Geloof vra opoffering (07-04-2024)

– Banie Swanepoel:

Wat is geloof?

  • Dit waarvan ons oortuig is.
  • Dit wat ons optrede bepaal.

Waar kom ons aan dit wat ons glo?

  • Ons glo dít waarmee ons grootgeword het.
  • Ons hou vas aan geloof wat pas by lewensstyl.
  • Ons lewensstyl is gevorm deur hoe ons grootgeword het, dit het ook ons geloof gevorm en daarom is dit baie moeilik om dit te verander.

Gevolgtrekking: Iemand wat ernstig is om die waarheid te vind en dit dan te glo, se lewensstyl sal daardeur beïnvloed word en dit vra dapperheid en opoffering omdat daar ‘n prys gaan wees om te betaal.  Omdat die wêreld ‘n vyand van God is, sal alle waarheid van God my algemene lewensstyl negatief in hierdie wêreld beïnvloed.

Matthéüs 10:34-36  Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard.  35  Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ‘n man en sy vader, en tussen ‘n dogter en haar moeder, en ‘n skoondogter en haar skoonmoeder.  36  En ‘n mens se huisgenote sal sy vyande wees.

As ek nie my lewe verander wil hê nie, wat is my alternatief? Ek kry vir my ‘n prediker wat vir my sê wat ek wil hoor deur my te kan oortuig dat ek nie anders hoef te glo nie en dan nog steeds die ewige lewe sal beërwe. Dit is die gewilde opsie, want dit vra nie ‘n offer om te betaal nie.

2 Timótheüs 4:1-4  Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:  2  verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;  3  want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,  4  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Omdat die woorde van die profete, apostels en Yahshua hard is en dit ‘n verpligting op ons plaas, verkies ons om eerder na ‘n veranderde weergawe van hulle woorde te luister, net solank ek seker is dat ek nog steeds gered gaan word.

Judas 1:3-4  Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.  4  Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.

Omdat ons deur ons geloof gered word, en ons glo, maar iets anders as God se woord, sal ons geloof ons nie kan red nie. Ons moet in Hom glo. Hý is die Woord, so ons moet sý Woord glo. As ons dan ‘n veranderde weergawe ontvang van wat sý Woord is, glo ons nie in Hom nie, want ons ken Hom nie vir wie Hy is nie, maar vir wie iemand anders vir ons gesê het Hy is.

Matthéüs 7:21-27  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  22  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?  23  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!  24  Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.  25  En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.  26  En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het.  27  En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.

Ons word deur geloof gered. Ons word gered deur wat ons glo. As ons glo want alle mense glo, maar ons glo anders as wat God gesê het, dan glo ons Hom nie en sal verlore gaan.

Johannes 8:24  Ek het dan vir julle gesê dat julle in jul sondes sal sterwe; want as julle nie glo dat dit Ek is nie, sal julle in jul sondes sterwe.

1 Johannes 5:10  Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie.

Ons probleem is dat ons geen kennis van God het om in Hom te kan glo nie en dan enige vals prediker se woorde glo.

Romeine 10:2-3  Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis.  3  Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.

Hoe weet ons wie is die slegte herders?

  1. ‘n Profeet kan nie die waarheid van God se woord verkondig en ook leuens nie.

‘n Fontein kan nie vars water en brak water voortbring nie.

Jakobus 3:10-12  Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.  11  ‘n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opborrel nie?  12  ‘n Vyeboom, my broeders, kan tog nie olywe voortbring, of ‘n wingerdstok vye nie? So kan geen fontein brak en vars water voortbring nie.

Matthéüs 7:15-20  Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.  16  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!  17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.  18  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.  19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.  20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.

Ons is grootgemaak met die gedagte dat iemand wat kom in die Naam van God onberispelik is in hulle motief en kennis, tog waarsku Yahshua self ons om nie so te wees nie, maar om versigtig te wees.

  • ‘n Profeet wat teen betaling profeteer is altyd onder verdenking.

Miga 3:5-11  So sê die HERE aangaande die profete wat my volk verlei, wat as hulle maar iets het om met hulle tande te byt, vrede verkondig; maar teen hom wat niks in hulle mond steek nie, verklaar hulle ‘n heilige oorlog!  6  Daarom sal dit nag word vir julle, sonder ‘n gesig, en duister vir julle, sonder waarsêery; ja, die son sal oor die profete ondergaan, en die dag oor hulle verduister word.  7  En die sieners sal beskaamd staan, en die waarsêers sal bloos, en hulle almal sal die baard bedek, omdat daar geen antwoord van God kom nie.  8  Ek daarenteen is vol krag, mét die Gees van die HERE, en reg en heldemoed, om aan Jakob sy oortreding te verkondig en aan Israel sy sonde.  9  Hoor tog dit, hoofde van die huis van Jakob en owerstes van die huis van Israel! Julle wat van die reg ‘n afsku het en al wat reg is, verdraai;  10  julle wat Sion bou met bloed en Jerusalem met onreg!  11  Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ‘n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op die HERE en sê: Is die HERE nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie!

  • ‘n Profeet wat die eer en goedkeuring van mense soek

Johannes 5:44  Hoe kan julle glo wat van mekaar eer aanneem, en die eer wat van die enige God kom, soek julle nie?

1 Thessalonisense 2:4-6  maar soos ons deur God waardig geag is dat die evangelie aan ons toevertrou sou word, so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef.  5  Want ons het, soos julle weet, ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie. God is getuie.  6  Ook het ons nie eer van mense, òf van julle òf van ander gesoek nie, al kon ons as apostels van Christus met gesag optree.

Galàsiërs 1:8-10  Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!  9  Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!  10  Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie.

Ons mag nie net enige prediker glo nie, dit is lewens gevaarlik. Ons word almal deur die Heilige Gees gelei en het almal die vermoë om te kan onderskei wat waarheid en wat leuen is.

2 Petrus 2:1-3  Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring;  2  en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word;  3  en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.

Jeremia 14:14  En die HERE het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ‘n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart.

Watter kerk is dan reg en watter profeet kan ons glo?

Die Bybel is vol profete, ons moet húlle glo. Yahshua self se woorde is vir ons opgeskryf, ons kan dit net lees en glo. Ons het nie mense as tussengangers nodig om vir ons te sê wat God se wil is nie, ons het sy eie woorde.

1 Johannes 2:26-27  Dit het ek aan julle geskrywe met betrekking tot die wat julle mislei.  27  En die salwing wat julle van Hom ontvang het, bly in julle, en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly.

Beteken dit dan dat ons nie leraars nodig het nie? Nee, die leraar bring die perd tot by die water en dan moet die perd self drink. Die leraar bring die Bybelstudent tot by die evangelie, maar dan moet die student dit self in die Woord ondersoek of dit so is, en as hy dit doen sal sy geloof nie gegrond wees op die leraar nie, maar op die Woord wat hy self ondersoek het.

Handelinge 17:11-12  En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.  12  Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.

2 Timótheüs 3:14-17  Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het,  15  en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.  16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,  17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Spreuke 14:12  Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.

Lukas 13:24  Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie. 

Vader waarborg self dat ons die waarheid sal vind as ons dit soek

Matthéüs 7:7-8  Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.  8  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word

Matthéüs 7:13-14  Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.  14  Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.

DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE