- Hoséa 1 (03-10-2025)
Romeine 9:20 Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? 21 Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? 22 En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, 23 juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid, 24 ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? 25 Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde; 26 en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God.
Hoséa 1:1 Die woord van die HERE wat gekom het tot Hoséa, die seun van Beëri, in die dae van Ussía, Jotam, Agas, Jehiskía, konings van Juda, en in die dae van Jeróbeam, die seun van Joas, koning van Israel. 2 Die begin van wat die HERE met Hoséa gespreek het; die HERE het aan Hoséa gesê: Gaan heen, neem vir jou ‘n hoervrou en hoerkinders; want die land het grootliks owerspel bedrywe deur van die HERE afvallig te word. 3 Toe het hy gegaan en Gomer, die dogter van Diblaim, geneem; en sy het swanger geword en vir hom ‘n seun gebaar. 4 En die HERE het vir hom gesê: Noem hom Jísreël, want nog ‘n klein tydjie, dan sal Ek die bloedskuld van Jísreël aan die huis van Jehu besoek en ‘n einde maak aan die koninkryk van die huis van Israel. 5 Ja, in dié dag sal Ek die boog van Israel verbreek in die laagte van Jísreël. 6 Toe het sy weer swanger geword en ‘n dogter gebaar; en Hy het vir hom gesê: Noem haar Lo-Rugáma, want Ek sal My verder nie meer oor die huis van Israel ontferm deur hulle vergifnis te skenk nie. 7 Maar oor die huis van Juda sal Ek My ontferm en hulle verlos deur die HERE hulle God, en Ek sal hulle nie deur boog of swaard of oorlog, deur perde of ruiters verlos nie. 8 Nadat sy Lo-Rugáma gespeen het, het sy weer swanger geword en ‘n seun gebaar. 9 En Hy het gesê: Noem hom Lo-Ammi, want julle is nie my volk nie, en Ek sal nie julle s’n wees nie. 10 Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie—sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God. 11 Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel almal saam vergader en vir hulle een hoof aanstel en uit die land optrek; want groot is die dag van Jísreël! 12 Sê aan julle broers: Ammi, en aan julle susters: Rugáma.