Die drie weë (12-01-2025)

Banie Swanepoel:

Daar is drie weë, maar net een lei na die lewe.

Ons almal is onwillekeurig op ‘n lewenspad wat eindig met die ewige dood. Daar is geweldige onsekerheid oor wat na die dood vir die mens voorlê. Sommige mense sê dat daar niks is nie en dat ons net ons bewussyn verloor. Ander glo in reïnkarnasie en ander glo dat daar wel lewe na die dood is en ander verkies om apaties te staan en nie daaroor te dink of te praat nie. Wat is die waarheid en hoe kan ons weet wat gebeur na die dood?

Johannes 17:17  Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

Daniël 12: (2)  En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.  (3)  En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.

Hebreërs 9:27  En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel,

Ons liggaam gaan dood, maar ons siel bly lewe. In ‘n bewuste staat verskyn ons dan na ons aardse dood voor die Regter en word veroordeel vir ons dade, of verwelkom in sy Koninkryk omdat ons geregtig is.

Die drie weë se opinies vir redding:

  1. Die eerste weg: Mense wat hulself oortuig het dat daar geen God bestaan nie en dat ons nie lewe na die dood nie, tref geen voorbereiding nie en lewe onverskillig en onverantwoordelik asof daar geen rekenskap na die dood is nie.

Psalm 10:3-6  Want die goddelose juig oor die begeerte van sy siel; en hy seën hom wat onregverdige wins maak, hy verag die HERE.  (4)  Die goddelose, met sy neus in die hoogte, sê: Hy ondersoek nie: daar is geen God nie—dit is al sy gedagtes!  (5)  Sy weë is altyd voorspoedig; hoog daarbo is u gerigte, weg van hom af; al sy teëstanders—hy blaas op hulle.  (6)  Hy sê in sy hart: Ek sal nie wankel nie; van geslag tot geslag is ek die een wat nie in die ongeluk sal wees nie.

  • Die tweede weg: Mense wat glo daar is lewe na die dood, maar hulle het hul eie evangelie vir saligheid gemaak en glo dat dit hulle sal red

Matthéüs 7:21-23  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  (22)  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?  (23)  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

  • Die derde weg: Hulle wat alles verlaat en die Lam volg waar Hy ook al heen gaan, elke dag hulle kruis opneem om gekruisig te word en volhard tot die einde toe.

Matthéüs 16:24-27  Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.  (25)  Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind.  (26)  Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?  (27)  Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.

Is dit regtig so moeilik om die ewige lewe te kry, of kan ek maar net my beste probeer en ‘n goeie lewe lei?

Matthéüs 7:13-14  Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.  (14)  Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.

  1. Die eerste weg is vir die wat die evangelie verwerp en lewe asof daar geen God is nie.
  2. Die tweede weg is hulle wat ‘n lou Christelike lewe lei wat gebaseer is op ‘n pad van geregtigheid wat hulle self bepaal het, of wat hulle deur oorlewering ontvang het en dan glo dat hulle gereed is. Hulle is baie wat sal probeer om die nou poort in te gaan, maar dit nie sal regkry nie.
  3. Die derde weg is hulle wat die koninkryk van hierdie wêreld verlaat het en oorgegaan het na die Koninkryk van lig en dan in vyandskap staan met hierdie wêreld se koninkryk en nie skatte hier bymekaar maak nie, maar skatte in die hemel bymekaar maak.

Openbaring 3:14-18  En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:  (15)  Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!  (16)  Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.  (17)  Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.  (18)  Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.

‘n Lou lewe beteken dat iemand self besluit wat die vereistes en standaard is van wat God vereis voor Hy iemand in sy Koninkryk toelaat. Lou mense glo hulle is goed genoeg om toegelaat te word op grond van dinge wat hulle geglo en gedoen het, ongeag of hierdie dinge wat hulle glo en doen deur God bepaal was.

Die geloof van lou Christene sluit standaarde soos die volgende in wat hulle self bepaal het en wat veroorsaak dat hulle glo hulle gaan gered word:

  • 1. Is ‘n lid van hulle kerk.
  • 2. Gaan gereeld na hulle kerk toe en is betrokke by aktiwiteite van die kerk.
  • 3. Glo alles wat die kerk verkondig en doen dit getrou wat voorgeskryf word.
  • 4. Praat geestelike gesprekke met ander mense en selfs soms met vreemde mense.
  • 5. Lewe morele goeie lewens en respekteer hulle naaste en is lief vir hulle medemens
  • 6. Is voorbeelde en steunpilare in die gemeenskap. Hulle is goeie kerkmense.
  • 7. Gee van hulle geld en besittinge vir die kerk en die armes.
  • 8. Bestraf ander mense wat sonde doen en verkeerd lewe.
  • 9. Hou die tien gebooie en ook ander menslike reëls om regverdig te wees.
  • 10. Hulle is nie radikaal in hulle geloof nie, maar laat ruimte vir ander mense se opinies en gelowe. Dit word as verdraagsaamheid en liefde beskou.
  • 11. Hoewel God sekere dinge, soos homoseksualiteit verbied en haat, verdra hulle dit ter wille van liefde.
  • 12. ‘n Vaste geloof in die woorde van God is skaars en dit word al meer gewild om te glo dat ander gelowe ook gered gaan word, bloot net omdat hulle ook in ‘n god glo.
  • Oorlewering van die kerk en gesag van die prediker is bo die woorde en gesag van God. As die Bybel sê dit is blou en die kerk sê dit is groen, sal die Bybel verander word om te sê dit is groen.

2 Timótheüs 4:3-4  want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leerRom 1 nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,  (4)  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Lukas 13:23-28  Toe sê iemand vir Hom: Here, is die wat gered word, min? En Hy antwoord hulle:  (24)  Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.  (25)  Wanneer die eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het, en julle begin buitekant te staan en aan die deur te klop en te sê: Here, Here, maak vir ons oop—sal Hy antwoord en vir julle sê: Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie.  (26)  Dan sal julle begin sê: Ons het in u teenwoordigheid geëet en gedrink, en U het op ons strate geleer.  (27)  En Hy sal sê: Ek sê vir julle, Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie. Gaan weg van My, al julle werkers van die ongeregtigheid!  (28)  Daar sal geween wees en gekners van die tande, wanneer julle Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die koninkryk van God sal sien, maar julle self uitgedryf buitentoe.

Wat is die derde weg dan en hoe kan ons die Koninkryk van God beërwe? (VERW na koninkryk van GOD)

  • 1. Hoekom is ons verlore?
  • 2. God se geregtigheid vereis dat ons sterf.
  • 3. Hy sterf in ons plek en maak vir ons ‘n weg in geregtigheid.
  • 4. God het Hom met ons versoen en nou moet ons ons met Hom versoen.
  • 5. As ons nie weer gebore word nie, kan ons nie in sy Koninkryk ingaan nie.
  • 6. Ons mag nie hier skatte bymekaar maak nie.
  • 7. Ons moet ons naaste vergewe.
  • 8. Ons moet volhard tot die einde toe.
  • 9. As ons enige persoon se belang bo sy belang stel, is ons Hom nie werd nie.
  • 10. Ons kan nie twee here dien nie.
  • 11. Soos die Vader Hom gestuur het, stuur Hy ons ook. Ons moet ons lewe aflê vir die skape.
  • 12. As ons Hom nie eet nie, het ons geen deel aan Hom nie.

Openbaring 20:10-15  En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.  (11)  En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.  (12)  En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.  (13)  En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.  (14)  En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.  (15)  En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

Matthéüs 25:41  Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.

DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE