Verootmoediging (22-07-2025)

2 Kronieke 7:11 En toe Salomo die huis van die HERE en die huis van die koning voltooi het, en alles wat in Salomo se hart gekom het om in die huis van die HERE en in sy huis te maak, voorspoedig uitgevoer het, 12 verskyn die HERE in die nag aan Salomo en sê vir hom: Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My as ‘n offerhuis verkies. 13 As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, 14 en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.

Deuteronómium 11: 26 Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor— 27 die seën as julle luister na die gebooie van die HERE julle God wat ek julle vandag beveel; 28 en die vloek as julle nie luister na die gebooie van die HERE julle God nie, maar afwyk van die weg wat ek julle vandag beveel, om agter ander gode aan te loop wat julle nie geken het nie. 29 As dan die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, moet jy die seën op die berg Gerísim lê en die vloek op die berg Ebal. 30 Lê hulle nie oorkant die Jordaan, agter die pad in die weste, in die land van die Kanaäniete wat in die Vlakte woon, teenoor Gilgal, by die terpentynbome van More nie? 31 Want julle trek deur die Jordaan om die land in besit te gaan neem wat die HERE julle God aan julle sal gee; en julle sal dit in besit neem en daarin woon. 32 Onderhou dan sorgvuldiglik al die insettinge en die verordeninge wat ek julle vandag voorhou.

Deuteronómium 4:25 As jy kinders en kindskinders sal verwek en julle in die land verouderd sal wees en verderflik handel deurdat julle ‘n gesnede beeld maak, ‘n gelykenis van enigiets, en doen u wat verkeerd is in die oë van die HERE jou God om Hom te terg, 26 dan neem ek vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle dat julle sekerlik gou uit die land sal vergaan waarheen julle oor die Jordaan trek om dit in besit te neem; julle sal die dae daarin nie verleng nie, maar sekerlik verdelg word. 27 En die HERE sal julle onder die volke verstrooi, en ‘n klein klompie van julle sal onder die nasies oorbly waarheen die HERE julle sal drywe. 28 En daar sal julle gode dien, die werk van mensehande, hout en klip wat nie sien en nie hoor en nie eet en nie ruik nie. 29 Dan sal julle daarvandaan die HERE jou God soek en vind as jy Hom met jou hele hart en jou hele siel soek. 30 As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die HERE jou God terugkeer en na sy stem luister. 31 Want die HERE jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie.

Matthéüs 6:27 Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? 28 En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; 29 en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. 30 As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? 31 Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? 32 Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. 33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. 34 Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.