ander name vir hulle.
Eségiël 8:14 Hy het my toe gebring na die noordelike ingang van die poort by die huis van die HERE, en kyk, daar het die vroue gesit wat Tammus beween.
Hoe weet ons dat Nimrod se verjaardag op die 25ste Desember was? Dit is die tyd wat die son sy rigting verander. In die noordelike halfrond is dit winter en die son is op sy verste, maar dit is wanneer hy omdraai en die somer weer gaan begin. Dit simboliseer nuwe geboorte, nuwe begin, Nimrod wat dood was, maar lewe weer. Plekke in die wêreld soos Stonehenge in Engeland was juis gebou om hierdie omkering van die seisoen te kon waarneem.
Is dit die waarheid? Volgens die geskiedenis is dit wat gebeur het, en ons het geen ander verklaring van waar die boom en die 25ste Desember vandaan kom nie. In die Bybel lees ons niks van die viering van die geboorte van die Christus nie, maar dit word tog entoesiasties verkondig deur die Romeinse Kerk. Hulle het egter ook die driemanskap wat hulle aanbid, maar noem dit natuurlik net ander name. Die vader, Maria en die seun Jesus. Nimrod is die vader wat Maria bevrug het en die seun voortgebring het, wat dan eintlik die vader is.
Hoewel die Romeinse kerk Kersfees ywerig gevier het, het die protestante hulle daarvan gedistansieer. Kersfees was jaarliks saam met Paasfees gevier deur die Romeinse Kerk, maar nie die Protestante nie. Die Romeinse Kerk het egter weer sy greep op die Protestante gekry en die feeste is weer ingevoer. Meeste ernstige Protestante neem ook deel aan hierdie “ander gode verering” en besef nie wat hulle doen nie en weet nie hoe jaloers hulle hul God maak nie.
In Suid Afrika was dit nooit gevier nie omdat ons ‘n protestantse nasie was, maar in die 20ste eeu is Kersfees wêreld wyd gewild gemaak deur onder andere Coca-Cola se bemarking van hulle produkte en gepaardgaande films wat Kersfees aangebied het vir wat dit vandag is. Winkels floreer gedurende hierdie tyd omdat dit bemark was as ‘n tyd wat die mense vir mekaar geskenke gee. Sint Niklaas en sy slee het ook toe op die toneel verskyn.
Onkundige Protestante, selfs in Suid Afrika, neem nou jaarliks deel aan die fees van Nimrod en besef dit nie. In die Bybel is geen opdrag om Yahshua se geboorte te herdenk nie en indien ons dit wel doen, is dit uit onsself en nie uit Hom nie.
As ons dan sou sê dat ons nie Nimrod se verjaardag herdenk nie, maar Yahshua s’n, al het God nie gesê ons moet dit herdenk nie, waarom doen ons dit dan ook op die 25ste Desember en nie op Sy verjaardag nie? Tydens die geboorte van die Messias was daar herders op die oop veld saam met hulle skape, dit sou nie in Desember kon wees nie, want dit is dan winter en die diere sou doodgaan van die koue.
As ek my eie verjaardag sou vier in Desember, maar ek is gebore in Julie, sal mense nie dink daar is iets fout met my nie? Gaan die viering van ‘n geboortedag dan nie juis oor die dag waarop iemand gebore is nie, waarom dan 25 Desember? Want dit is die geboortedag van Nimrod en ons is verlei om sy geboorte te herdenk.
In ons hart is daar ‘n innerlike konflik of hierdie argumente reg of verkeerd is, maar dit bly waar dat daar geen opdrag in die Bybel is om ons Koning se geboorte te herdenk nie, tog herdenk ons ‘n geboorte waarvan ons nie seker is wat die oorsprong is nie. Dit is ‘n sosiale media verhouding wat ons probeer motiveer omdat dit vir ons lekker is, maar dit is ten koste van ons verhouding met die Almagtige.
1 Konings 18:20-22 En Agab het gestuur onder al die kinders van Israel en die profete op die berg Karmel bymekaar laat kom. (21) En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.
Die feeste wat vandag deur die Christene gevier word is Kersfees en Paasfees en albei hierdie feeste kom van die Romeinse Kerk af en was geen opdrag van God nie. Ons was mislei om te dink dat dit van God af is, maar die waarheid maak ons vry daarvan. Ons moet elkeen vir onsself dink en vra hoekom ons dit vier as ons geen opdrag van God gekry het nie. Moenie beïnvloed word deur die meerderheid mense nie, die meerderheid is selde reg. As jou eie verhouding met God vir jou ernstig is, neem dit dan ernstig op.
Amos 5:18-24 Wee die wat na die dag van die HERE verlang! Wat sal tog die dag van die HERE vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie. (19) Soos wanneer iemand vlug vir ‘n leeu, maar ‘n beer loop hom raak; of hy kom in die huis en leun met sy hand teen die muur, en ‘n slang byt hom! (20) Is die dag van die HERE nie duisternis en geen lig nie, ja, donkerheid sonder ‘n ligstraal? (21) Ek haat, Ek versmaad julle feeste en het geen welgevalle aan julle feestye nie. (22) Want al bring julle vir My brandoffers saam met julle spysoffers, Ek het daar geen welbehae in nie, en die dankoffer van julle vetgemaakte kalwers sien Ek nie met welgevalle aan nie. (23) Verwyder van My die geraas van jou liedere! En na die geluid van jou harpe wil Ek nie luister nie. (24) Maar laat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ‘n standhoudende stroom.
DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE