‘n Deugsame vrou. (27-04-2025)

Banie Swanepoel:

Génesis 2:18  Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.

Spreuke 31:10-11  Alef. Wie sal ‘n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale.  (11)  Bet. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie.

Vader het Adam geskape en gemerk dat Adam hulp nodig het. Hy het nie hulp nodig om hout te kap of ‘n beer te jag nie, maar Adam het ander hulp nodig. As Adam hulp nodig het om ‘n beer te jag, vra hy ‘n ander Adam, maar daar is hulp wat Adam nodig het wat net ‘n vrou mee kan help en dit is slegs die vrou met wie hy getroud is, wat hom kan help.

Om ‘n vrou te kry wat hom kan help is nie maklik nie, selfs al in Salomo se dae, want Hy vra: Wie sal ‘n deugsame vrou vind, want hulle is uiters skaars. Deugsaam beteken nie oulik en mooi nie, maar dit beteken dat sy deug vir die probleem wat Adam het. Hy het hulp nodig en sy deug as die oplossing van sy probleem en daarom is sy dan deugsaam.

Opsetlike sabotasie:

Vir die laaste vyftig, tot sestig jaar, was daar ‘n doelbewuste poging van die Satan om alle vrou deugniete te maak t.o.v. die mans. Dit wil sê, hulle deug nie as oplossings vir die hulp wat die man nodig het nie. Feminisme was doelbewus beplan met die doel om Adam se hulp weg te vat en dit was en is nog baie suksesvol. Die resultaat is dat beide die man en die vrou onvervuld en ongelukkig is.

Sestig tot sewentig jaar gelede al was vroue geleer, deur feminisme, dat hulle nie aan hulle mans onderdanig hoef te wees nie en dat hulle in alle aspekte aan hom gelyk is en dat hulle alles kan doen en bereik wat hy kan doen en bereik. Hierdie stelling klink selfs vir ‘n man reg, maar die gevolge hiervan is dat geen verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou meer vervulend is nie en dat dit lei tot geweldige spanning en onenigheid in die huwelik.

Feminisme verklaar dat mans en vrou presies dieselfde is, maar dit is nie die waarheid nie. Net soos wat hulle liggame ooglopend verskil, verskil  hulle vermoë , hulle begeertes en hulle innerlike vervulling. Dit waarna ‘n man streef, is nie waarna ‘n vrou streef nie. Dit wat ‘n man vervul,  verskil van dit wat ‘n vrou vervul.

Feminisme het opsetlik hierdie verskille verbloem en die vroue laat voel dat hulle minderwaardig is teenoor die mans en hulle is aangehits om in opstand te kom teen hulle eie begeerte, naamlik hulle eie innerlike vervulling. Vir die vrou het dit minderwaardig geword om ‘n vrou se rol te vervul en hulle was, en is, aangemoedig om die man se rol aan te neem en direk met hom te kompeteer.

Aanvanklik was vroue huiwerig en min van hulle het kans gesien om die tradisionele rol van die vrou te verlaat en die nuwe, sogenaamde, bevrydende rol van die korporatiewe vrou aan te neem, maar meeste vroue vandag is totaal oortuig dat dit die regte ding is om met die man te kompeteer in ‘n mans-wêreld.

Buiten dat die vrou nou in ‘n rol was waarvoor sy nie bekwaam was nie, en innerlik nie vervulling ervaar het nie, was die man nou sonder die hulp wat hy nodig het. Die tekortkominge wat God in Adam gesien het manifesteer nou in alle mans deur die hele wêreld, want daar is min deugsame vroue oor om die mans te help. Vroue is nie meer die hulp vir die man nie, maar het die kompetisie geword.

Dit mag dalk klink na ‘n beskuldiging teenoor die vroue, maar ons huidige vroue was opgevoed as onafhanklike sterk vroue wat hulle man moet kan staan en so ‘n vrou deug nie as hulp vir die man nie. Die hartseer is dat daar bykans geen deugsame vrou oor is wat weet hoe dit is om ‘n man se hulp te wees nie, want niemand het hulle geleer nie, maar hulle was geleer om met die man te kompeteer.

Sê ek dan dat die vrou ter wille van die man gemaak was? Ja, dit is nie ek wat dit sê nie, maar God wat dit sê: 1 Korinthiërs 11:8-9  Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man.  (9)  Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man.

Is die vrou dan minder werd as die man? Nee, beslis nie, maar sy het ‘n ander rol om te speel in hierdie lewe. Aan die einde van hierdie lewe is daar nie meer man of vrou nie. Ons sal soos die engele wees, maar in hierdie lewe is daar sommige van ons wat mans is en ander wat vroue is. Wie mans is en wie vroue is word slegs deur God bepaal en ons kan self besluit of ons met sy besluit tevrede is en of ons daarteen rebelleer.

‘n Vrou wat daarmee tevrede is dat God haar as ‘n vrou geskape het, behoort dan gehoorsaam te wees aan haar vroulike rol en aan haar man onderdanig te wees en vir hom ‘n hulp te wees.

Die ironie is dat daar geen verheerliking daarin is om ‘n man te wees in plaas van ‘n vrou nie, maar dit word net so aan ons aangebied deur die wêreldheersers, sodat ‘n vrou moet dink sy word ingedoen. Mans se lewens is nie noodwendig makliker en lekkerder as ‘n vrou se lewe nie.

Mans is geskape met ‘n sekere doel en is deur God bekwaam gemaak om hierdie mans-dinge te kan doen en vrou is geskape om vroue dinge te kan doen. ‘n Hamer is as ‘n  hamer gemaak en kan hamerwerk doen. ‘n Byl is as ‘n byl gemaak en kan bylwerk doen. Hulle is in baie opsigte dieselfde, maar tog baie verskillend.

Hamers kan spykers in hout in slaan en met die byl se agterkant kan jy ook spykers in hout inslaan. Die byl is egter nie so effektief soos ‘n hamer nie, maar as jy die byl moet gebruik om spykers te slaan, kan jy. Byle kan egter ook hout kloof, maar hamers kan nie hout kloof nie. Mans is soos die hamer en vroue is soos die byl. Vroue kan met moeite in ‘n mans-wêreld oorleef, maar mans kan glad nie in ‘n vroue wêreld enige bydrae lewer nie. As ‘n vrou minderwaardig teenoor ‘n man voel, moenie, jy is baie begaafd vir dit waarvoor God jou gemaak het.

Terug na die oorspronklike doel van die skepping van die vrou, naamlik om vir die man ‘n hulp te wees. Die man se probleem was so groot dat God spesiaal ‘n ander tipe mens gemaak het om hom te help en nou is meeste mans hulpeloos omdat die meeste deugsame vroue weg is.

Omdat die vrou bekwaam gemaak is om die man se hulp te wees, is dit nie vir haar moeite om dit te doen nie en sy wonder ook nie hoe om dit te doen nie, want sy is so gemaak. Die feministe het egter vroue van ‘n baie jong ouderdom af opsetlik geleer om nie ‘n hulp vir ‘n man te wees nie, maar om met hom te kompeteer.  

Nou lewe ons al reeds twee tot drie geslagte verder in die feministiese plan en die resultaat is ongelukkige huwelike wat meestal uitloop op egskeiding. Ten spyte daarvan dat jongmense weet hulle gaan ook swaar tye beleef in ‘n huwelik, trou hulle nog steeds. Hoekom? Omdat daar ‘n aantrekking tussen ‘n man en ‘n vrou is, in die wete dat hulle by mekaar hoort.

Wat ‘n tragiese situasie. Twee mense word lief vir mekaar, trou, vind die verhouding onuithoudbaar en skei dan weer, die een na die ander. Hoekom gebeur dit en hoekom hou ons aan met dit? Is dit dan nie beter om liewer alleen te bly nie?

Alleen is ook nie ‘n oplossing nie, want dit is ook ‘n baie onaangename situasie en daarom probeer mense alternatiewe maniere van               saambly-verhoudings, wat ook net tot groot hartseer lei. Wat is dan die antwoord, of is huweliksverhoudings maar net ‘n mislukte poging van Vader se skepping?

Die antwoord is om dit te doen soos wat die Skepper van die mens dit gemaak het, maar daar is geweldige weerstand van die koninkryk van hierdie wêreld af vir enige persoon wat dit voorstel, of uitleef. ‘n Vrou wat haar onder die gesag van haar man stel, word juis deur ander vroue verkleineer en haar eie ma is soms die eerste om haar anders te probeer oortuig.

Haar ma se vrees is dat haar dogter mishandel of in die steek gelaat sal word en daarom leer sy haar dogter om nie op ‘n man te vertrou nie en nie van hom afhanklik te wees nie. Dit is ongelukkig ook so dat die ma’s gewoonlik reg is, maar nou sit ons met hierdie verhouding-situasie wat nie reggestel kan kan word nie.

Waarom neem die man dan nie die inisiatief om die herstel te begin nie, hy is dan tog die hoof van die huis? Dit is ‘n geregverdigde vraag, maar die probleem is, hy kan nie. Hy het nie die vermoë nie. Hy is juis die een wat die hulp nodig het en daarom van die vrou afhanklik is. Die hulp wat die vrou hom moet verskaf, is wat hy nodig het om die hoof van huis te kan wees. Sy vrou moet die pilare in hom bou waarop hy moet staan om te kan heers, maar as sy dit afbreek, kan hy nooit heers nie en as hy nie heers nie, sal sy nie onderdanig kan wees nie en dan is niemand gelukkig nie.

Hoe meer die vrou die tekortkominge (die man het ‘n hulp nodig) van die man kan aanvul en uitbou, hoe meer sal hy in die lewe triomfeer en hoe hoër sal sy hom kan laat uitstyg en hoe makliker sal sy aan hom onderdanig kan wees en hoe hoër styg sy saam met hom uit. Die fatale probleem is as sy bo hom uitstyg, dan tuimel sy wêreld in duie en as sy wêreld in duie stort, stort haar wêreld daarmee saam in duie.

Die vrou mag dalk nou voel dat sy haar hele lewe moet opoffer ter wille van haar man, maar haar innerlike vervulling is juis daarin om ‘n hulp vir haar man te wees. Vader het ‘n vrou gemaak om onder haar man se gesag te wíl wees. Hoewel feminisme vir ‘n vrou leer dat sy onafhanklik wil wees, is ‘n vrou se begeerte in haar hart om van haar man afhanklik te wil wees. Sy wil deur hom versorg en beskerm word, maar weet dit nie, omdat haar gedagtes besoedel is.

‘n Vrou wil opsien na haar man en hom eer, maar feminisme het vroue oortuig dat dit minderwaardig is om dit te doen. Wanneer ‘n vrou opsien na haar man en hom ondersteun in sy besluite, motiveer dit hom geweldig in dit wat hy doen omdat hy haar wil beïndruk. Die oomblik wat sy hom egter kritiseer en fout vind met wat hy doen, verdwyn sy motivering en gebeur die teenoorgestelde as wat die vrou probeer bereik het.

Efésiërs 5:33  In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.

Wanneer die vrou die man eer, verander die man in ‘n persoon wat enige iets vir sy vrou sal doen, maar die oomblik wat sy hom nie eer in dit wat hy doen nie, verdwyn sy manlikheid en kan hy nie die man wees wat sy wil hê hy moet wees nie; ‘n man waarna sy kan opsien. Wanneer die vrou hom ondersteun in alles wat hy doen, eer sy hom. Wanneer sy hom prys by haar ouers en hulle vriende, eer sy hom. Wanneer hy opreg probeer om iets te doen, waarin hy nie noodwendig goed is nie en sy sien dit raak en prys hom daarvoor, eer sy hom. Wanneer sy hom by hulle kinders voorstel as die beste pa, eer sy hom. Wanneer sy hom op hierdie  manier eer, sal hy net meer aandag aan aan hulle verhouding gee en alles in sy vermoë doen om haar nie teleur te stel nie.

Daar word gesê: Gelukkige vrou, gelukkige lewe, maar dit is verkeerd. Dit is gelukkige man, gelukkige lewe. Wanneer die man alles doen om die vrou tevrede te stel, kan die vrou nie opsien na hom nie, want sy is hoër as hy, want hy doen alles om haar tevrede te maak. As sy hom egter eer en hom onderdanig is, sal hy vanself uitstyg en sy sal na hom kan opkyk as haar leier en dit sal haar gelukkig maak, want sy het dan ‘n man wat sy kan ondersteun en volg.

Efésiërs 5:22-24  Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.  (23)  Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.  (24)  Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.

Onderdanig is nie ‘n moeilike woord om te verstaan nie. Dit beteken nie gelyk in die huwelik nie, maar die een is aan die ander een onderdanig. Die gemeente is nie gelyk aan Christus nie en die vrou is nie gelyk aan die man nie. Die gemeente het geen begeerte om aan Christus gelyk te wees nie, want dan is hulle God aan hulle gelyk en watter tipe God is dit? Hoe kan die vrou opsien na ‘n man wat aan haar gelyk is?

Wanneer ‘n vrou vir ‘n baas werk is sy hom onderdanig, want hy is die baas, maar wanneer sy by haar man kom is die betekenis van onderdanig skielik anders. Sy sal nie vir haar baas voorskryf wat om te doen nie en sy sal ook nie met hom raas as sy kantoor deurmekaar is nie. Sy sal hom nie kritiseer in sy optrede nie en sy sal hom nie teëgaan in sy besluite nie, want sy is hom onderdanig. Presies dieselfde geld vir haar man.

Wanneer ‘n man sien dat sy vrou onvoorwaardelik onderdanig aan hom is, tree hy baie verantwoordelik op, omdat hy dan alleen verantwoordelik is. As sy egter aan hom gelyk is, sien hy haar as mede-verantwoordelik en sy manlikheid in die verhouding word geneutraliseer.

Indien ‘n vrou haar man net één keer kritiseer, kan daardie een keer hulle verhouding vir jare negatief beïnvloed. ‘n Vrou wat haar man gereeld kritiseer sê indirek vir hom dat hy nie goed genoeg is nie en daardeur eer sy hom nie en sy vermoë om manlik teenoor haar op te tree in die verhouding, verdwyn.

‘n Ma is uiters versigtig wat sy vir haar kinders sê om nie skade in hulle opvoeding te veroorsaak nie, maar sy neem aan dat haar man sterk is en nie beïnvloed sal word deur kritiek nie, dit is ‘n groot fout. ‘n Opregte vrou se kritiek staan ten doel om ‘n man se verkeerde optrede te korrigeer, maar sy bereik die teenoorgestelde deurdat kritiek altyd ‘n uiters negatiewe reaksie by hom gaan veroorsaak. ‘n Vrou het egter die vermoë om met vroulikheid ‘n man se verkeerde optrede te korrigeer, sonder dat hy negatief daarteen sal reageer. ‘n Man kom voor asof sy vrou se woorde min invloed op hom het, maar intussen is hy uiters sensitief vir haar woorde en dit het ‘n geweldige invloed op hom.

‘n Vrou moet aan haar eie man onderdanig wees ter wille van haar verhouding met hom. Die oomblik wat sy ‘n ander persoon se gesag bo haar eie man se gesag aanvaar, is hulle verhouding se wind uit, al is dit haar eie pa. Sy mag ter wille van hulle verhouding onder geen ander man se gesag staan nie.

Sy mag ook met geen ander man ‘n vriendskapsverhouding sonder haar man teenwoordig hê nie, nie eers op sosiale media nie, dit haal die ook die wind uit hulle verhouding uit.

‘n Man is manlik as hy ‘n vroulike vrou het wat net aan hom onderdanig is en net sy goedkeuring wil hê. ‘n Manlike man wat in so ‘n verhouding met sy vroulike vrou staan, is onkeerbaar. ‘n Vrou mag nie haar man jaloers maak op ander mans deur haar vriendelike houding teenoor hulle nie, maar moet ander mans jaloers maak op haar man, deur haar verhouding met hom.

Indien ‘n vrou beleef dat haar eie vermoë baie beter as haar man se vermoë  is, is sy in groot gevaar om hulle verhouding te laat misluk. Die oomblik wat sy bo hom uitstyg, is hulle huweliksverhouding verby. Hy is nie meer die manlike persoon in die verhouding nie en sy is nie meer die vroulike persoon in die verhouding nie.

Wat staan haar dan te doen as sy sien haar vermoë is beter as haar man se vermoë? Sy moet besef dat haar man se vermoë haar plafon is en sy mag ter wille van haar eie geluk, in die verhouding, nie by hom verby groei nie. Wat sy egter kan doen is om haar man se vermoë te verhoog op ‘n baie versigtige vroulike manier, sonder dat hy dit agterkom. Hoe hoër hy gaan, hoe hoër kan sy gaan.

Wat gebeur as ‘n man ‘n deugniet is en sy vrou is onderdanig aan hom en eer hom, maar hy bly ‘n swakkeling in die verhouding? Eerstens moes sy dan nie met hom getrou het nie, en tweedens, as sy wel met hom getrou het, volhard in haar getrouheid as ‘n deugsame vrou en Vader sal haar eer.

Efésiërs 6:5-8  Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus;  (6)  nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen  (7)  en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie,  (8)  omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy ‘n slaaf is of ‘n vryman.

1 Petrus 2:18-23  Diensknegte, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is.  (19)  Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly.  (20)  Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly—dit is genade by God.  (21)  Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg;  (22)  Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie;  (23)  wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel;

‘n Vrou se magtigste wapen in die huwelik is haar vroulikheid en haar mees vernietigende optrede is om met haar man te kompeteer vir gesag. Vroulikheid en onderdanigheid is tot haar eie voordeel.

Spreuke 31:10-12  Alef. Wie sal ‘n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale.  (11)  Bet. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie.  (12)  Gimel. Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.

DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE

SPREUKE 31: 10 – 31  Wie sal ‘n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie. Gimel. Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.  Sy sorg vir wol en vlas, en sy werk met gewillige hande.  Sy is soos die skepe van ‘n handelaar—van ver af bring sy haar brood in.  En sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisies. Sy dink na oor ‘n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy ‘n wingerd. Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig. Sy voel dat haar wins goed is, in die nag gaan haar lamp nie dood nie. Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas. Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige. Sy is nie bevrees vir haar huisgesin vanweë die sneeu nie, want haar hele huisgesin dra skarlaken stof. Sy maak vir haarself dekens, haar tabberd is van fyn linne en purper. Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit. Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaars. Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom. Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong. Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie. Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar: Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal. Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; ‘n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word. Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poorte.