Uitverkiesing en Verlossing (05-06-2016)

– Banie Swanepoel:

Uitverkiesing en verlossing is nie dieselfde ding nie. As jy uitverkies is, is jy nie noodwendig verlos nie.

Kom ons kyk eers wie is uitverkies en hoekom is daar ‘n uitverkiesing en waaroor die uitverkiesing gaan.

Elke kerk in die wêreld het sy lering en elke kerk kan dit baie goed verdedig. Dit maak nie saak in watter kerk jy in ‘n argument betrokke raak nie, hulle sal teenargumente hê, behalwe as jy praat oor die uitverkiesing… Dan hardloop hulle weg, want daar is net één antwoord en dit is die antwoord wat die wêreld haat…

GOD het uitverkies en dan sê die SKrif, “is daar miskien onreg by GOD?” Ons weet GOD kan nie onregverdig wees nie. So, Hy is regverdig in Sy uitverkiesing.

Die totale lering van die moderne tyd waarin ons leef, is dat daar geen uitverkiesing is nie en “uitverkiesing” is krimmineel, maar ons gaan in hierdie boodskap sien dat die Skrif vol daarvan is.

Dat die uitverkiesing deel van GOD is. Dat Hy uitverkies het en dat Hy baie ernstig daaroor voel.

Waneer jou lering, evangelie of geloof verskil van GOD se Woord, dan het jy jou eie geloof.

So, wanneer jy hierdie boodskap hoor, bêre dit in jou hart en sien dit in die Skrif, sodat niemand dit van jou kan roof nie.

Deuteronómium 7:6  Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. 7  Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. 8  Maar omdat die HERE julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het, het die HERE julle met ‘n sterke hand uitgelei en jou uit die slawehuis, uit die hand van Farao, die koning van Egipte, verlos. 

Deuteronómium 10:14  Kyk, aan die HERE jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is. 15  Maar net aan jou vaders het die HERE ‘n welgevalle gehad om hulle lief te hê, en Hy het julle, hulle nageslag ná hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag is. 

Johannes 15:12  Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het. 13  Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. 

Deuteronómium 14:2  Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God, en jou het die HERE uitverkies om sy eiendomsvolk te wees uit al die volke wat op die aarde is. 

Jesaja 41:8  Maar jy, Israel, my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend, 9  jy, wat Ek gegryp het van die eindes van die aarde en van sy uithoeke geroep het, en Ek het aan jou gesê: Jy is my kneg; jou het Ek uitverkies en jou nie verwerp nie. 10  Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand. 

Psalm 147:19  Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. 20  So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie. Halleluja! 

Jeremia 33:23  Verder het die woord van die HERE tot Jeremia gekom en gesê: 24  Het jy nie gemerk wat hierdie volk spreek nie as hulle sê: Die twee geslagte wat die HERE uitverkies het, dié het Hy verwerp? En hulle verag my volk, sodat dit geen nasie voor hulle meer is nie. 25  So sê die HERE: As Ek my verbond met dag en nag, die insettinge van hemel en aarde, nie vasgestel het nie, 26  dan sal Ek ook die nageslag van Jakob en van my kneg Dawid verwerp,

Johannes 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. 17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. 18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. 

Jeremia 31:35  So sê die HERE wat die son gee tot ‘n lig oordag, die ordeninge van die maan en van die sterre tot ‘n lig in die nag; wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis, HERE van die leërskare is sy Naam: 36  As hierdie verordeninge voor my aangesig sal wyk, spreek die HERE, dan sal die nageslag van Israel ook ophou om ‘n volk te wees voor my aangesig vir altyd. 37  So sê die HERE: As die hemele daarbo gemeet en die fondamente van die aarde daaronder nagespeur kan word, dan sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp weens alles wat hulle gedoen het, spreek die HERE. 

Lukas 1:16  En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God. 

Matthéüs 1:20  Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; 21  en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. 

Matthéüs 2:6  En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.  

Hebreërs 2:17  Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. 

Hebreërs 4:8  Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ‘n ander dag daarná spreek nie. 9  Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; 10  want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. 

Hebreërs 8:8  Want Hy berispe hulle en sê: Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond tot stand sal bring, 9  nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; want hulle het nie gebly by my verbond nie, en Ek het hulle veronagsaam, spreek die Here. 10  Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. 

Hebreërs 13:11  want die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word—hulle liggame word buitekant die laer verbrand. 12  Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely. 

2 Timótheüs 2:8  Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie, 9  waarin ek verdrukking ly tot die boeie toe soos ‘n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie. 10  Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid. 

Eségiël 33:11  Sê vir hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe, o huis van Israel? 

Jesaja 59:20  Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die HERE. 21  Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die HERE: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie. 

Openbaring 3:18  Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. 19  Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. 20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. 

Handelinge 2:22  Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet— 

Handelinge 2:37  Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? 38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. 39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep. 40  En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag. 41  Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring. 

2 Petrus 3:9  Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom. 10  Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. 11  Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — 12  julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. 13  Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.  14  Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede. 

As jy hierdie gelees het en dit nie die eerste keer insien nie, lees dit weer aandagtig en sien in wat die diep betekenis is.

Ons dink Vader YHWH is gevoelloos. Ons dink Hy werk net volgens reëls en beginsels. Ons besef nie dat Hy net soos ons ook emosies het nie. Wanneer Hy sê Hy het ons lief, is dit nie uit beginsels nie, maar net soos wat ons liefhet, het Hy óók lief. Net soos wat ons hart skeur as ons iemand liefhet, maar daardie persoon het ons nie terug lief nie, net so skeur sý hart ook. Net soos ons wonder hoe lank gaan ons nog probeer om ons geliefde se hart te wen voordat ons tou opgooi, net so stel Hý ook uit.

Het sy my lief, of gebruik sy my net vir dit wat ek haar bied? Hoe is dit dat sy sê sy het my lief, maar sy maak onderlangs ogies vir ander mans?

Dieselfde skok wat ons hart tot stilstand bring as ons dit agterkom, is die skok wat deur Hom gaan as ons sê ons het Hom lief, maar ons bedrieg Hom, net sodat ons voordeel uit Hom kan trek. Net soos wat ons nagte om huil omdat ons geliefde se hart aan iemand anders behoort, net so treur YHWH oor ons.

Wanneer Hy Israel vir jare waarsku dat Hy hulle in ballingskap gaan stuur omdat hulle Hom nie liefhet nie, maar dan lank vat om dit uiteindelik te doen, is dit omdat Hy uitstel in die hoop dat hulle hart sal verander om Hom lief te kry.

Jesaja 54:5-8  Want jou Maker is jou Man; HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word.  6  Want soos ‘n verlate vrou en ‘n bedroefde van gees het die HERE jou geroep, en soos ‘n vrou uit die jeugtyd as sy versmaad was, sê jou God.  7  Vir ‘n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader.  8  In ‘n uitstorting van toorn het Ek vir ‘n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die HERE, jou Verlosser.

Wanneer Hy wel Israel in ballingskap laat gaan is sy motief nie om hulle te straf nie, maar dat hulle van hulle ander liefde afstand moet doen en Hom sien vir wie Hy is en Hom lief kry. Hy is die “prins op die wit perd” wat sy lewe in hulle plek gee, sodat hulle verlos kan word van die dood. Hy is die een wat hulle gevormeer het en hulle die kroon van sy skepping gemaak het deur hulle na sy beeld te skape. Hy is die een wat net goeie dinge oor hulle bedink en niks wat sleg is nie.

Hulle het agter ander liefde aangegaan net omdat hulle bedrieg is en Hom nie ken vir wie Hy is nie.

Die van ons wat die ondervinding van ‘n gebroke hart het deurdat jou geliefde jou verlaat en iemand anders liefgekry het, beleef die geweldige pyn wat dit veroorsaak het. Dit wat jy daaruit kan neem, is om te weet dat die onverganklike pyn wat jy daagliks in jou hart voel vergelykbaar is met die pyn in sý hart as ons Hom vergeet… as ons ons eerste liefde verlaat. Die van ons wat die ervaring het dat jy iemand liefgekry het, maar daardie persoon het jou nie lief nie en jy wonder of dit die moeite werd is om aan te hou probeer.

Jy wonder of dit die moeite werd is om emosies te beleef wat jou lewe moeilik maak. Jou slaap het verdwyn en jou denke aan daardie persoon wil jou nie verlaat nie. Jy probeer vergeet, maar jy kan nie… weet dat Vader ook so voel. Hy het Israel liefgekry en sy liefde aan Israel verklaar. Hy het sy hart oopgemaak en gesê; “jou alleen het Ek liefgehad uit al die volke wat op die aarde is”.

Ons neem sy woorde ligtelik op, maar wie van ons sal vir die een vir wie jy liefgekry het sommer jou hart oopmaak en die diepste geheim van liefde aan daardie persoon verklap? Ons doen dit nie, want ons is te bang ons gaan seerkry, maar Hý het dit gedoen, en toe gebeur dit werklik ook so met Hom; Hy het seergekry, want Israel het Hom nie terug liefgekry nie.

As jy dus die ervaring van ‘n stukkende hart het en jy voel stoksielalleen en uitverkoop, assosieer dan met God, want dit is hoe Hy elke dag, heeldag voel oor sy onbeantwoorde liefde tot ‘n volk wat Hom nie wil liefhê nie. Sy geliefdes bespot Hom en ontken Hom. Hy het nie lief nie, maar Hy is liefde.

Wanneer ons liefde tot ‘n ander persoon onbeantwoord bly en ons lewe kompliseer en dreig om dit te verwoes, beëindig ons daardie uitreiking na die ander persoon en sny alle bande en beoefen totale vermyding van kontak. Ons verwyder tot alle foto’s en vermy plekke wat ons aan daardie persoon sal laat dink, sodat daardie persoon totaal uit ons geheue kan verdwyn, sodat die pyn daarmee saam kan verdwyn. Vader beleef dit ook, maar sy liefde vir ons is sterker as die pyn wat ons afwesigheid van liefde aan Hom veroorsaak. Al is ons ontrou, Hy bly getrou. Hy kan nie ontrou wees nie. Al gee Hy ons oor aan tye van benoudheid, bly sy hand altyd uitgereik na ons toe, want die begeerte van sy hart is altyd dat ons terug uitreik en sy hand gryp en Hom terug liefhê.

 Jesaja 49:14-16  Maar Sion sê: Die HERE het my verlaat, en die Here het my vergeet!  15  Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!  16  Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My. Hoséa 1:10-11  Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie—sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God.  11  Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel almal saam vergader en vir hulle een hoof aanstel en uit die land optrek; want groot is die dag van Jísreël!

Vader YHWH, ons het U baie lief, want U is ons alles. Ons het nie ander liefde buite U nie, want U is ons Alfa en ons Omega. Baie dankie dat U ons liefgehad het toe ons nog sondaars was en dat U volhard het in U liefde vir ons, al het ons U nie dadelik gehoor nie. Ons dank U dat U volhard het in U liefde, al het ons U baie hartseer gemaak omdat ons U liefde verwerp het. Wanneer ons self seerkry as gevolg van onbeantwoorde liefde en ons besef dit is hoe ons U seer gemaak het, dan kry ons skaam en ons voel self hartseer omdat ons so opgetree het.

Hoe langer ons in ‘n liefdesverhouding met U is hoe meer deel U U hart met ons en hoe meer liefde ervaar ons van U. Dankie dat ons verhouding met U gebaseer kan wees op liefde; liefde wat U reeds bewys het. U het die waarde van U liefde aan ons afgemeet en die prys was bereken; dit was só duur soos die lewe van die ewige Skepper. Baie dankie Vader.

DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE