Banie Swanepoel:
Deur die eeue het daar baie mense geleef en elkeen van hulle het verskillende omstandighede beleef. Ons kan terug kyk na sommige van hulle se lewens, maar ons sal dit altyd net kan doen as buitestaanders. Elkeen van ons het ons eie lewe wat ons in detail beleef en in detail ervaar. Vir ons self is ons eie lewe die belangrikste van almal, omdat dit ons eie is, maar tog is elkeen van ons net nog een van miljoene lewens deur duisende jare.
Elkeen van ons begin ons lewe in ‘n gesin wat ons nie gekies het nie, maar tog het dit ‘n ontsaglike invloed op ons hele lewe. Iewers gedurende die laaste 6000 jaar word ons gebore en ons leef in ‘n land en onder ‘n volk waarvan ons geen invloed of keuse gehad het nie. Party van ons het makliker omstandighede as ander, maar vir elkeen van ons bly die lewe ‘n geweldige uitdaging.
Die wat jonk is wil ouer wees en die wat oud is, wil weer jonk wees. Hulle wat bekend en gewild is, begeer die privaatheid en eenvoudige lewe van die onbekendes en hulle wat onbekend is, begeer die roem en aansien van die beroemdes. Ons kyk ons hele lewe rond hoe ander se lewe lyk en wonder hoekom ons die verkeerde kant van die stok gekry het.
Na ons geboorte word ons opgevoed deur ouers wat dit doen volgens hoe hulle dink en sommige van ons het selfs nie eers ouers om ons op te voed nie en opvoeding gebeur dalk glad nie. Hierdie meestal onervare ouers wat die opvoeding moet doen, het geen begrip dat hulle besig is om treinspore te vorm in ‘n nuwe mens se wese nie en hierdie nuwe wesens probeer dan rigting kry in hierdie vreemde wêreld met treinspore in hulle gemoed, wat heeltemal in ‘n ander rigting gaan as wat prakties in hierdie lewe werk.
Ten koste van ons eie lewe neem ons verkeerde besluite waarvoor ons onsself dan later kwalik neem, maar met die bekwaamheid waarmee ons bekwaam gemaak is, stry ons maar voort, …maar die lewe gaan aan.
Tou opgooi bestaan nie al hou ons ook hoe min van ons lewe, want ons het nie ‘n alternatief nie. Soms is daar wel vooruitsigte in hierdie lewe waarna ons uitsien, maar nadat ons dit bereik het en die opwinding verby is, is ons weer op die gewone vlaktes en stoei elke dag om te oorleef. Die een dag loop oor in die volgende dag en Salomo se woorde weergalm in ons gemoed: Di’s net ‘n gejaag na wind, …maar die lewe gaan aan.
Nee wat, miskien oordryf ek, daar is baie gelukkige mense ook. Kyk net na die geloofshelde wat met God gewandel het. Kom ons kyk na hulle lewens en sien of dit net ons is wat deur die lewe verniel word, of was hulle dalk ook?
Psalm 90:10 Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.
‘n Gebed van Moses, een van die grootste manne van God, maar hoe was sy lewe? Nadat hy deur sy ma gesoog was, is hy as ‘n klein seuntjie weggegee aan ‘n vreemde vrou van ‘n vreemde volk waar hy sy lewe moes deurbring as iemand van ‘n ander volk. Deur sy alleen-lewe onder hierdie vreemde volk, het hy sy eie volk gesien, maar hy kon nie deel van hulle wees nie.
Hy probeer een van sy eie mense se lewe red deur ‘n Egiptenaar dood te slaan, maar toe verraai sy eie volksgenoot hom en hy moet uit die land vlug vir sy lewe en as vreemdeling gaan bly in ‘n ander land. Daar trou hy en het twee seuns. Veertig jaar later roep God hom terug om die Israeliete uit Egipte uit te lei. Aanvanklik het hulle hom verwelkom as hulle redder, maar toe hulle omstandighede moeiliker gemaak word deur Farao, omdat Moses kom inmeng het, bied hulle weerstand teen Moses.
Eindelik lei hy sy eie volk uit Egipte en vir veertig jaar dwaal hy saam met hulle in die woestyn rond, maar self gaan hy nie in die beloofde land in nie. Wat ‘n lewe, veertig jaar in die huis van Farao in plaas van sy eie mense, dan veertig jaar in ‘n vreemde land sonder sy eie mense, en dan veertig jaar saam met sy eie mense, maar dwalend in die woestyn, en dan die dood.
Is hy die uitsondering? Wat van Abraham, hy was tog ‘n vriend van God. Hy bly in Ur, maar God gee hom ‘n opdrag om te trek uit sy land en vir die res van sy lewe is hy ‘n swerwer en bly in tente. Hy is die land Kanaän belowe as erflating, maar tot aan die einde van sy lewe besit hy nie ‘n stukkie grond nie. Hy word ‘n groot nageslag belowe, maar toe hy al oud was, was daar nog nie eers een kind nie. Hy leef ‘n lewe van uitgestelde hoop.
Sy vrou stel voor dat hy by haar slavin ingaan en sy baar vir hom ‘n seun, Ismael, maar Ismael was nie deel van God se raadsplan nie en God sê vir Abraham om sy tienerseun, Ismael en sy vrou Hagar weg te stuur die woestyn in. Hoewel dit sy seun was, het hy Ismael nooit weer gesien nie, …maar die lewe gaan aan.
Deur ‘n wonderwerk word Sara wel swanger en sy baar vir hom Isak, maar toe Isak ‘n tiener was gee God vir Abraham ‘n opdrag om Isak te gaan offer. Die volgende dag gaan Abraham met sy seun en stap drie dae tot by die plek waar hy geoffer moes word. Net voor Abraham vir Isak slag, keer ‘n engel hom en die kind se lewe is gespaar. Watter trauma vir pa en seun. Vir die res van sy lewe as ‘n ou man swerf hy nog die woestyn vol en sterf sonder die land wat hy sou erf.
Maar wat van Dawid, hy was tog ‘n man na God se hart? Dawid verlos Israel van die Filistyne deur die reus te verslaan hoewel hy nog ‘n jong seun was. Hy veg as ‘n dapper soldaat in die koning se weermag en die mense besing hom, maar dit maak die koning van Israel jaloers en hy wil Dawid doodmaak. Vir jare vlug Dawid die land vol om uit die koning se mag te kom, maar moet later tussen die Filistyne gaan bly, net om van hom af weg te kom.
Nadat Saul in die oorlog gesterf het, word Dawid koning oor Israel. Omdat hy net soos ons nie ‘n volmaakte mens is nie, pleeg hy egbreuk en moord en word ‘n bespotting vir die vyande van God. Later wil sy eie seun sy troon by hom afneem en dit lei tot burgeroorlog in Israel.
God verlos Dawid van sy vyand, maar daardie vyand was Dawid se eie seun Absalom en Dawid se hart is verskeur. Ook verkrag een van Dawid se seuns Dawid se dogter, …maar die lewe gaan voort. Tot aan die einde van Dawid se lewe is daar stryd tussen sy seuns oor wie op die troon van hulle vader gaan sit en soos die res van die mensdom, blaas hy ook die laaste asem uit.
Elkeen van ons het ook ‘n lewe, maar ‘n lewe wat ons in detail beleef met ‘n oorvloed van emosie. Ons is onsekerheid as kinders en wil so graag deur ons vriende aanvaar word, maar beleef gewoonlik verwerping. Sommige van ons word geboelie en ander word verwaarloos of selfs mishandel, …maar die lewe gaan voort. Daar is nie vir ons ‘n ander lewe as ‘n alternatief nie. Word ons groot, soek ons na ons eie plek in die samelewing en probeer inpas en wil aanvaar word. Ons doen baie vreemde dinge net om te voel ons is goed genoeg, maar bly twyfel en voel minderwaardig.
Liefdesteleurstellings, geliefdes wat sterf of emigreer, goeie verhoudings wat tot niet gaan, finansiële inkomste wat verdwyn, gesondheid wat verswak en omsit in siekte en pyn en soms vrees ons vir ons lewe. Onsekerheid oor die toekoms en ‘n antiklimaks aan die einde van ons lewe.
Prediker 12:1-8 En dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie— (2) voordat die son en die lig en die maan en die sterre verduister word en die wolke terugkom ná die reën, (3) dié dag wanneer die wagters van die huis sal bewe en die sterk manne krom word en die malers die werk staak, omdat hulle te min geword het, en die wat deur die vensters kyk, verduister word, (4) en die deure na die straat gesluit word, terwyl die geruis van die meul verswak; en hy opstaan as die voëltjies begin sing en al die tone van die lied dof sal word. (5) Ook sal hy bang wees vir ‘n hoogte, en verskriklike dinge sal op die pad wees! En die amandelboom sal in bloei staan, en die sprinkaan sal homself met moeite voortsleep, en die kapperkruid nutteloos wees; want die mens gaan na sy ewige huis, en die rouklaers sal op die straat rondgaan. (6) Voordat die silwerdraad verwyder word en die goue oliekruik stukkend val en die kruik by die fontein gebreek word en die wiel stukkend in die put val (7) en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.
Die dood is gelukkig nie die einde van ons lewe is nie, maar die lewe gaan voort nadat ons die laaste asem uitgeblaas het. Niemand wat uit die geslag van Adam voortgekom het, is sonder bewussyn na die dood nie, maar almal van hulle lewe. Ons kan nie sterf nie, want ons is uit God gebore.
Matthéüs 22:31-32 En wat die opstanding van die dode betref—het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie: (32) Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.
Die dood is dus nie die einde nie, maar die lewe gaan aan. Iemand wat nou 40 jaar oud is en dink hy het nog 40 jaar oor om te lewe en dan is daar niks nie, het ‘n verkeerde verwagting. Hy het dalk nog 40 jaar oor in hierdie koninkryk van hierdie wêreld, maar ons moet ons denke verander om op te hou dink aan jare tot die dood en dan is ons klaar. Ons is ewige wesens en kan nie sterf nie. Sodra ons deur die gordyn van die dood gegaan het, gaan die lewe net aan.
In teenstelling met die toestand waarin ons nou is, gaan ons omstandighede drasties anders wees in een van twee rigtings, of uiters beter, of uiters erger. Ons moet dus nooit vaskyk in ons lewe op hierdie aarde wat verby is en ons lewe wat nog oor is nie, maar ons verwagting moet kyk op ‘n oneindige aantal jare wat nog voor ons lê.
Ons almal se lewens het tans geweldige uitdagings, maar dit is net vir ‘n kort tydjie. Spandeer hierdie kort tydjie om jou gereed te maak om jou Skepper te ontmoet, sodat jy die res van die ewigheid in sy koninkryk kan deurbring, in plaas van die ewige duisternis. Moenie jou ewige toekoms se uitkoms abdikeer aan iemand anders nie. Maak self die saak uit met jou Skepper en werk jou eie heil uit.
Johannes 16:33 Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE