Die gedagte aan die hel is vir ons so vreesaanjaend dat ons die onderwerp eerder vermy, aanpas of selfs beweer dat daar nie ‘n hel bestaan nie. Volgens die Bybel is dit die ergste plek waar ‘n mens hom kan bevind en wanneer iemand daar sou beland, is dit vir ‘n ewigheid lank.
Waarom is daar ‘n hel en hoekom het ‘n God van liefde so ‘n verskriklike plek gemaak? Om te ontken dat daar ‘n hel is, sal nie die bestaan daarvan verander nie, maar net veroorsaak dat ons die onderwerp nie ondersoek nie en wel daar beland. Die wyser besluit is om te aanvaar dat daar wel ‘n hel is, omdat die Skepper so gesê het en dan te probeer uitvind of daar nie dalk ‘n alternatiewe uitkoms vir ons moontlik is nie.
Volgens die Bybel is die hel die uiteindelike bestemming van alle lewende wesens wat teen die Almagtige Skepper oortree het. Die hel was nie oorspronklik gemaak vir die mens nie, maar vir die Satan en sy engele. Ongelukkig het die Satan die mens ook mislei, om net soos hy, te sondig, en van daardie dag af is die hel ook die mens se eindbestemming.
Romeine 6:23 Want die loon van die sonde is die dood,
Wat is die hel?
Die hel is ‘n plek waar God se goedheid nie is nie. God is die bron van alles wat goed is en buite Hom is daar geen goedheid nie. In die hel is daar is niks wat goed is nie. Al wat daar bestaan, is alles wat die teenoorgestelde is van wat goed is.
God is geregtigheid en in die hel is geen geregtigheid nie, maar alles wat daar gebeur is vir die persone wat daar is, onreg. Hulle word geweldig tenagekom, maar niemand gee hulle reg nie en niemand gee om nie, want daar is geen geregtigheid nie. Tans op die aarde voel ons ook soms of ons geen reg kry nie, maar in die hel is daar 0% reg.
God is ontferming, maar in die hel ontferm niemand hom oor iemand nie en niemand vind ontferming van enige aard nie. Almal roep uit na hulp, maar niemand word gehelp nie.
Hy is liefde, maar in die hel is daar geen liefde nie. Daar is geen: 1 Korinthiërs 13:4-7 Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, (5) handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, (6) is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. (7) Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
As die hel dan nie van ewigheid af daar was nie, waarom het God dit dan gemaak? Matthéüs 25:41 Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.
Nadat die Satan homself verhoog het om aan die Allerhoogste gelyk te probeer wees, het God die hel berei vir die Satan en sy misleide engele wat saam met hom in opstand gekom het teen die gesag van die Almagtige. Die hel word deur God beskryf as ‘n poel van vuur waar die Satan en sy engele die ewigheid gaan deurbring. Dit is hulle gevangenis, sodat hulle nooit weer deel kan hê aan enige ander deel van sy heerskappy nie.
Is daar ‘n verskil tussen die hel en die doderyk?
Die doderyk is ‘n plek van afwagting (aanhouding) voordat iemand geoordeel gaan word. Dit is soos iemand wat in die polisieselle aangehou word voordat hulle in die hof verskyn en indien hulle dan skuldig bevind word, gaan hulle nie terug na die polisieselle toe nie, maar na die tronk toe om hulle vonnis uit te leef.
Die doderyk is waar mense heen gaan sodra hulle sterf. Psalm 89:49 Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel sal kan red uit die mag van die doderyk? Sela
Volgens die Bybel is die doderyk onder in die aarde. Númeri 16:30-33 Maar as die HERE iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle verslind met alles wat aan hulle behoort, en hulle lewendig na die doderyk afdaal, dan sal julle weet dat hierdie manne die HERE verag het. (31) En toe hy al hierdie woorde klaar gespreek het, skeur die grond wat onder hulle was, (32) en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed. (33) So het hulle dan met alles wat hulle s’n was, lewendig na die doderyk afgedaal; en die aarde het hulle oordek, en hulle het omgekom uit die vergadering.
Die Duiwel is nie nou reeds in die doderyk nie, maar wanneer Yahshua terugkom, gaan hy gebind word en in die doderyk gevange gehou word vir die duisend jaar. Hy het sy toegang tot die hemele verloor nadat hy oorlog gemaak het in die hemel, nadat Yahshua opgevaar het.
Openbaring 12:5-12 En sy het ‘n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. (6) En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ‘n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend twee honderd en sestig dae lank. (7) En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; (8) en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. (9) En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.
Sy toegang is nou beperk tot die aarde, maar hierdie toegang eindig ook met die wederkoms van Yahshua wanneer hy gebind gaan word en in die doderyk gevange gehou gaan word, ‘n duisend jaar lank.
Openbaring 20:1-3 En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand. (2) En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, (3) en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie.
Jesaja 14:9-14 Die doderyk daaronder is in beroering om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit wek om jou ontwil die skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die konings van die nasies van hulle trone opstaan. (10) Hulle hef almal aan en sê vir jou: Ook jy het kragteloos geword soos ons; jy het soos ons geword. (11) Jou trots is neergewerp in die doderyk, die geruis van jou harpe; onder jou is wurms as ‘n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking. (12) Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! (13) En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. (14) Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!
Yahshua vertel aan sy dissipels van Abraham wat ook in die doderyk is, hoewel Hy ‘n vriend van God is. Abraham is nie dood nie, want Yahshua sê dat Hy nie ‘n God van dooies is nie, maar van lewendes. Abraham het gelewe in die tyd wat Yahshua op die aarde was. Hy het in die doderyk gelewe.
Lukas 16:22-26 En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. (23) En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. (24) En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam. (25) Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. (26) En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.
Abraham is egter nie meer in die doderyk nie, maar almal wat in God geglo het is deur hulle geloof geregverdig en daarom het Yahshua hulle uit die doderyk gaan red omdat Hy die prys vir hulle sonde betaal het. Sonde het hulle in die doderyk laat beland, maar Yahshua se betaling, met sy lewe, in hulle plek, het hulle van die doderyk en ook die hel gered. Hulle word nie meer aangehou omdat hulle aangekla is van oortreding nie, en sal nie meer in die hof voor die Almagtige Regter verskyn nie, want hulle is nou sondeloos. Hulle sonde het op Hom gegaan en Hy het daarvoor geboet.
Efésiërs 4:8-9 Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. (9) Maar dít: Hy het opgevaar—wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde?
Al hierdie mense wat aan die God van Abraham glo, en sterf, gaan nie meer doderyk toe nie omdat hulle sonde wat hulle in die doderyk sal hou, weg is. Dit is op Yahshua. Wanneer hulle sterf is hulle saam met Hom in die Paradys.
Lukas 23:42-43 En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. (43) En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.
Ongelukkig dink meeste mense dat hulle ‘n verbond met die doderyk kan maak om daarvan te ontvlug sonder om die pad te loop wat Yahshua gemaak het, naamlik wedergeboorte. Baie geestelike organisasies het hulle eie weg na saligheid uitgedink en verkondig dit nou as die evangelie van die koninkryk van God. Ons kan nie self besluit wat die weg na saligheid is nie. Ons kan nie vir onsself ‘n paar morele wette maak en daarvolgens lewe en dink dit sal ons eindbestemming na die hel verander nie.
Jesaja 28:12-15 Hy wat aan hulle gesê het: Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie. (13) Daarom sal die woord van die HERE vir hulle wees gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie, sodat hulle kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word. (14) Daarom, hoor die woord van die HERE, julle spotters, heersers oor hierdie volk wat in Jerusalem is! (15) Omdat julle sê: Ons het ‘n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk het ons ‘n verdrag aangegaan; as die golwende gésel deurtrek, sal hy na ons nie kom nie; want ons het die leuen ons skuilplek gemaak en ons in bedrog weggesteek—17 En Ek sal die reg tot ‘n riglyn maak, en die geregtigheid tot ‘n skietlood; en die hael sal die leuendak wegruk en die water die skuilplek wegspoel. (18) En julle verbond met die dood sal uitgewis word, en julle verdrag met die doderyk nie standhou nie; as die golwende gésel deurtrek, sal julle deur hom vertrap word. (19) So dikwels as hy deurtrek, sal hy julle gryp; want môre vir môre sal hy deurtrek, by dag en by nag. En dit sal net verskrikking wees om so ‘n openbaring te verneem.
Nadat Yahshua vir duisend jaar regeer het, sal die Duiwel veroordeel word en in die hel (die poel van vuur) gewerp word en daar sal hy en al sy engele wees tot in alle ewigheid. Die hartseer is dat die meeste mense wat teen Yahshua gesondig het ook veroordeel gaan word. Die enigste mense wat nie veroordeel gaan word nie, is hulle wat teen Yahshua gesondig het, maar hulle sonde is vergewe.
Romeine 6:7-9 Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. (8) As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, (9) omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie.
Daar is net een manier om saam met Christus te sterf en dit is om ons te laat doop in sy Naam. Enige ander verbond met die dood, sal die dood veroorsaak.
Romeine 6:3-6 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? (4) Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. (5) Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; (6) aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.
Na die duisend jaar regering van Yahshua sal die grafte oopgaan en ook die see sal sy dooies gee en almal sal voor die Ewige Regter verskyn en geoordeel word volgens hulle werke.
Openbaring 20:10-15 En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid. (11) En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. (12) En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. (13) En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. (14) En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. (15) En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.
Daar is vir ons ‘n weg na saligheid, maar dit is nie op ons eie manier wat vir ons reg klink, of reg voel nie. Dit is ook nie deur die oorlewering van die ou mense nie, maar slegs deur die weg wat Yahshua vir ons gemaak het.
Johannes 19:30 En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.
Romeine 8:8-18 En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; (9) julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. (10) Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid. (11) En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. (12) Daarom dan, broeders, is ons skuldenaars, nie aan die vlees om na die vlees te lewe nie; (13) want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe. (14) Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. (15) Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! (16) Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; (17) en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. (18) Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.
DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE