Daar is twee tipe mense: Die wat onseker is oor die dag van môre en die wat seker is oor die dag van môre.
As jy onseker is oor die dag van môre, dan is daar ‘n manier om seker te wees.
As jy seker is oor die dag van môre, dan het jy vrede en jy het rus en jy is nie bevrees. As jy vind jy het nog vrees, dan moet jy ondersoek instel en die antwoord vind.
Yahshua sê Hy laat Sy vrede vir ons na. Nie die wêreld se vrede nie, want in die wêreld soek ons vrede en ons dink as ons meer in ons bankrekening kan hê as wat ons in ons lewe kan uitgee, sal ons vrede hê. Nee, geen vrede nie…
As my familie uitgesorteer is en almal is goed versorg, dan gaan ek vrede hê? Nee, steeds nie.
Hoe jonger ‘n mens is, hoe meer onseker is jy oor die dag van môre. As jy alreeds vêr gevorder is en jy is nog onseker oor môre, dan is jy in die moeilikheid, die tyd het uitgeloop.
As jy nog jonk is en jy is onseker oor môre, is jy ook in die moeilikheid. Die tyd het jóú ook uitgeloop… ons is aan die einde van die dae.