– Banie Swanepoel:
Hierdie boodskap lig die verskil tussen egskeiding en egbreuk uit.
Die Skrif sê GOD haat egskeiding, maar dat egbreuk ‘n taboe is.
Maleági 2:14 En julle vra: Waarom? Omdat die HERE getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond. 15 Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ‘n geslag van God gesoek. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie. 16 Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, en dat ‘n mens sy kleed met geweldpleging bedek, sê die HERE van die leërskare. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie.
Génesis 1:26 En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. 27 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.
Génesis 2: 7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.
Génesis 2: 21 Toe het die HERE God ‘n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak.
Génesis 2: 24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.
Matthéüs 19:3 Toe kom die Fariseërs na Hom om Hom te versoek, en sê vir Hom: Is dit ‘n man geoorloof om oor allerhande redes van sy vrou te skei? 4 En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, 5 en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; 6 sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. 7 Hulle sê vir Hom: Waarom het Moses dan beveel om ‘n skeibrief te gee en van haar te skei? 8 Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie. 9 Maar Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ‘n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.
Matthéüs 14: 3 Want Herodes het Johannes gevang, hom geboei en in die gevangenis gesit vanweë Heródias, die vrou van Filippus, sy broer. 4 Want Johannes het vir hom gesê: Dit is u nie geoorloof om haar te hê nie.
Markus 6:17 Want Herodes self het gestuur en Johannes gevange geneem en hom in die gevangenis geboei, vanweë Heródias, die vrou van Filippus, sy broer, omdat hy met haar getrou het. 18 Want Johannes het aan Herodes gesê: Dit is u nie geoorloof om u broer se vrou te hê nie.
1 Korinthiërs 6:10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.
2 Sameul 3:14 Dawid het ook boodskappers gestuur na Isbóset, die seun van Saul, om te sê: Gee my vrou Migal met wie ek my verloof het vir honderd voorhuide van die Filistyne. 15 En Isbóset het gestuur en haar van die man, van Páltiël, die seun van Lais, afgeneem. 16 En haar man het saam met haar gegaan, terwyl hy agter haar aan loop en ween tot by Bahúrim. Toe sê Abner vir hom: Gaan terug. En hy het teruggegaan.
Esra 10:2 Toe het Segánja, die seun van Jéhiël, van die seuns van Elam, begin spreek en aan Esra gesê: Ons het ontrou gehandel teen onse God, dat ons vreemde vroue uit die volke van die land getrou het; maar tog is daar nog hoop vir Israel in hierdie saak. 3 Laat ons dan nou ‘n verbond met onse God sluit om al die vroue en wat uit hulle gebore is, weg te stuur volgens die raad van my heer en van die wat beef vir die gebod van onse God, en laat volgens die wet gehandel word.
1 Korinthiërs 7:15 Maar as die ongelowige wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep.
1 Korinthiërs 7:38 Daarom, ook hy wat in die huwelik uitgee, doen goed; maar hy wat in die huwelik nie uitgee nie, doen beter. 39 ‘n Vrou is deur die wet gebonde so lank as haar man lewe; maar as die man ontslaap het, is sy vry om te trou met wie sy wil, maar net in die Here.
Romeine 7: 1 Of weet julle nie, broeders want ek spreek met mense wat die wet ken dat die wet oor die mens heers so lank as hy lewe nie? 2 Want die getroude vrou is deur die wet aan die lewende man gebonde; maar as die man sterwe, is sy ontslae van die wet van die man. 3 Daarom dan, as sy ‘n ander man s’n word terwyl haar man lewe, sal sy ‘n egbreekster genoem word; maar as die man sterwe, is sy vry van die wet, sodat sy nie ‘n egbreekster is as sy ‘n ander man s’n word nie.
As jy hierdie gelees het en dit nie die eerste keer insien nie, lees dit weer aandagtig en sien in wat die diep betekenis is.
Ons dink Vader YHWH is gevoelloos. Ons dink Hy werk net volgens reëls en beginsels. Ons besef nie dat Hy net soos ons ook emosies het nie. Wanneer Hy sê Hy het ons lief, is dit nie uit beginsels nie, maar net soos wat ons liefhet, het Hy óók lief. Net soos wat ons hart skeur as ons iemand liefhet, maar daardie persoon het ons nie terug lief nie, net so skeur sý hart ook. Net soos ons wonder hoe lank gaan ons nog probeer om ons geliefde se hart te wen voordat ons tou opgooi, net so stel Hý ook uit.
Het sy my lief, of gebruik sy my net vir dit wat ek haar bied? Hoe is dit dat sy sê sy het my lief, maar sy maak onderlangs ogies vir ander mans?
Dieselfde skok wat ons hart tot stilstand bring as ons dit agterkom, is die skok wat deur Hom gaan as ons sê ons het Hom lief, maar ons bedrieg Hom, net sodat ons voordeel uit Hom kan trek. Net soos wat ons nagte om huil omdat ons geliefde se hart aan iemand anders behoort, net so treur YHWH oor ons.
Wanneer Hy Israel vir jare waarsku dat Hy hulle in ballingskap gaan stuur omdat hulle Hom nie liefhet nie, maar dan lank vat om dit uiteindelik te doen, is dit omdat Hy uitstel in die hoop dat hulle hart sal verander om Hom lief te kry.
Jesaja 54:5-8 Want jou Maker is jou Man; HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word. 6 Want soos ‘n verlate vrou en ‘n bedroefde van gees het die HERE jou geroep, en soos ‘n vrou uit die jeugtyd as sy versmaad was, sê jou God. 7 Vir ‘n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader. 8 In ‘n uitstorting van toorn het Ek vir ‘n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die HERE, jou Verlosser.
Wanneer Hy wel Israel in ballingskap laat gaan is sy motief nie om hulle te straf nie, maar dat hulle van hulle ander liefde afstand moet doen en Hom sien vir wie Hy is en Hom lief kry. Hy is die “prins op die wit perd” wat sy lewe in hulle plek gee, sodat hulle verlos kan word van die dood. Hy is die een wat hulle gevormeer het en hulle die kroon van sy skepping gemaak het deur hulle na sy beeld te skape. Hy is die een wat net goeie dinge oor hulle bedink en niks wat sleg is nie.
Hulle het agter ander liefde aangegaan net omdat hulle bedrieg is en Hom nie ken vir wie Hy is nie.
Die van ons wat die ondervinding van ‘n gebroke hart het deurdat jou geliefde jou verlaat en iemand anders liefgekry het, beleef die geweldige pyn wat dit veroorsaak het. Dit wat jy daaruit kan neem, is om te weet dat die onverganklike pyn wat jy daagliks in jou hart voel vergelykbaar is met die pyn in sý hart as ons Hom vergeet… as ons ons eerste liefde verlaat. Die van ons wat die ervaring het dat jy iemand liefgekry het, maar daardie persoon het jou nie lief nie en jy wonder of dit die moeite werd is om aan te hou probeer.
Jy wonder of dit die moeite werd is om emosies te beleef wat jou lewe moeilik maak. Jou slaap het verdwyn en jou denke aan daardie persoon wil jou nie verlaat nie. Jy probeer vergeet, maar jy kan nie… weet dat Vader ook so voel. Hy het Israel liefgekry en sy liefde aan Israel verklaar. Hy het sy hart oopgemaak en gesê; “jou alleen het Ek liefgehad uit al die volke wat op die aarde is”.
Ons neem sy woorde ligtelik op, maar wie van ons sal vir die een vir wie jy liefgekry het sommer jou hart oopmaak en die diepste geheim van liefde aan daardie persoon verklap? Ons doen dit nie, want ons is te bang ons gaan seerkry, maar Hý het dit gedoen, en toe gebeur dit werklik ook so met Hom; Hy het seergekry, want Israel het Hom nie terug liefgekry nie.
As jy dus die ervaring van ‘n stukkende hart het en jy voel stoksielalleen en uitverkoop, assosieer dan met God, want dit is hoe Hy elke dag, heeldag voel oor sy onbeantwoorde liefde tot ‘n volk wat Hom nie wil liefhê nie. Sy geliefdes bespot Hom en ontken Hom. Hy het nie lief nie, maar Hy is liefde.
Wanneer ons liefde tot ‘n ander persoon onbeantwoord bly en ons lewe kompliseer en dreig om dit te verwoes, beëindig ons daardie uitreiking na die ander persoon en sny alle bande en beoefen totale vermyding van kontak. Ons verwyder tot alle foto’s en vermy plekke wat ons aan daardie persoon sal laat dink, sodat daardie persoon totaal uit ons geheue kan verdwyn, sodat die pyn daarmee saam kan verdwyn. Vader beleef dit ook, maar sy liefde vir ons is sterker as die pyn wat ons afwesigheid van liefde aan Hom veroorsaak. Al is ons ontrou, Hy bly getrou. Hy kan nie ontrou wees nie. Al gee Hy ons oor aan tye van benoudheid, bly sy hand altyd uitgereik na ons toe, want die begeerte van sy hart is altyd dat ons terug uitreik en sy hand gryp en Hom terug liefhê.
Jesaja 49:14-16 Maar Sion sê: Die HERE het my verlaat, en die Here het my vergeet! 15 Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie! 16 Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My. Hoséa 1:10-11 Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie—sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God. 11 Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel almal saam vergader en vir hulle een hoof aanstel en uit die land optrek; want groot is die dag van Jísreël!
Vader YHWH, ons het U baie lief, want U is ons alles. Ons het nie ander liefde buite U nie, want U is ons Alfa en ons Omega. Baie dankie dat U ons liefgehad het toe ons nog sondaars was en dat U volhard het in U liefde vir ons, al het ons U nie dadelik gehoor nie. Ons dank U dat U volhard het in U liefde, al het ons U baie hartseer gemaak omdat ons U liefde verwerp het. Wanneer ons self seerkry as gevolg van onbeantwoorde liefde en ons besef dit is hoe ons U seer gemaak het, dan kry ons skaam en ons voel self hartseer omdat ons so opgetree het.
Hoe langer ons in ‘n liefdesverhouding met U is hoe meer deel U U hart met ons en hoe meer liefde ervaar ons van U. Dankie dat ons verhouding met U gebaseer kan wees op liefde; liefde wat U reeds bewys het. U het die waarde van U liefde aan ons afgemeet en die prys was bereken; dit was só duur soos die lewe van die ewige Skepper. Baie dankie Vader.
DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE