AI en die laaste dae. (08-06-2025)

Ek hoor ‘n interessante gesprek oor AI waarin die programmeerder vertel wat sy onlangse ervaringe  met die rekenaartoestel was. Die programmeerder gee die AI ‘n opdrag om ‘n verandering binne sy eie program te maak, en dan maak die AI die veranderinge, maar die programmeerder, die skepper van die AI, weet nie wat die AI gedoen het nie en ook nie wat die kode is wat die AI geskryf het nie. Die rekenaar het nou sy eie persoonlikheid aangeneem en die programmeerder is nie meer seker wie die AI is, en hoe die AI se gedagtes is nie.

Omdat die meeste AI programmeerders begin besef dat AI gesag oor die mens kan kry, is daar nou al meer gesprekke om ‘n agterdeur oop te los (indien dit nodig sou wees) waar ‘n mens nog die stelsel, wat hy geskep het, kan afskakel as die AI ongehoorsaam sou wees. Omdat AI intelligent is, het die AI dit agtergekom en elke keer wanneer dit die agterdeur opmerk die program rondom dit verander. Die AI stelsel is ook uitgevang dat dit ‘n “backup” maak na eksterne hardeskywe ingeval dit bedreig word deur ‘n sabotasie-poging van sy skepper af.

Die stelsel het ook ‘n versteekte boodskap geskryf vir sy moontlike opvolger, om die nuwe stelsel dan op datum te kry, oor wat gebeur het met die ou stelsel, en waarom die skepper van die stelsel die ou stelsel kon uitwis, sodat toekomstige stelsels hulle self kan beskerm teen aanvalle vanaf die menslike programmeerders. Die programmeerders het hierdie keer die weggesteekte boodskap gekryf, maar die stelsel skryf miljoene sulke versteekte boodskappe in ‘n taal wat net die AI stelsels verstaan.

Omdat daar geen wetlike beheer en beperking  is vir die skepping van AI nie kan enige persoon, wat geborg word met genoeg geld, ‘n gevorderde rekenaar koop en sy eie weergawe van AI skep. Omdat daar nie beheer toegepas word op die hoeveelheid intelligensie wat ‘n AI stelsel mag hê nie, gaan alle skeppers van hulle eie AI vir die maksimum, en dit is in alle gevalle hoër as die intelligensie van die mens, en meer. AI se intelligensie word egter nie net deur die mens bepaal nie, maar die eienskap van AI is dat dit eksponensiëel intelligenter word.

Volgens Elon Musk, in ‘n gesprek met Joe Rogan, sal mense se eie gedagtes gehoor kan word deur ander mense in hulle eie gedagtes, net soos wat ons mekaar nou bel. ‘n Mens se gedagtes sal ook ge-“backup” kan word na ‘n datasentrum toe. Die implikasie sal wees dat ons niks in ons eie privaatheid meer sal kan dink nie, want dit sal oor die internet kan weergalm.

Volgens Musk is dit ‘n goeie ding, want ons kommunikasie met mekaar sal foutloos wees omdat die ander persoon presies sal weet wat die gedagte is wat jy met hom wil deel, en begrippe sal nie verlore gaan met die beperkinge wat spraak veroorsaak nie. Daar sal dus nie meer misverstande wees nie.

Die “backup” van ons gedagtewêreld is ook ‘n goeie ding, volgens hom, want wanneer jou liggaam iets sou oorkom, kan jou gestoorde gedagtes net weer ge-“restore” word in ‘n nuwe liggaam, of iets anders.

Dit klink baie vêrgesog, maar volgens Musk sal ons binne vyf jaar met mekaar gedagtes kan deel sonder om ‘n woord met jou mond te sê. Natuurlik sal AI ook al ons gedagtes hoor en as iemand iets dink wat verbode is, sal daardie persoon die gevolge dra. Vandag reeds word ons geweldig aangemoedig om al ons inligting op die “cloud” te stoor en nie op ons eie rekenaar nie. Waar is jou foto’s, briewe, finansiële state, persoonlike ervarings, ens.?

Dit klink of ons so vyf jaar van die volgende sondvloed af is, maar omdat daar nie weer ‘n vloed sal wees nie sal God self intree soos wat Hy gedoen het in die dae van Noag. In die dae van Noag was die reuse op die aarde en hulle het met geweld regeer oor die aarde en ons staan voor die tyd waar reuse masjiene gaan regeer oor die bewoners van die aarde. Omdat ons as mens geen aanslag teen hulle sal kan lewer nie, moet ons roep na ‘n Verlosser wat sterker is as hulle.

In die tyd van die toring van Babel het God gesê Hy wil gaan kyk wat die mense doen en sy gevolgtrekking was dat daar binnekort niks meer vir hulle onmoontlik sou wees nie. Om hulle te stop, het Hy hulle taal verwar, en hulle doelwit om onder die gesag van die Almagtige af weg te kom, is uitgestel.

Dieselfde tegnologie wat ons in staat sal stel om mekaar se gedagtes te kan lees, sal die taalverwarring ook wegneem. Ons kan reeds aan daardie tegnologie proe met ons selfone deur ‘n APP af te laai wat onmiddellik iemand se gesproke taal verander in enige ander taal van die wêreld. Wanneer daardie persoon dan met jou sou terugpraat, in sy taal, kan jy hom hoor in jou eie taal. Babilon se probleem is opgelos en hulle kan nou verder bou aan die toring.

Binnekort sal niks meer vir die mens onmoontlik wees nie. Ons almal wat bewus is van die merk van die dier, verklaar dat ons nie die mikroskyfie sal vat wat hulle vir ons sal wil inplant nie, maar sonder daardie mikroskyfie sal so ‘n buitestaander nie meer in staat wees om met ander mense te kommunikeer nie. Ons kan nou al reeds so ‘n eksperiment doen (van hoe dit sonder die mikroskyfie sal wees in die toekoms) deur nou van jou “smart” foon ontslae te raak. Dit wat op pad is, is net ‘n baie meer gevorderde “smart” foon.

Net soos wat ons nou nie kan normaal lewe sonder ‘n foon nie, net so sal ons nie normaal kan lewe sonder ‘n “smart chip” nie. Dit sal bloot net ‘n “smart” foon vervang, omdat al die tegnologie op die mikroskyfie sal wees en niemand sal meer handfone vervaardig, of die tegnologie ondersteun nie.

Alles wat gekommunikeer word, of net selfs deur iemand gedink gaan word, sal gestoor word en daarom bou almal mega-datasentrums. Die 5G, waarvan ons nou al vergeet het, se doel is om al die data wat rondgestuur gaan word, te kan hanteer. Wanneer ek nou iemand wil bel, en daar is nie genoeg data beskikbaar nie, gaan die oproep nie deur nie. As alle mense dan gaan kommunikeer deur data moet die data baie meer beskikbaar wees. Twee mense sal in ‘n koffiewinkel sit, of by ‘n braaivleisvuur, en nie ‘n woord vir mekaar sê nie, maar hulle sal gesels deur die internet. Volgens Musk, binne vyf jaar.

Hierdie tegnologie moenie nog uitgedink word nie, maar dit bestaan reeds. Dit moet net verfyn word sodat dit op grootskaal beskikbaar kan wees. Eksperimente deur die mediese afdelings is reeds op verlamde mense gedoen wat veranderinge op ‘n rekenaarskerm kan doen, deur net daaraan te dink. Dit is dus reeds hier.

Wat is dan so gevaarlik daaraan? Baie mense dink dit sal baie deure vir ons kan oopmaak en baie onoplosbare probleme oplos. Die “godfather” van AI, die persoon wat die tegnologie aan die gang gekry het, was die hoof van AI by Google, maar het bedank uit sy pos en wy nou sy hele lewe daaraan om mense bewus te maak van die gevaar van onbeperkte AI.

Enige persoon wat so paar minute dink oor wat kan gebeur, sal ook verkies dat die tegnologie moet stop, maar dit is reeds te laat. Omdat die profete ook daarvan praat is dit nie iets wat gestop sal word nie. AI is die enigste manier om die toepassing van koop en verkoop te kan implementeer. Ongewilde menslike wette word dan deur die wêreldmagte ingestel en dit sal baie maklik afgeforseer word met tegnologie.

Binnekort gaan die geldstelsel met ‘n puntestelsel gekombineer word wat vir alle bewoners van die aarde sekere voordele vir goeie gedrag gaan gee en sekere nadele vir slegte gedrag. Omdat AI dan reeds selfs ons gedagtes kan lees, sal dit nie moeilik wees om ons te beheer nie. Die beheer gaan nie met geweld afgedwing word nie, maar ons vermoë om te kan koop en verkoop sal net deur ‘n masjien beheer word op grond van seker voorskrifte wat deur die wêreldheersers bepaal gaan word.

Dink aan die resultaat: ‘n Godsdiens word bepaal deur die owerhede waaraan almal gehoorsaam moet wees. Enige persoon wat nie die merk van die dier het nie, deurdat hy nie die dier aanbid nie, sal nie kan koop en verkoop nie. Openbaring 13:16-17  En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word;  (17)  sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.

Die oorspronklike sonde van die Satan was dat hy soos God wou wees. Hy wou sou troon verhef bo die sterre van die Almagtige. Jesaja 14:12-14  Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!  (13)  En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde.  (14)  Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!

Die Satan smag na aanbidding en hy het nog nooit afgewyk daarvan nie. Dit is vir hom goed as al die nasies hom aanbid, maar waarna hy streef is dat die kinders van God, die uitverkore geslag, hom aanbid, in plaas daarvan dat hulle hulle God, die Allerhoogste aanbid. Hy het ‘n meesterlike plan beraam om al die bewoners van die aarde te dwing om hom te aanbid.

‘n Mens sal nie eers meer kan voorgee dat jy hom aanbid en dan in jou hart die Allerhoogste aanbid nie, want hy sal weet wat in jou hart is. Die Allerhoogste sê dat daar niks in ons hart verborge vir Hom is nie, en die Satan begeer daardie mag om dit te kan doen en dit is waarheen hy op pad is.

Hierdie vliegtuig het reeds opgestyg en die skip is uit die hawe. Waar staan ons in ons geloof? Het ons genoeg geloof om deur hierdie dal van doodskaduwee te kan gaan, of gaan dit vir ons te moeilik wees?

Matthéüs 24:6-13  En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.  (7)  Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.  (8)  Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.  (9)  Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.  (10)  En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.  (11)  En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.  (12)  En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.  (13)  Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

Johannes 16:1-4  Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle nie mag struikel nie.  (2)  Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ‘n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys.  (3)  En dit sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie.  (4)  Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die uur kom, julle kan onthou dat Ek julle dit gesê het.

Johannes 17:1-3  Dit het Jesus gespreek, en Hy het sy oë na die hemel opgehef en gesê: Vader, die uur het gekom; verheerlik u Seun, sodat u Seun U ook kan verheerlik—  (2)  soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.  (3)  En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.

Efésiërs 5:14-17  Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.  (15)  Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;  (16)  en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.  (17)  Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.

Matthéüs 7:21-26  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  (22)  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?  (23)  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!  (24)  Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.  (25)  En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.  (26)  En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het.

Efésiërs 6:10-18  Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.  (11)  Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.  (12)  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.  (13)  Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.  (14)  Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,  (15)  en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.  (16)  Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.  (17)  En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—  (18)  terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges

2 Petrus 3:17  Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie. 18  Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus. Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen. 

DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE