Kwessie oor die onderhouding van die wet (2025)

Handelinge 15:1  En sekere persone wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie. 2  Toe daar nou geen klein stryd en woordewisseling van die kant van Paulus en Bárnabas teen hulle ontstaan het nie, het hulle besluit dat Paulus en Bárnabas en nog ‘n paar ander van hulle sou opgaan na die apostels en ouderlinge in Jerusalem in verband met hierdie vraagstuk. 3  En hulle is deur die gemeente uitgelei en het Fenícië en Samaría deurgegaan en vertel van die bekering van die heidene, en aan al die broeders groot blydskap verskaf. 4  En by hulle aankoms in Jerusalem is hulle ontvang deur die gemeente en die apostels en die ouderlinge; en hulle het verslag gedoen van al die dinge wat God met hulle gedoen het. 5  Maar sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs het opgestaan en gesê: Dit is noodsaaklik dat hulle besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou. 6  En die apostels en die ouderlinge het vergader om hierdie saak te ondersoek. 7  En toe daar ‘n groot woordewisseling plaasvind, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word. 8  En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons. 9  En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof. 10  Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie? 11  Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook. 12  En die hele menigte het geswyg en na Bárnabas en Paulus geluister, terwyl hulle van al die tekens en wonders vertel wat God deur hulle onder die heidene gedoen het. 13  En nadat hulle geswyg het, antwoord Jakobus en sê: Broeders, luister na my! 14  Símeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ‘n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem. 15  En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is: 16  Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, 17  sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen. 18  Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend. 19  Daarom oordeel ek dat ons die wat uit die heidene hulle tot God bekeer, nie moet bemoeilik nie, 20  maar aan hulle skrywe dat hulle hul moet onthou van die dinge wat deur die afgode besoedel is en van hoerery en van wat verwurg is en van bloed. 21  Want van die ou tyd af het Moses in elke stad diegene wat hom verkondig, terwyl hy elke sabbat in die sinagoges gelees word. 22  Toe het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om manne uit hulle te kies en na Antiochíë te stuur saam met Paulus en Bárnabas, naamlik Judas, met die bynaam van Bársabas, en Silas, manne wat voorgangers onder die broeders was. 23  En hulle het deur hul bemiddeling dít geskrywe: Die apostels en die ouderlinge en die broeders aan die broeders uit die heidene in Antiochíë en Sírië en Cilícië: Groete! 24  Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te sê dat julle besny moet word en die wet moet onderhou, 25  het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Bárnabas en Paulus— 26  manne wat hulle lewe oorgegee het vir die Naam van onse Here Jesus Christus. 27  Ons het dan Judas en Silas afgevaardig om ook mondeling dieselfde berig te bring. 28  Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: 29  dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel! 30  So is hulle dan weggestuur en het in Antiochíë gekom, en hulle het die menigte bymekaargeroep en die brief afgelewer. 31  En toe hulle dit gelees het, was hulle bly oor die bemoediging. 32  En Judas en Silas, wat self ook profete was, het die broeders met baie woorde bemoedig en versterk. 33  En nadat hulle ‘n tyd daar deurgebring het, het die broeders hulle met vrede na die apostels laat gaan. 34  Maar Silas het besluit om daar te bly. 

Handelinge 21:17  En toe ons in Jerusalem aankom, het die broeders ons met blydskap ontvang. 18  En op die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus se huis gegaan, en al die ouderlinge was daar teenwoordig. 19  En nadat hy hulle gegroet het, het hy van stuk tot stuk vertel wat God onder die heidene deur sy diens gedoen het. 20  En toe hulle dit hoor, het hulle die Here verheerlik en vir hom gesê: U sien, broeder, hoeveel duisende Jode daar is wat gelowig geword het, en almal is yweraars vir die wet. 21  En hulle is aangaande u vertel dat u al die Jode onder die heidene leer om van Moses afvallig te word deur te sê dat hulle die kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die sedes moet wandel nie. 22  Wat staan ons dan te doen? Dit is dringend nodig dat die menigte bymekaarkom, want hulle sal hoor dat u gekom het. 23  Doen dan wat ons vir u sê. Ons het vier manne wat ‘n gelofte gedoen het; 24  neem hulle en heilig u saam met hulle en betaal die koste vir hulle, sodat hulle hul hoofde kan skeer en almal kan weet dat daar niks is in wat van u vertel word nie, maar dat u self ook wandel as een wat die wet onderhou. 25  Wat egter die gelowiges uit die heidene betref het ons geskrywe en besluit dat hulle niks van dié aard moet onderhou nie, maar hulle net moet onthou van afgodsoffers en bloed en van wat verwurg is, en van hoerery. 26  Toe het Paulus die manne geneem en op die volgende dag hom saam met hulle geheilig en in die tempel gegaan om bekend te maak dat die dae van die heiliging sou voortduur totdat die offer vir elkeen van hulle gebring moes word. 27  Maar toe die sewe dae byna verby was, het die Jode van Asië hom in die tempel gesien en die hele skare oproerig gemaak en die hande aan hom geslaan 28  en geskreeu: Israeliete, help! Dit is die man wat oral aan almal dinge leer teen die volk en die wet en hierdie plek. Hy het ook nog Grieke in die tempel gebring en hierdie heilige plek ontheilig. 29  Want hulle het vantevore Trófimus, die Efésiër, in die stad by hom gesien en gedink dat Paulus hom in die tempel gebring het. 30  Toe kom die hele stad in beweging, en daar was ‘n oploop van die volk; en hulle het Paulus gegryp en hom buitekant die tempel gesleep; en dadelik is die deure gesluit. 

DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE