Ek is wat Ek is. (15-06-2025)

EK IS WAT EK IS – Dit is die Naam van die God wat aanbid moet word. Die uitspraak en die taal waarin ons dit sê, is nie belangrik nie, maar die betekenis is belangrik, want dit identifiseer die ware God tussen die afgode uit, wat hulle self voordoen as die waarde God en wat ongelukkig deur meeste mense aanbid word. Baie ander gode gee voor om die God van die Bybel te wees, maar net Hy wat voldoen aan EK IS WAT EK IS, is die ware God. Indien ons oortuig is dat ons die God van die Bybel aanbid, maar hy wie ons aanbid verskil van Hom wat die Bybel sê “HY IS”, aanbid ons ‘n afgod. ‘n Afbeeldsel van die ware God.

Exodus 32:4-5  En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar ‘n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.  (5)  Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor ‘n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die HERE.

1 Konings 12:28-29  Daarom het die koning raad gehou en twee goue kalwers gemaak en aan hulle gesê: Julle het lank genoeg opgegaan na Jerusalem—hier is, o Israel, jou gode wat jou uit Egipteland laat optrek het!  (29)  En die een het hy in Bet-el opgerig en die ander in Dan opgestel.

Waarom wil ons ‘n god (‘n opperwese) aanbid? Waarom het ons ‘n behoefte daarna? Omdat ons na bonatuurlike krag smag om ons uit ons probleme te red wat vir ons te groot is. Persone sonder noemenswaardige probleme en wat voorspoedig lewe kyk na mense wat ‘n god aanbid as dwase, omdat dit vir hulle nie sin maak nie. Wanneer so ‘n persoon se vyfjarige dogtertjie egter ontvoer word en hy magteloos staan, begin hy in sy nood uit te roep tot ‘n god om hom te help, maar wie is God en waar is God en hoe roep ek tot God?

Alle mense se grootste vrees is die onbekendheid van die lewe na die dood. Die maklikste manier om van daardie vrees ontslae te raak, wat elke dag aan jou knaag, is om daagliks vir jouself te vertel dat daar nie lewe na die dood is nie.

Omdat sulke mense die verkondigde “bewusteloosheid na die dood” nie kan bewys nie, bly hulle onseker van hulle eie oortuiging dat daar nie lewe na die dood is nie, en die dag wanneer hulle lewe bedreig word, en hulle staar die dood in die oë, kom daardie vrees vir die dood in volle mag terug en dan roep hulle met vrees tot die god van die dood om hulle genadig te wees.

Is daar lewe na die dood, en is daar ‘n god van die dood? Niemand weet nie, want niemand was al daar en het weer teruggekom om ons te kon inlig nie. So, ons wat nog in die lewe is, bly onseker. Tog is daar baie mense wat sê dat hulle weet wat na die dood met ons gebeur, maar meeste van hulle verskil van mekaar oor wat gaan gebeur en gee verkillende inligting en raad. 

Vir die van ons wat onsself vroegtydig wil voorberei vir die lewe na die dood, lê daar dus ‘n wêreld van onsekerheid en verwarrende inligting voor, waardeur ons moet soek, om die waarheid te kry. Iemand wat die eerste opinie, wat op sy pad langs kom aangryp, sal heel waarskynlik onvoorbereid wees, omdat daar so baie opinies is wat almal met mekaar verskil, tensy die voorbereiding vir die lewe na die dood eenvoudig en maklik is en met min insette suksesvol gedoen kan word.

Deur die eeue aanbid mense hulle gode om hulle in hierdie lewe te help, maar baie van hulle vertrou ook op hulle gode om hulle te help met dit wat vir hulle voorlê aan die anderkant van die dood. Weereens probeer meeste mense hulle self sus, deur vir hulself te vertel dat daar geen lewe na die dood is nie, maar dan kom daardie knaende vraag altyd weer terug, sê nou net daar is lewe na die dood, wat dan?

Die Grieke en Romeine het hulle Pagan-gode aanbid en gehoop dat daardie gode die vermoë het om hulle deur die dood te begelei na een of ander plek van saligheid. Die Romeinse kerk het by hulle oorgeneem met hulle eie weergawe van lewe na die dood en leer hulle volgelinge hoe hulle, hulle gode moet aanbid, om saligheid na die dood te kan verkry.

Iemand wat homself as ‘n ware Christen beskou, gebruik die inligting wat in die Bybel is om homself gereed te maak vir die lewe na die dood. Volgens die Bybel is daar twee eindbestemmings vir alle mense na die dood. Die eerste is die ewige lewe, in die koninkryk van hulle Skepper, en die tweede is die ewige dood, in die poel van vuur. Dit is twee uiteenlopende uiteindes en vanselfsprekend sal almal die ewige lewe kies en nie die ewige dood nie.

Selfs tussen die ernstige Christene verskil hulle geweldig oor die vereistes en metode om die koninkryk van God te kan ingaan en nie die ewige dood nie. Vir buitestaanders wat soekende is na die pad na die ewige lewe lyk hierdie verskille tussen Christene so uiteenlopend en verwarrend, dat hulle soms hulle soektog na die ewige lewe eerder stop, nog voor hulle begin het, want wat is waarheid?

So het elke mens sy opinie van die lewe en die lewe na die dood, en geweldig baie mense sit nou maar net onverantwoordelik en wag om te kyk hoe dit dan sal wees, maar die werklikheid daarvan is dat daardie individue dan totaal onvoorbereid is om hulle Maker te ontmoet. Ander word grootgemaak met ‘n sekere oortuiging en klou dan daaraan vas, sonder om dit aan enige iets te toets, met die hoop dat so ‘n opregte poging van geloof, in ‘n oorgelewerde godsdiens, genoeg sal wees om hulle van die ewige dood te bevry en toe te laat tot die ewige lewe.

As ons dan bely dat ons Christene is en in die Bybel glo, is ons mos dwaas om nie te gaan kyk wat daar staan en dan te doen wat daar staan om die ewige lewe te kan kry nie. Meeste Christine abdikeer hierdie groot verantwoordelikheid aan iemand anders en plaas hulle ewige lewe in ‘n vreemdeling se hande. Omdat ons skape is, doen ons sulke dinge. Alle skape volg ander skape, wat dan self onseker is wie die eerste skaap lei.

Ons vertrou ‘n vreemde dokter om ons onder narkose te sit en met ‘n mes aan ons te sny, net omdat al die ander skape dit ook doen. Ons glo wat die ander skape glo, want al die ander skape glo dit en almal kan tog nie verkeerd wees nie, of so redeneer ons.

Met die ondersoek van die Bybel sien ons dat die Bybel sê as ons in God glo sal ons gered word. Handelinge 16:30-31  En hy het hulle na buite gebring en gesê: Menere, wat moet ek doen om gered te word?  (31)  Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.

Dit klink tog baie eenvoudig om te doen en almal wat dit doen sal dus gered word, maar dit is nie so eenvoudig nie. Wie is Yahshua in wie ons moet glo? HY IS WAT HY IS. HY IS die God wat Israel uit Egipte uitgelei het en met hulle die verbond aan Jakob bevestig het.

So, beteken dit dan dat as ek Hom sou aanbid as die God wat die Israeliete uit Egipte uitgelei het, ek dan die regte God aanbid? Nee, nie noodwendig nie, want dit is presies wat Aäron en Jeróbeam gesê het en hulle het afgode aanbid. Hulle het bely dat hulle YHWH (die God wat hulle uit Egipte uit verlos het) aanbid, maar hulle belydenis was nie goed genoeg nie. Om te glo dat Hy die God van Israel is, is reg, maar sodra ons glo dat ons Hom deur ‘n beeld van Hom kan aanbid, diskwalifiseer ons ons eie geloof.

Daarom moet ons weet wie Hy is wanneer Hy sê; EK IS WAT EK IS. Ek is die God van Israel, maar Ek is nie ‘n beeld van wat jy dink EK is nie. HY IS WAT HY IS trek besliste grense van wie Hy is en wie Hy nie is nie, en die oomblik wat ons oor die grens gaan van wie Hy is, is ons besig met ‘n afbeelding van Hom, en daarom is dit van uiterse belang om Hom te ken vir wie Hy is.

Prakties beteken dit dat ons vir onsself afbeeldings maak, van wie Hy vir ons is, en dan daardie beelde, wat ons vir onsself gemaak het, aanbid. So ‘n persoon wat dit namens baie ander gedoen het, is Konstantyn. Soos Aäron en Jeróbeam maak hy ‘n beeld van God en net soos Israel van ouds volg almal hom in die aanbidding van die beeld. Tot vandag toe word hierdie beeld deur miljoene aanbid en hulle bely dat hulle God aanbid en ook dat hulle Christene is, tog ken hulle Hom nie en weet nie wie Hy is nie.

Luther sien later dat daar ‘n beeld gemaak is van die ware God en protesteer daarteen, maar ironies genoeg, maak hy net ‘n ander beeld van wie hy dink God is, en saam met Luther aanbid miljoene mense die afgod van die Lutherane. Calvyn maak sy eie beeld van wie God is en miljoene mense aanbid die beeld wat Calvyn gemaak het. Latere jare kom meer en meer instansies en maak beelde van God en leer die mense om dit te aanbid.

Ken ons God soos wat Abraham Hom geken het, of gaan ons kerk toe en doen ‘n paar rituele saam met ander mense, onder leiding van ‘n Ds. of Pastoor en dien ‘n god wat deur oorlewering aan ons oorgelewer is? Glo ons wat vir ons gesê word van wie God is, want dan glo ons in die beeld van ‘n god wat iemand anders vir ons gemaak het, of glo ons in God soos wat Dawid in Hom geglo het.

Voorbeelde:

  • Is daar drie gode in een of is dit een God? EK IS WAT EK IS.
  • Is Hy die Verlosser van almal, of is Hy die Verlosser van sy volk? EK IS WAT EK IS.
  • Word almal verlos en gaan deur genade in sy Koninkryk in, of moet ons eers weergebore word?
  • Kan ons losbandig in ons sonde bly lewe, of moet ons die begeertes van die sondige vlees afsterf?
  • Indien God voorskryf dat ons ons moet bekeer en dan gedoop word, maar die beeld van Calvyn sê ons moet babas doop om deel van die verbond te word, is dit dan dieselfde God?

1 Petrus 1:9  en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele, verkry.

As die einddoel van ons geloof die redding van ons siele is, en ons word gered deur ons geloof in God, maar ons geloof is in ‘n beeld van God, sal dieselfde met ons gebeur as wat met die Israeliete gebeur het wat ‘n beeld van God gemaak het en dit aanbid het. Die beeld kan ons nie red nie en God gaan ons nie red as ons ‘n beeld van Hom aanbid nie, ons moet Hom ken en ‘n verhouding met Hom hê, sonder die insettinge en verhouding met ander mense. Ek in Hom en Hy in my.

Psalm 91:14-16  Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.  (15)  Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.  (16)  Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.

Jesaja 5:13-16  Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.  (14)  Daarom het die doderyk sy keel wyd oopgemaak en sy mond uitgerek sonder maat, en daarin sink hulle adel en hulle menigte en hulle luidrugtigheid en diegene onder hulle wat uitgelate is.  (15)  Dan word die mens gebuig en die man verneder, en die oë van die hoogmoedige mense word verneder.  (16)  Maar hoog sal die HERE van die leërskare wees deur die strafgerig, en die heilige God sal Hom as die Heilige laat ken deur geregtigheid.

Jeremia 9:23-24  So sê die HERE: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie;  (24)  maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die HERE.

Titus 1:15-16  Alle dinge is rein vir die reines; vir die besoedeldes en ongelowiges egter is niks rein nie, maar hulle verstand sowel as hulle gewete is besoedel.  (16)  Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.

Filippense 3:8-14  Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry  (9)  en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof;  (10)  sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word

DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE