– Banie Swanepoel:
Eségiël 28: 11 Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê: 12 Mensekind, hef ‘n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here Here: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. 13 Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei. 14 Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. 15 Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is. 16 Weens die grootheid van jou koophandel het hulle jou binneste met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut! 17 Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp, Ek het jou oorgegee voor die aangesig van konings, dat hulle op jou neer kan sien. 18 Weens die menigte van jou ongeregtighede, deur die onreg van jou koophandel, het jy jou heiligdomme ontheilig; daarom het Ek ‘n vuur uit jou binneste laat uitgaan; dit het jou verteer, en Ek het jou tot as gemaak op die aarde voor die oë van almal wat jou gesien het.
Openbaring 12: 5 En sy het ‘n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. 6 En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ‘n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank. 7 En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; 8 en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. 9 En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. 10 Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag. 11 En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. 12 Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.
Openbaring 6: 5 En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n swart perd; en hy wat daarop sit, het ‘n skaal in sy hand. 6 En ek het ‘n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ‘n Rantsoen koring vir ‘n penning en drie rantsoene gars vir ‘n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie. 7 En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! 8 En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.
Matthéüs 24: 6 En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. 7 Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. 8 Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte. 9 Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. 10 En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. 11 En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. 12 En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. 13 Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.
Psalm 91: 1 HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. 2 Ek sal tot die Here sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. 3 Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes. 4 Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is ‘n skild en pantser. 5 Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, 6 vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie! 7 Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand — na jou sal dit nie aankom nie.
DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE