Johannes 8:1 Maar Jesus het na die Olyfberg gegaan.
2 En vroeg in die môre het Hy weer in die tempel gegaan, en al die mense het na Hom gekom, en Hy het gaan sit en hulle geleer.
Joh 8:3 En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het ‘n vrou wat in egbreuk betrap was, na Hom gebring.
4 En toe hulle haar tussen hulle in laat staan het, sê hulle vir Hom: Meester, hierdie vrou is op ‘n daad van egbreuk betrap; 5 en Moses het ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig; maar U, wat sê U?
6 En dit het hulle gesê om Hom te versoek, sodat hulle iets kon hê om Hom te beskuldig; maar Jesus het neergebuk en met die vinger op die grond geskrywe.
7 Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi.
8 En weer het Hy neergebuk en op die grond geskrywe.
9 En toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in gestaan het.
10 En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie?
11 En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.
Galásiërs 3:17 Maar ek sê dít: die wet wat vier honderd en dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie.
18 Want as die erfenis uit die wet is, dan is dit nie meer uit die belofte nie. Maar God het dit aan Abraham deur ‘n belofte genadiglik geskenk.
19 Wat beteken die wet dan? Dit is bygevoeg weens die oortredinge, totdat die saad aan wie die belofte gedoen is, sou kom; en dit is deur engele beskik deur tussenkoms van ‘n middelaar.
20 En die middelaar is nie net vir een nie; maar God is een.
21 Is die wet dan teen die beloftes van God? Nee, stellig nie! Want as daar ‘n wet gegee was wat krag het om lewend te maak, dan sou die geregtigheid werklik uit die wet wees.
22 Maar die Skrif het alles ingesluit onder die sonde, sodat die belofte uit die geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee kon word.
23 Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.
24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.
25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.
26 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; 27 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.
28 Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.
29 En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.
Romeine 6:1 Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?
2 Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?
3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.
5 Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; 6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.
7 Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.
8 As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe,
9 omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie.
DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE