Banie Swanepoel:
Die tyd toe Moses met God ontmoet het op die berg Sinai, het dit so lank gevat dat die volk gedink het dat Moses nie weer terugkom nie. Die God wat hulle uit Egipte uitgelei het se stem was nou stil en hulle moes ‘n plan maak om Hom weer te kan hoor, want hulle is op pad na die beloofde land en het leiding nodig. Hulle ken nie die pad nie en het hulle God nodig.
Ons bevind ons in dieselfde situasie. Ons is op pad na die beloofde land (die Koninkryk van God) maar ons hoor nie God se stem nie en weet nie waar die pad is wat ons moet loop nie. Omdat ons nie onbepaald in die woestyn kan bly nie, moet ons leiding soek om ons die pad te wys wat ons moet loop.
Exodus 32:1-7 Toe die volk sien dat Moses vertoef om van die berg af te kom, het die volk rondom Aäron versamel en vir hom gesê: Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie. (2) En Aäron sê vir hulle: Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my. (3) Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring. (4) En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar ‘n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het. (5) Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor ‘n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die HERE. (6) En hulle het die ander dag vroeg klaargemaak en brandoffers geoffer en dankoffers aangebring; daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel. (7) Toe sê die HERE vir Moses: Gaan heen, klim af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel.
Aäron het ‘n “goeie plan” gemaak. Hy het gedoen wat hy gedink het reg was en wat vir hom sin gemaak het en al die mense was tevrede. Aäron was ‘n belangrike man en het baie gesag gehad. Wat was fout daarmee om ‘n beeld te maak en te sê dat dit die God verteenwoordig wat hulle uit Egipte uitgelei het? As ons vandag terugkyk na hulle, sien ons hoe dwaas hulle was om self te besluit wie en hoe God is, maar as ons na onsself kyk, sien ons nie dat ons presies dieselfde doen nie.
Ons besluit self wie God is en hoe God is en waarvan God hou en hoe Hy aanbid moet word. Inderwaarheid besluit ons nie self dit nie, maar iemand anders, of ‘n godsdienstige instansie, besluit vir ons en ons aanvaar dit sonder navraag en volg dit na, net soos met Aäron-hulle.
Wanneer daar ‘n belangrike mens met ‘n toga op ‘n preekstoel indrukwekkende woorde op ‘n oortuigende manier aanbied, glo ons hom. Ons vind nie self uit of dit wat hy van God sê die waarheid is nie; so baie mense glo hom dan, hoe kan hy verkeerd wees?, net soos die volk met Aäron.
Wat verbasend is, is dat ‘n massa mense net so in ‘n oogwink kan inval in ‘n nuwe gedagte wat een persoon uitgedink het en dit dan glo. Aäron het besluit dat YHWH nou deur ‘n goue kalf verteenwoordig gaan word en die massa het gelowig in sy evangelie geword. Jerobeam het besluit dat die volk nie meer Jerusalem toe hoef te gaan nie, maar dat hulle God sommer in Dan en Bet-el kan aanbid. Die meeste mense het daarby ingeval en “gelowig” geword.
1 Konings 12:28-32 Daarom het die koning raad gehou en twee goue kalwers gemaak en aan hulle gesê: Julle het lank genoeg opgegaan na Jerusalem—hier is, o Israel, jou gode wat jou uit Egipteland laat optrek het! (29) En die een het hy in Bet-el opgerig en die ander in Dan opgestel. (30) En hierdie saak het tot sonde geword; ja, die volk het voor die een gaan aanbid tot by Dan. (31) Hy het ook tempels van die hoogtes gebou en priesters aangestel uit al die dele van die volk wat nie uit die seuns van Levi was nie. (32) En Jeróbeam het ‘n fees gehou in die agtste maand, op die vyftiende dag van die maand, soos die fees wat in Juda was, en op die altaar geklim. So het hy in Bet-el gedoen en geoffer aan die kalwers wat hy gemaak het, en ook in Bet-el priesters aangestel vir die hoogtes wat hy gemaak het.
Die volk van Jeróbeam het gehoor wat die koning sê en daarmee saamgestem en dit het hulle geloof geword. Hoewel God gesê het dat daar net in Jerusalem geoffer mag word, het die koning anders besluit en die volk was tevrede om die koning gehoorsaam te wees en God ongehoorsaam. God was egter woedend. Israel het geglo dat God tevrede was en het volhard in hulle eie manier van aanbidding en die uiteinde was dat God hulle as ‘n volk verwerp het, sy verbond met hulle opgeskort het en hulle in ballingskap laat gaan het. Al was hulle opreg en goeie mense en gelowig en het gereeld en hard gebid, het Hy hulle verwerp.
En toe kom Konstantyn en hy verander die aanbidding wat Yahshua nagelaat het in ‘n godsdiens wat vir hom meer verstaanbaar is en beter werk. Daar was baie beter gewoontes en rituele in die Pagan godsdiens wat hy ingevoer het en hy het God aanbid op sy manier, net soos Jeróbeam. Die vraag is nou net wat God daarvan gedink het, soos met Jeróbeam? Soos met Jeróbeam was die mense tevrede met Konstantyn se godsdiens en het soos skape gevolg in sy dwaling.
Konstantyn se eie geloof is die oorspronklike oorsprong van die kerk (die Romeinse Kerk), want hy was die keiser van die Romeinse Ryk. Soos wat die Romeinse gode in tempels gebly het, so bly Konstantyn se god ook in ‘n gebou en hy noem dit die huis van god, hoewel God gesê het Hy bly nie in geboue wat met hande gemaak word nie, maar in die harte van sy kinders. Miljoene mense volg vandag nog Konstantyn in sy misleiding en is oortuig dat hulle God in Gees en in waarheid aanbid, maar net soos God Jeróbeam verwerp het, net so verwerp Hy Konstantyn se kerkgeloof.
Hoe word mense dan mislei? Só word mense mislei. Iemand slim of belangrik dink sy eie godsdiens uit en oortuig mense daarvan en hulle volg dit na sonder om navraag te doen. Hulle kinders word in daardie vals godsdiens gebore en volg dit dan na soos hulle ouers hulle geleer het.
Calvyn is ‘n geleerde en gerespekteerde Fransman en verklaar die evangelie van die Koninkryk van God soos hy dit verstaan en hoe dit vir hom sin maak. In die nuut gebore protestantse wêreld is ‘n groot behoefte vir ‘n alternatiewe godsdiens vir die Rooms Katolieke Kerk. Calvyn verander dit waarmee hy nie saamstem uit die Rooms Katolieke Kerk nie (hervorm die Rooms Katolieke Kerk) en dit word die Calvinistiese godsdiens wat soos ‘n veldbrand versprei en wat mense vandag nog met hulle lewe aanhang.
Calvyn se godsdiens is ‘n veranderde Rooms Katolieke Kerk evangelie, in plaas van ‘n evangelie wat slegs gebaseer is op die woorde van God. Hierdie godsdiens is waardeloos omdat dit nie die weg na saligheid verkondig nie.
Matthéüs 23:13-15 Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie. (14) Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ‘n swaarder oordeel ontvang. (15) Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self.
Die Rooms Katolieke Kerk en die Calvinistiese kerk word net uitgesonder as voorbeelde, maar so het elke kerk sy eie weergawe van waarheid is en verkondig dit ter wille van voordeel vir hulself. Mense glo sulke predikers, volg hulle na en hulle kinders volg in hulle voetspore… geslag na geslag. Niemand toets die waarheid van hulle eie kerk nie, want dit veroorsaak geweldige ongemak en ons hou van ‘n gemaksone.
Daar is net een weergawe van die waarheid, nie 50 000 nie. Daar is net een manier om Hom te aanbid en net een weg na saligheid en ons kan nie elkeen self besluit wat voel vir ons reg en wat maak ons gelukkig nie. Jeróbeam was baie gelukkig met sy manier van aanbidding en dit het vir hom reg gevoel, maar God het dit gehaat en hy het Jeróbeam verwerp en sy hele nageslag uitgeroei. Is Calvyn of enige ander kerk se weergawe van die evangelie genoeg?
Wat is die doel van ons geloof? Waarom dien ons God en wat probeer ons daardeur bereik?
1 Petrus 1:9 en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.
Is daar saligheid in die geloof vir die Rooms Katolieke Kerk? Is daar saligheid vir ons siele volgens die geloof van Calvyn wat baie net oorgeneem het? Is daar saligheid in die geloof van elkeen van ons individuele geloof? Ons geloof in die evangelie van die Koninkryk van God gee vir ons saligheid vir ons siele. As ons ‘n veranderde weergawe volgens Konstantyn, of een van sy ander makkers glo, sal ons nie gered word nie, maar verlore gaan. Ons moet in God glo, maar ons ken nie sy woorde om Hom te kan glo nie.
Markus 1:14-15 En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig (15) en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.
Joh 5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie My woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
Indien ons self besluit wat die evangelie is en dit verskil met die evangelie van Yahshua, is ons besig met die evangelie volgens Aäron en Jeróbeam. Aäron het hom bekeer van sy verkeerde weë, maar Jeróbeam het nie.
So, hoe word ons mislei?
Daar is 50 000 denominasies wat elkeen sy eie weergawe van die evangelie van die Koninryk van God verkondig, maar daar is net een regte evangelie. Meeste Christene word gebore in een van hierdie denominasies en word dan van kleins af geleer dat dít die regte kerk is wat die waarheid glo en verkondig en dat al die ander gelowe verkeerd is. Iemand wat gebore word in die Rooms Katolieke Kerk glo hulle is reg en die ander is verkeerd. Iemand wat gebore word in die Calvinistiese kerk glo hulle is reg en die ander is verkeerd. Iemand wat gebore was in die koninkryk van Jeróbeam het geglo hy is reg en die ander is verkeerd… Maar wie is dan reg, of is almal reg, of moet ons net ons bes doen en God se genade sal ons red?
Sommige mense dink dat dit ‘n tipe van ‘n kompetisie is van wie is reg en wie is verkeerd. Ek skree vir die groen span en jy vir die rooi span en ek verdedig my span, want dit is my mense en dit is waar ek vandaan kom. As my groen span die rugby verloor, is ek die volgende dag bietjie depressief, maar die lewe gaan aan en ons sal weer probeer, maar as jou groen kerk verloor en jy word veroordeel soos Jeróbeam, gaan die lewe nie net weer aan nie… Jy is vir ewig verlore.
Meeste mense is dus mislei en daarom waarsku God ons om ons tot Hom te bekeer. Omdat ons egter gelowig is en in ‘n kerk grootgeword het, dink ons dat ons nie bekering nodig het nie, want ons is bekeerd. Geen mens lewe homself in die Koninkryk van God in met lidmaatskap van ‘n kerk en ‘n goeie lewe nie.
Is ‘n redelike goeie lewe dan nie goed genoeg nie? Moet ek regtig al die moeite doen om God te leer ken en sy weë te leer ken en dan alles presies te doen soos wat Hy sê? Hoe kritiek is dit?
Matthéüs 24:10-11 En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. (11) En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.
Yahshua is die Goeie Herder en Hy alleen lei ons na die ewige lewe. Nou is daar mense wat ook leiding gee, maar hulle mislei. Hulle leiding lei nie na dieselfde plek as Yahshua se leiding nie, maar na die ewige dood.
Lukas 13:23-28 Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle: (24) Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie. (25) Wanneer die eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het, en julle begin buitekant te staan en aan die deur te klop en te sê: Here, Here, maak vir ons oop—sal Hy antwoord en vir julle sê: Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. (26) Dan sal julle begin sê: Ons het in u teenwoordigheid geëet en gedrink, en U het op ons strate geleer. (27) En Hy sal sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid! (28) Daar sal geween wees en gekners van die tande, wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die koninkryk van God sal sien, maar julle self uitgedryf buitentoe.
Pasop vir ‘n tweede misleiding:
Om bewus te word dat jy jou lewe lank ‘n nuttelose godsdiens nagevolg het en dan net weer ‘n ander nuttelose godsdiens te volg, is hartverskeurend.
Wat moet ons doen broeders?
Sodra iemand bewus word van die gevaar dat hy moontlik mislei is, moet hy self ondersoek instel na wat die waarheid is. Geen mens gaan dit vir jou doen nie, want die verandering moet in jou eie hart plaasvind. Jy het in ‘n organisasie, of ‘n oorlewering, of jou eie afleiding se evangelie, geglo. Dit moet nou ondersoek en uitgewys word as misleiding en as drek beskou word voordat jy dit met die waarheid van God se woord kan vervang. Ons moet eers ophou om ons eie oorlewering te beskerm alvorens ons dit met die waarheid kan vervang. Al hierdie verandering vind in ons hart plaas en daarom moet elkeen self ondersoek instel, self die waarheid soek en self die waarheid liefkry en dan toelaat dat God dit in jou hart saai. Dit is bekering.
Filippense 3:5-14 Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër; (6) wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik. (7) Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. (8) Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry (9) en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; (10) sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, (11) of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. (12) Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. (13) Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. (14) Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.
DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE