– Stefan Botha:
Génesis 27:41 En Esau was Jakob vyandig gesind vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak. 42 Maar toe hulle aan Rebekka die woorde van Esau, haar oudste seun, vertel, stuur sy en laat Jakob, haar jongste seun, roep en sê vir hom: Kyk, jou broer Esau sal hom op jou wreek deur jou dood te maak. 43 My seun, luister dan nou na my: maak jou klaar, vlug tog na Haran, na my broer Laban, 44 en bly ‘n rukkie by hom tot die woede van jou broer bedaar…
1 Petrus 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. 9 Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.
Génesis 28:1 Toe het Isak Jakob geroep en hom geseën; en hy het hom bevel gegee met die woorde: Jy mag geen vrou neem uit die dogters van Kanaän nie. 2 Maak jou klaar, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Bétuel, jou moeder se vader, en gaan haal vir jou daar ‘n vrou uit die dogters van Laban, jou moeder se broer. 3 En mag God, die Almagtige, jou seën en jou vrugbaar maak en jou vermeerder, sodat jy ‘n menigte van volke kan word. 4 En mag Hy jou gee die seën van Abraham, aan jou en jou nageslag saam met jou, dat jy die land van jou vreemdelingskap in besit kan neem wat God aan Abraham gegee het. 5 So het Isak Jakob dan weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban, die seun van Bétuel, die Arameër, die broer van Rebekka, die moeder van Jakob en Esau. 6 Toe Esau sien dat Isak Jakob geseën en hom na Paddan-Aram weggestuur het om daar vir hom ‘n vrou te gaan haal, terwyl hy hom geseën en hom bevel gegee het met die woorde: Jy mag geen vrou uit die dogters van Kanaän neem nie; 7 en dat Jakob na sy vader en sy moeder geluister het om na Paddan-Aram te gaan; 8 en toe Esau sien dat die dogters van Kanaän sleg was in die oë van sy vader Isak, 9 het Esau na Ismael gegaan en Máhalat, die dogter van Ismael, die seun van Abraham, die suster van Nébajot, by sy vroue vir hom as vrou geneem. 10 En Jakob het uit Berséba vertrek en na Haran gegaan. 11 Daarop kom hy by ‘n plek waar hy die nag oorgebly het, want die son was al onder. En hy neem een van die klippe van die plek en sit dit onder sy hoof, en hy gaan lê en slaap op dié plek. 12 En hy het gedroom—daar is ‘n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het.
Johannes 1:52 En Hy sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.
Génesis 28:13 En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; 14 en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. 15 En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het. 16 Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. 17 En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as ‘n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel. 18 Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as ‘n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. 19 En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus. 20 En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, 21 en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees. 22 En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.
Génesis 29:1 Toe lig Jakob sy voete op en gaan na die land van die kinders van die Ooste. 2 En meteens sien hy ‘n put in die veld en drie troppe kleinvee wat daarby lê, want uit dié put het hulle die vee laat drink; en daar was ‘n groot klip op die opening van die put. 3 En as al die troppe daar bymekaarkom, rol hulle die klip weg van die opening van die put en laat die vee drink; daarna sit hulle die klip weer op die opening van die put op sy plek. 4 Toe sê Jakob vir hulle: My broers, waar is julle vandaan? En hulle antwoord: Ons kom van Haran. 5 En hy vra hulle: Ken julle vir Laban, die seun van Nahor? En hulle antwoord: Ons ken hom. 6 Verder sê hy vir hulle: Gaan dit goed met hom? En hulle antwoord: Dit gaan goed; en daar kom sy dogter Ragel aan met die vee. 7 En hy sê: Kyk, die dag is nog lank; dit is nie tyd om die vee bymekaar te maak nie. Laat die vee drink, en gaan heen, laat hulle wei. 8 Toe antwoord hulle: Ons kan nie voordat al die troppe bymekaar is nie; dan rol hulle die klip weg van die opening van die put, en ons laat die vee drink. 9 Terwyl hy nog met hulle praat, kom Ragel met die kleinvee van haar vader aan, want sy het hulle opgepas. 10 Toe Jakob Ragel sien, die dogter van Laban, sy moeder se broer, en die vee van Laban, sy moeder se broer, loop Jakob nader en rol die klip weg van die opening van die put, en hy laat die vee drink van Laban, sy moeder se broer. 11 En Jakob het Ragel gesoen en sy stem verhef en geween. 12 En Jakob het Ragel vertel dat hy haar vader se broer en die seun van Rebekka was. Daarop het sy geloop en dit aan haar vader vertel. 13 Toe Laban die tyding hoor van Jakob, die seun van sy suster, loop hy hom tegemoet en omhels hom en soen hom en bring hom in sy huis. En hy het aan Laban al hierdie dinge vertel. 14 Toe sê Laban vir hom: Waarlik, jy is my been en my vlees. En hy het by hom ‘n volle maand gebly. 15 Daarop het Laban aan Jakob gevra: Sou jy my verniet dien, omdat jy my broer is? Sê my wat jou loon moet wees. 16 En Laban het twee dogters gehad—die naam van die oudste was Lea, en die naam van die jongste Ragel. 17 En Lea het dowwe oë gehad, maar Ragel was skoon van gestalte en mooi van aansien. 18 En Jakob het Ragel liefgehad, daarom het hy gesê: Ek sal u sewe jaar dien vir Ragel, u jongste dogter. 19 Toe antwoord Laban: Dit is beter dat ek haar aan jou gee as dat ek haar aan ‘n ander man gee. Bly by my. 20 So het Jakob dan sewe jaar gedien vir Ragel; en hulle was in sy oë soos ‘n paar dae, omdat hy haar liefgehad het. 21 Toe sê Jakob vir Laban: Gee tog my vrou, want my dienstyd is om, dat ek by haar kan ingaan. 22 Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en ‘n maaltyd berei. 23 Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan. 24 En Laban het aan haar sy slavin Silpa gegee, naamlik aan sy dogter Lea, as slavin. 25 En die anderdagmôre—daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg? 26 En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie. 27 Hou die volle bruilofsweek met haar; dan sal ons jou die ander een ook gee vir die diens wat jy nóg sewe jaar by my moet volbring. 28 En Jakob het so gedoen: hy het die volle bruilofsweek met haar gehou. Toe gee hy sy dogter Ragel aan hom as vrou. 29 En Laban het aan sy dogter Ragel sy slavin Bilha gegee as slavin vir haar. 30 En hy het ook by Ragel ingegaan en Ragel ook meer liefgehad as Lea. En hy was by hom nóg sewe jaar in diens. 31 En toe die HERE sien dat Lea die nie-geliefde was, het Hy haar skoot geopen; maar Ragel was onvrugbaar. 32 En Lea het bevrug geword en ‘n seun gebaar en hom Ruben genoem; want sy het gesê: Gewis, die HERE het my ellende aangesien, want nou sal my man my liefhê. 33 En sy het weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en gesê: Gewis, die HERE het gehoor dat ek die nie-geliefde is en my hierdie een ook gegee. En sy het hom Símeon genoem. 34 En sy het weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en gesê: Nou eindelik sal my man aan my geheg wees, omdat ek vir hom drie seuns gebaar het. Daarom het sy hom Levi genoem. 35 En sy het weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en gesê: Dié keer sal ek die HERE loof. Daarom het sy hom Juda genoem. En sy het opgehou met baar.
Génesis 30:25 En nadat Ragel Josef gebaar het, sê Jakob vir Laban: Laat my trek, dat ek na my woonplek en my land kan gaan. 26 Gee my vroue en my kinders waarvoor ek u gedien het, dat ek kan gaan; want u weet self hoe ek u gedien het. 27 Daarop antwoord Laban hom: As ek nou guns in jou oë gevind het—ek het waargeneem dat die HERE my om jou ontwil geseën het. (Génesis 28:14 en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word.) 28 Verder sê hy: Bepaal vir my jou loon, en ek sal dit gee. 29 Toe antwoord hy hom: U weet self hoe ek u gedien het en wat u vee by my geword het. 30 Want min was dit wat u vóór my koms gehad het, en dit het sterk vermeerder; en die HERE het u geseën op my voetspoor. Wanneer sal ek dan nou ook vir my huis werk? 31 En hy vra: Wat moet ek jou gee? Toe antwoord Jakob: U hoef my niks te gee nie. As u hierdie ding vir my wil doen, wil ek weer u kleinvee oppas, ja, versorg— 32 ek sal vandag deur al u kleinvee deurgaan en daaruit al die gestippelde en bont vee uitkeer; al die vee onder die skaaplammers wat swart is, en die bontes en gestippeldes onder die bokke, dit moet my loon wees. 33 En my regverdigheid sal later vir my getuig: as u kom om my loon na te gaan, sal alles wat nie gestippel of bont is onder die bokke, en wat nie swart is onder die skaaplammers nie, gesteelde goed by my wees. 34 Toe antwoord Laban: Goed, laat dit wees volgens jou woord! 35 En hy het dieselfde dag uitgekeer die gestreepte en bont bokke en al die gestippelde en bont bokooie, almal wat wit aan hulle gehad het, en almal wat swart was onder die skaaplammers, en dié aan sy seuns afgegee. 36 En hy het ‘n afstand van drie dae bepaal tussen hom en Jakob; en Jakob het die orige kleinvee van Laban opgepas. 37 Toe neem Jakob vir hom groen latte van populier—, amandel— en plataanhout, en hy skil daarin wit strepe, sodat die wit van die latte uitkom; 38 en hy sit die latte wat hy geskil het, vlak voor die vee in die trogge, in die drinkbakke waar die vee kom drink het; en hulle het verhit geword as hulle kom drink. 39 En die vee het verhit geword by die latte, en die vee het gelam gestreeptes, gestippeldes en bontes. 40 Toe skei Jakob die lammers, en hy draai die koppe van die vee na die gestreeptes en almal wat swart was onder Laban se vee. En hy het vir hom afsonderlike troppe gemaak en dié nie onder Laban se vee gesit nie. 41 En elke keer as die sterkste diere verhit word, sit Jakob die latte voor die oë van die vee in die trogge, sodat hulle verhit sou word by die latte. 42 Maar as die vee swakkerig was, het hy dit nie ingesit nie; so was dan die swakkes vir Laban en die sterkes vir Jakob. 43 En die man het buitengewoon uitgebrei en baie kleinvee en slavinne en slawe en kamele en esels gehad.
Génesis 31:1 Toe hoor hy die woorde van die seuns van Laban, dat hulle sê: Jakob het alles geneem wat ons vader s’n was; en uit wat ons vader s’n was, het hy al hierdie rykdom verwerf. 2 Jakob het ook meteens aan die aangesig van Laban gesien dat hy nie meer vir hom was soos gister en eergister nie. 3 En die HERE het aan Jakob gesê: Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie; en Ek sal met jou wees. 4 Toe stuur Jakob en laat Ragel en Lea veld toe roep na sy kleinvee 5 en sê vir hulle: Ek sien dat die aangesig van julle vader teenoor my nie meer is soos gister en eergister nie, maar die God van my vader was met my. 6 En julle weet self dat ek met al my krag julle vader gedien het; 7 maar julle vader het my bedrieg: hy het my loon tien maal verander. Maar God het hom nie toegelaat om my skade aan te doen nie. 8 As hy sê: Die gestippeldes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestippeldes. En as hy sê: Die gestreeptes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestreeptes. 9 So het God dan die vee van julle vader weggeneem en aan my gegee. 10 Eenkeer, in die tyd toe die kleinvee verhit was, het ek my oë opgeslaan en in ‘n droom gesien dat die bokramme wat die kleinvee dek, gestreep, gestippeld en bont was. 11 En die Engel van God sê vir my in die droom: Jakob! En ek antwoord: Hier is ek! 12 En Hy sê: Slaan tog jou oë op en kyk: al die bokramme wat die kleinvee dek, is gestreep, gestippeld en bont, want Ek het alles gesien wat Laban jou aandoen. (6 En julle weet self dat ek met al my krag julle vader gedien het; 7 maar julle vader het my bedrieg: hy het my loon tien maal verander.) 13 Ek is die God van Bet-el waar jy die gedenksteen gesalf het, waar jy aan My ‘n gelofte gedoen het. Maak jou dan nou klaar, trek weg uit hierdie land en gaan terug na jou geboorteland. 14 Toe antwoord Ragel en Lea en sê vir hom: Het ons nog deel of erfenis in die huis van ons vader? 15 Word ons nie deur hom as vreemdelinge beskou nie? Want hy het ons verkoop en die geld wat deur ons verkry is, geheel en al deurgebring. 16 Want al die rykdom wat God van ons vader weggeneem het, kom ons en ons kinders toe. Doen dan nou alles wat God jou gesê het.
Génesis 31:51 Verder sê Laban vir Jakob: Daar is dié hoop klippe, en daar is die gedenksteen wat ek tussen my en jou opgerig het— 52 hierdie hoop klippe is getuie, en die gedenksteen is getuie dat ék na jou kant toe hierdie hoop nie sal verbytrek nie, en dat jy na my kant toe hierdie hoop en hierdie gedenksteen nie sal verbytrek met slegte bedoelinge nie. 53 Die God van Abraham en die God van Nahor, die God van hulle vader, sal regter tussen ons wees. En Jakob het gesweer by die Vrees van sy vader Isak. 54 Toe het Jakob ‘n offer gebring op die gebergte en sy broers genooi om brood te eet. En hulle het brood geëet en die nag in die gebergte oorgebly.
Génesis 32:1 Jakob het ook verder gereis, en die engele van God het hom ontmoet. 2 Toe hy hulle sien, sê Jakob: Dit is ‘n leër van God! En hy het die plek Mahanáim genoem. 3 En Jakob het boodskappers uitgestuur voor hom uit na sy broer Esau in die land Seïr, die landstreek van Edom, 4 en aan hulle bevel gegee met die woorde: So moet julle aan my heer, aan Esau, sê: So sê Jakob, u dienaar—ek het as vreemdeling vertoef by Laban en daar gebly tot nou toe; 5 en ek het beeste en esels, kleinvee en slawe en slavinne verwerf, en my heer dit laat weet, sodat ek guns mag vind in u oë. 6 En die boodskappers het na Jakob teruggekom en gesê: Ons het by u broer Esau gekom, en hy trek u alreeds tegemoet en vier honderd man saam met hom. 7 Toe het Jakob baie bevrees en benoud geword, en hy het die mense wat by hom was, sowel as die kleinvee en beeste en kamele in twee laers verdeel; 8 want hy het gedink: As Esau op die een laer afkom en dit verslaan, sal die laer wat oorbly, vryraak. 9 En Jakob het gesê: o God van my vader Abraham en God van my vader Isak, o HERE, wat my beveel het: Gaan terug na jou land en na jou familie, en Ek sal aan jou goed doen— 10 ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het; want ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword. 11 Red my tog uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang vir hom, dat hy sal kom en my doodslaan, die moeder saam met die kinders. 12 U het tog self gesê: Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanweë die menigte nie getel kan word nie. 13 En hy het die nag daar oorgebly en van wat in sy besit was, ‘n geskenk geneem vir sy broer Esau: 14 twee honderd bokooie en twintig bokke, twee honderd skaapooie en twintig ramme, 15 dertig kameelkoeie wat in die melk was, met hulle kalfies, veertig koeie en tien bulle, twintig eselinne en tien jong esels; 16 en hy het hulle aan sy dienaars afgegee, elke trop afsonderlik, en aan sy dienaars gesê: Trek voor my uit, en laat ‘n plek oop tussen trop en trop. 17 Daarop gee hy aan die eerste een bevel en sê: As my broer Esau jou teëkom en jou vra: Aan wie behoort jy, en waarheen gaan jy, en wie s’n is die goed daar voor jou? 18 dan moet jy antwoord: U dienaar Jakob s’n. Dit is ‘n geskenk wat hy aan my heer Esau stuur; en kyk, hy self kom ook agter ons aan. 19 En hy het ook bevel gegee aan die tweede en aan die derde en aan almal wat agter die troppe geloop het, en gesê: Net so moet julle Esau antwoord as julle hom kry— 20 julle moet sê: Kyk, ook u dienaar Jakob kom agter ons aan. Want hy het gedink: Laat ek hom versoen met die geskenk wat voor my uit gaan, en daarna sy aangesig sien—miskien sal hy my in guns aanneem. 21 So het die geskenk dan voor hom uit gegaan, maar hy self het dié nag in die laer gebly. 22 En hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue en sy twee slavinne en sy elf kinders geneem en deur die drif van die Jabbok getrek: 23 hy het hulle geneem en hulle deur die rivier laat trek, ook laat deurtrek wat aan hom behoort het. 24 Maar Jakob het alleen agtergebly, en ‘n Man het met hom geworstel tot dagbreek. 25 En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. 26 Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën. 27 En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob. 28 Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin. 29 Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën. 30 Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered. 31 En die son het vir hom opgegaan net toe hy Pnuel verby was; en hy was mank aan sy heup. 32 Daarom eet die kinders van Israel die heupsening, wat aan die heupbeen is, tot vandag toe nie, omdat Hy Jakob op die heupbeen, aan die heupsening, geslaan het.
Génesis 33:1 En Jakob het sy oë opgeslaan, en toe hy meteens Esau sien aankom en vier honderd man saam met hom, het hy die kinders onder Lea en Ragel en onder die twee slavinne verdeel. 2 En hy het die slavinne met hulle kinders eerste, en Lea met haar kinders daaragter, en Ragel en Josef laaste opgestel; 3 maar hy self het voor hulle uit gegaan en hom sewe maal na die aarde gebuig, totdat hy by sy broer gekom het. 4 Toe loop Esau hom tegemoet en omhels hom en val hom om die hals en soen hom; en hulle het geween. 5 Daarna het hy sy oë opgeslaan en die vroue en kinders gesien en gesê: Wie het jy daar by jou? En hy antwoord: Die kinders wat God uit genade aan u dienaar geskenk het.
Jakobus 2: 14 Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? 15 As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, 16 en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie—wat baat dit? 17 Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood. 18 Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon. 19 Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder. 20 Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is? 21 Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie? 22 Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke? 23 En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem. 24 Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie? 25 En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie? 26 Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.
DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE