Waaroor gaan die Bybel? (2024)

Banie Swanepoel: Die Bybel gaan nét oor die herstel van die skepping van God.

001 – Waaroor gaan die Bybel? (24-11-2024)

  • Die Bybel gaan nét oor die herstel van die skepping van God wat verwoes lê en ons as mense vorm net ‘n deel daarvan.
  • Indien die sondeval nie plaasgevind het nie, was daar nie ‘n Bybel nie. Daar sou ook nie ‘n uitverkiesing of ‘n Ou- en Nuwe Testament gewees het nie, ook selfs nie ‘n verlossingsplan nie.
  • Die enigste rede waarom daar dus ‘n Bybel is, is ter wille van die herstel van dit wat verkeerd gegaan het in die Paradys.

In die begin, toe God die hemel en die aarde gemaak het, het Hy gesê dat dit goed was, maar nou sien ons nie dat dit goed is nie, maar dit is sleg, baie sleg.

Génesis 1:31  Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.

Die hemel en die aarde soos ons dit vandag ken is nie ‘n goeie getuienis vir die Skepper nie, want dit is nie ‘n goeie skepping nie.

Psalm 90:10  Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.

Maar Hy laat dit nie in so ‘n toestand nie, want Hy gaan dit herstel en dit is waaroor die Bybel gaan.

  • Omdat die Skepper volmaak is, en alles wat Hy skep volmaak is, is die huidige skepping ‘n ontheiliging van sy Naam.
  • Die kroon van sy skepping, die mens, is verdoem tot die ewige dood en die aarde is vervloek deur die Skepper en bring dorings en distels voort.
  • Die hemelwesens van die heelal kyk na die skepping en is bewus dat dit nie ‘n beeld van God is nie en wonder wat Hy gaan doen om dit te herstel.
  • Die Almagtige is volmaak en hierdie skepping getuig nie van ‘n volmaakte Skepper nie.
  • Die Bybel verklaar hoe Hy dit alles gaan herstel.

Die Bybel word ongelukkig deur meeste mense aangewend as ‘n middel om hulself te bevoordeel, in plaas van om te sien wat dit sê oor die herstel van God se skepping. Omdat mense die Bybel selfsugtig lees, gaan die hele boodskap vir hulle oor hulself en watter voordeel daar vir hulle in is. Die teendeel is dat dit meestal te doen het met God, sy skepping en sy herstel daarvan. Wanneer ons dus die Bybel lees, moet ons van onsself vergeet en sien wat dit van God sê, en sy herstelling van sy skepping en sy Naam.

  • Ons het voorafopgestelde idees van wat die evangelie is, wat ons deur oorlewering gekry het, ter wille van ons eie voordeel.

Vandag bestaan daar duisende kerke en elkeen verkondig sy eie weergawe van die Bybel. Meestal ken hulle net ‘n paar begrippe uit die Bybel en dit gaan gewoonlik oor die verlossing en die voorspoed van die mens, en nie oor die eer van God se Naam nie.

  • Die bose kringloop is dat ware soekers na die waarheid in hierdie selfde slaggat trap en oorlewering van mense glo en nie die Bybel nie.

Omdat ons nie vanaf die regte beginpunt begin nie en nie weet waar die eindpunt is nie, gaan ons soos blinde mense rondtas en ons eie gevolgtrekkings probeer maak uit die Boek waarvan ons geen kennis het nie.

1 Korinthiërs 15:34  Wees nugter op die regte manier, en sondig nie; want sommige het geen kennis van God nie. Ek sê dit tot julle beskaming.

Ons gryp na verse wat ons beïndruk en weef dit dan saam, sodat ons vir onsself ‘n evangelie kan maak, wat pas by dit wat ons wil glo.

2 Petrus 1:16  Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit;

  • Die begin van die Bybel is in die Paradys waar God se Naam ontheilig was en weet dat dit weer daar gaan eindig, waar sy Naam weer geheilig gaan word.

Ons as mens speel nie die hoofrol in die Bybel nie en moet weet dat die Bybel nie primêr oor ons gaan nie. God het sy Koninkryk verloor, Hy het sy nageslag verloor en sy Naam is ontheilig. Dit alles gaan Hy herstel en dit is waaroor die Bybel gaan. Ons as mens is net ‘n deel daarvan.

Alles wat Hy doen word in geregtigheid gedoen en dit mag soms vir ons nie sin maak nie, omdat ons nie al die inligting het nie. Die feit dat ons nie saam met Hom stem nie, maak geen verskil aan Hom nie en Hy sal bereik dit wat Hy van plan is om te doen.

Jeremia 31:31  Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit; 32  nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. 33  Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, … 

Jesaja 51:5-6  My oorwinning is naby, My heil trek uit en My arms sal die volke oordeel; op My sal die eilande wag, en op My arm sal hulle hoop.  (6)  Slaan julle oë op na die hemel en aanskou die aarde daaronder; want die hemel sal soos rook verdwyn en die aarde soos ‘n kleed verslyt en sy bewoners soos muskiete sterwe; maar My heil sal vir ewig bestaan en My geregtigheid nie verbreek word nie.

Jesaja 55:8-9  Want My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie My weë nie, spreek die HERE.  (9)  Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is My weë hoër as julle weë en My gedagtes as julle gedagtes.

Kry die groter prentjie:

Ons lewe nou min of meer ses duisend jaar na die skepping van hierdie hemel en aarde en vir die laaste ses duisend jaar is die skepping vervloek en in wanorde. Vir die eerste twee duisend jaar lyk dit selfs, uit die geskiedenis volgens die Bybel, of God baie min belang het by dit wat op die aarde gebeur.

Ons lees van Adam en Noag in die eerste paar hoofstukke, tog is dit ‘n tydperk van ‘n duisend seshonderd jaar. Gedurende hierdie tydperk van oënskynlike onbetrokkenheid van die Skepper, word die aarde en sy mense oorrompel deur bose hemelwesens. Die bose hemelwesens is vyande van die Skepper wat voor die skepping van hierdie hemel en aarde in vyandskap met die Skepper gegaan het, deur van Hom afvallig te geraak het deurdat hulle die Satan gevolg het toe hy besluit het om sy troon gelyk te stel aan die van die Almagtige Skepper. Hierdie is ‘n rebellie en ‘n oorlog waar geen mens betrokke was nie, tog dink ons dat alles om ons draai en dat ons belangriker as God is.

Om te dink dat hemelwesens vir hulle self vrouens geneem het, onder die kinders van die mens en by hulle kinders verwek het; half mens en half hemelwesens. Dit was die tyd van die reuse op die aarde.

Génesis 6:1-7  Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is,  (2)  sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.  (3)  Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar.  (4)  In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.  (5)  Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,  (6)  het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.  (7)  En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het.

Die mens is nie die middelpunt van alles nie en die evangelie van die Bybel gaan nie primêr oor ons nie. As ons dinge in die Bybel sien waarvan ons nie hou nie en nie mee saamstem nie, verander ons dit, want ons dink ons is die belangrikste. Ons verklaar dat die Bybel verkeerd is en blameer dit op vertalings, maar ons bewaar nie God se Woord nie, want ons het geen begrip waaroor dit gaan nie. Al wat vir ons belangrik is, is hoe dit op my betrekking het en watter voordeel dit vir my inhou.

Ons sien vandag nog getuienis van hierdie wesens wat lank voor ons op die aarde was. Die moderne mens verstaan byvoorbeeld nie waar die piramides vandaan gekom het nie, omdat ons vandag nog nie die vermoë het om sulke geboue te bou nie. As ons die Bybel lees en verstaan dat hierdie reuse kragtig was en die hemelse kennis van hulle “hemelwese-vaders” af gekry het, sal dit nie vir ons moeilik wees om te verstaan dat hierdie “half-mens”, “half-hemelwesens” die vermoë gehad het om al ons onverklaarbare bouwerk te kon doen nie.

Hierdie hemelwesens het die sondeval van Adam en die vervloeking van die aarde net vererger en die Skepper se volmaakte skepping verder vermink. Dit het later so beroerd gegaan dat die Skepper besluit het om alle lewe op die aarde te vernietig, maar daar was egter nog een opregte man saam met sy gesin, Noag. God spaar Noag en sy gesin se lewe toe hy die hele aarde met water verwoes.

Deur Noag gaan die herstelplan van God voort, want God laat vaar nooit die werke van sy hande nie. Die skepping van hemel en aarde het verkeerd gegaan toe Adam teen God sondig. Hierdie skepping het byna tot niet gegaan in die dae van Noag, maar God bewaar dit ter wille van sy Naam, en dit is onmoontlik dat die herstel nie sal gebeur nie, want Hy is almagtig en misluk nooit.

  • Wanneer ons die Bybel lees en wil verstaan is dit dus kardinaal belangrik om hierdie verlede te weet en te verstaan dat God sy vervalle Koninkryk gaan herstel.

Ons as mens is net ‘n deel daarvan en ons speel nie die hoofrol nie, maar God speel die hoofrol. Ons moet as beginpunt dus eerstens uitvind wie Hy is in hierdie verhaal, wat sy Naam is wat geheilig moet word, en dan eers wie ons is en wat ons rol is.

Omdat ons humanisties grootgemaak is, is ons oortuig dat God se wil ondergeskik is aan wat ons beskou as reg en geregtig en regverdigheid.

2 Sameul 21:4-10  Daarop sê die Gibeoniete vir hom: Dit is ons teenoor Saul en sy huis nie te doen om silwer en goud nie, en dit gaan vir ons nie daarom om iemand in Israel dood te maak nie. En hy vra: Wat dink julle dan moet ek vir julle doen?  (5)  En hulle sê vir die koning: Die man wat ons vernietig het en planne teen ons beraam het om ons te verdelg sonder dat ons in enige grondgebied van Israel kan voortbestaan—  (6)  laat sewe manne van sy seuns aan ons gegee word, dat ons hulle voor die HERE kan ophang in Gíbea van Saul, die uitverkorene van die HERE! En die koning het gesê: Ek sal hulle gee.  (7)  Maar die koning het Mefibóset, die seun van Jónatan, die seun van Saul, verskoon vanweë die eed by die HERE wat tussen hulle was, tussen Dawid en Jónatan, die seun van Saul.  (8)  Toe neem die koning die twee seuns van Rispa, die dogter van Aja, wat sy vir Saul gebaar het, Armóni en Mefibóset, en die vyf seuns van Merab, die dogter van Saul, wat sy vir Adriël, die seun van Barsíllai, die Meholatiet, gebaar het;  (9)  en hy het hulle oorgegee in die hand van die Gibeoniete, wat hulle opgehang het op die berg voor die aangesig van die HERE, sodat al sewe tesame omgekom het; en hulle is gedood in die eerste dae van die oes, in die begin van die gars-oes.  (10)  En Rispa, die dogter van Aja, het ‘n sak geneem en dit vir haar oopgespan op die rots, van die begin van die oes af totdat daar water uit die hemel op hulle gegiet het, en sy het die voëls van die hemel oordag nie toegelaat om op hulle te gaan sit nie, en ook nie die diere van die veld in die nag nie.

ऑ`~`~`~ ऑ`~`~`~ ऑ`~`~`~ ऑ`~`~`~ ऑ`

002 – Waaroor gaan die Bybel? (01-12-2024)

Na die sondvloed is alle vlees wat op die aarde is verdelg,behalwe hulle wat in die ark saam met Noag en die diere was. ‘n Kort tydjie na die sondvloed (in die tyd van Nimrod) verval die mens weer in verrotting en God verskerp sy strategie van herstel deur een persoon uit te kies en met hom en sy nageslag ‘n verbond te maak. Hierdie persoon is Abraham.

Die geslag deur Abraham, sy seun Isak en dié se seun Jakob, word die volk waarmee die Skepper ‘n verbond maak. Indien daar nie ‘n sondeval in die Paradys was nie en God nie die aarde vervloek het nie, was daar geen rede vir ‘n uitverkiesing van ‘n volk nie. Die uitverkiesing van Abraham en sy nageslag was dus ter wille van die herstel van dit wat in die Paradys verkeerd gegaan het.

Indien ons nie sou saamstem met die uitverkiesing van Abraham en sy nageslag nie, sal dit geen verskil aan God maak nie, want Hy gaan sy skepping herstel en ons kan deel daarvan wees, of nie. Dit is ons keuse of ons wil of nie, maar God is onveranderlik.

God maak ‘n verbond met hierdie geslag en ons lees van dit in die Bybel as die eerste verbond. Wanneer ons hierdie verbond wil bestudeer en sekere gevolgtrekkinge en afleidings maak, moet ons onthou wat die groter doel van die verbond is. Om te herstel wat verkeerd gegaan het in die Paradys.

As daar nie ‘n sondeval in die Paradys was nie, was daar nie ‘n verbondsvolk nie en was daar nie ‘n verbond nie. Die verbond van God is nie ‘n instelling van God om die mens te bevoordeel en ons dogma te gee om oor te stry nie, maar die doel van die verbond is die herstel van die skepping.

Wat was die doel van die eerste verbond en hoe het dit betrekking op die herstel van alle dinge?

Hoewel baie mense meer van die eerste verbond wil maak as wat God se bedoeling was, was die doel van die eerste verbond om die uitverkore verbondsvolk onder bewaring te hou totdat God weer met hulle ‘n nuwe verbond kan maak, maar dan ‘n beter verbond as die eerste verbond. ‘n Verbond wat in staat is om hulle siele te red.  

Galásiërs 3:23-25  Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.  (24)  Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.  (25)  Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.

Die vraag wat ons dan op ons lippe het is, waarom het God dan ‘n tydelike eerste verbond gemaak en nie sommer dadelik die tweede verbond wat ons siele kan red nie? Die Volmaakte offer vir die sonde van sy volk moes eers gebring word, voordat Hy met hulle ‘n nuwe verbond kon sluit en daardie offer moes op die regte tyd gebring word.

Romeine 5:6  Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.

Alles wat deel was van die eerste verbond het heengewys na die tweede verbond en is vervul in die tweede verbond. Die tweede verbond moet voldoen aan die vooruitskouing van die eerste verbond, want dit is die bewys dat dit van God is. Die Pasga het heengewys na die volmaakte Offer vir ons sonde. Die besnydenis van die vlees het heengewys na die besnydenis van ons hart deurdat ons die sonde aflê. Die rus van die sabbat het heengewys na die rus wat daar is in ons Middelaar. Die eet van onrein voedsel het heengewys na die eet van onrein evangelie.

  • Die voorwaarde om hierdie openbaringe te kan sien, is om die hele Bybel te lees en te ken en dit te bestudeer sonder voorafopgestelde idees van wat ons dink dit behoort te wees.
  • Na wedergeboorte kom woon YHWH in ons harte deur sy Gees en openbaar aan ons wat sy bedoelinge met sy Woord is.
  • God onderwerp Hom nie aan ons opinie van sy Woord nie, maar sy Woord is waarheid en ons opinies is leuens.
  • As ons dus die verwantskap tussen die Ou- en die Nuwe Verbond bestudeer, moet ons die oorhoofse rede in ag neem, naamlik die herstel van alle dinge.

Elke vorm van dogma kan onderwerp word aan hierdie vraag en getoets word of dit bestaansreg het; dra dit by tot die herstel van alle dinge?

‘n Praktiese voorbeeld: Wat het die onderhouding van die Pasga te doen met die herstelling van dit wat in die Paradys gebeur het? Tydens die eerste verbond was dit ‘n gebod wat getrou deur die verbondsvolk onderhou moes word, omdat dit heengewys het na die volmaakte offer wat nog gebring moes word. Yahshua was die volmaakte Offer en die onderhouding van die Pasga word nie meer gedoen nie, want daar word nie meer heengewys na die offer nie, omdat dit reeds gebeur het.

Wat het die volmaakte offer van die nuwe verbond te doen met die herstel van dit wat gebeur het in die Paradys? Omdat daar ‘n volmaakte Offer, ‘n dood van ‘n onskuldige Mens in die plek van die sondige mense se dood, gedoen was, hoef die sondige mense nou nie meer vir hulle eie sonde te boet met hulle lewe nie, maar Hy het in hulle plek gesterf.

In die Paradys het Adam en sy nageslag dus die dood geërf, maar met die dood van Yahshua, die volmaakte Pasgalam, het hulle dit weer teruggekry. Dit het dus herstel.

Indien ons dus nou nog die Pasga wil hou, is ons besig met ons eie godsdiens, want dit wys heen na ‘n offer wat nog gebring moet word en ontken dan eintlik dat die offer wat deur Yahshua gedoen was, nie die ware offer was nie en dat dit nog gaan gebeur. Dit is ook so ten opsigte van die besnydenis, die Sabbat, die eet van voedsel, die feeste (of watter ander instelling of wet ook al) van die eerste verbond.

Die toets of ons nog die Pasga moet hou? Indien ons vandag nog die Pasga sou onderhou, moet ons vir onsself afvra hoe dit bydra tot die herstel van alle dinge? Dit doen nie, want die doel van die Pasga was om te verkondig dat daar ‘n volmaakte offer gebring gaan word, maar dit het reeds gebeur. Indien iemand besluit om wel die Pasga te onderhou, want die wet sê so, is hy verwaand en weet niks nie.

1 Timótheüs 6:3-6  As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van onse Here Jesus Christus en met die leer wat volgens die godsaligheid is nie,  (4)  dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog,  (5)  nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou aan sulke mense.  (6)  Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins.

Die Bybel gaan oor die herstel van die skepping en die herstel van die eer van God en oor die heerskappy oor sy skepping. Hy het sy plan volmaak uitgewerk en ons is deel van die plan, maar ons is nie die plan nie. As ons onsself verneder en ons ons aan sy plan onderwerp, sal ons deel van sy verheerliking wees, maar as ons in verwaandheid dink dat ons die evangelie bepaal, sal God nog steeds sy heerlikheid verkry, maar sonder ons.

Kerke verkondig dat Yahshua terug kom aarde toe en met sy bruid trou en hierdie bruid is sogenaamd die kerk. As ons hierdie evangelie toets aan die herstel van alle dinge, is daar geen koppeling tussen die bruid en die skepping nie. Vader het nie met Adam en Eva getrou en toe het die huwelik op die rotse geloop nie, maar Hy het aan Adam heerskappy oor die hele aarde gegee wat Adam verloor het. Daar moet dus ‘n koninkryk herstel word, nie ‘n huwelik nie.

Wanneer die tweede Adam terug kom, kom Hy self die heerskappy wat die eerste Adam verloor het terugvat. Hy kom op die wolke met die weermag van die hemele en sal elke mens op aarde dwing om sy gesag te aanvaar, elke knieg sal voor Hom buig.

1 Korinthiërs 15:22-28  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;  (23)  maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.  (24)  Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.  (25)  Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.  (26)  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.  (27)  Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het.  (28)  En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

Daar is nie ‘n bruilof met sy koms nie, maar oorlog.

Openbaring 17:14  Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou.

Hy gaan ook die natuur herstel na dit wat dit was voor die sondeval.

Jesaja 11:1-9  Maar daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra;  (2)  en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE.  (3)  En Hy het ‘n welgevalle aan die vrees van die HERE; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie;  (4)  maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak.  (5)  En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.  (6)  Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja.  (7)  Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os;  (8)  en die suigling speel by die gat van ‘n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ‘n basilisk.  (9)  Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.

Wat is dan die doel van die kerk?

Die kerk is ‘n menslike instelling en het geen deel aan die koninkryk van God nie, maar is uitvloeiings van die Rooms-Katolieke Kerk. Ons lees wel van die gemeente van Christus, maar dit is slegs die samekoms van die heiliges en nie ‘n organisasie met ‘n geloofsbelydenis en rangordes nie.

  • Exodus 12:6  En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand.
  • Númeri 14:5  Toe het Moses en Aäron op hulle aangesig geval voor die hele vergadering van die gemeente van die kinders van Israel.
  • 1 Konings 8:5  En terwyl koning Salomo en die hele by hom vergaderde gemeente van Israel saam met hom voor die ark staan, het hulle kleinvee en beeste geoffer wat vanweë die menigte nie getel of bereken kon word nie.
  • Sefánja 3:10  Oorkant die riviere van Kus vandaan sal my aanbidders, my verstrooide gemeente, my offerande bring.
  • Matthéüs 16:18  En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
  • Handelinge 2:47  terwyl hulle God geprys het en in guns was by die hele volk. En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.

Die doel van die gemeente is dat die wat die Lam volg waar Hy ook al heengaan, onderlinge byeenkomste kan hê, sodat hulle mekaar kan bemoedig, leer, vermaan, vertroos, versterk en mekaar kan liefhê. Die gemeente het nie ‘n rangorde nie, maar dit is net lede van Christus se liggaam en Hy is die hoof van die gemeente.

Kollosense 1:17-18  En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.  (18)  En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.

Die lede van die liggaam het ook verskillende bedienings waarmee hulle mekaar bedien. Romeine 12:4-8  Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie,  (5)  so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar.  (6)  En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is:  (7)  is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering;  (8)  of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie ‘n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.

Wat is dus die doel van die gemeente in die herstel van die skepping wat verval het?

Adam se sonde het sy dood veroorsaak en saam met hom het sy hele nageslag gesterf. Yahshua sterf in hulle plek sodat hulle kan leef. Nadat Hy opgestaan het stuur hy sy dissipels uit met die boodskap om vir sy verbondsvolk te gaan sê dat hulle God Hom met hulle versoen het en dat hulle hul nou met God moet versoen. Hulle wat glo en hulle laat doop, sal gered word, maar hulle wat nie glo nie sal verlore gaan.

2 Korinthiërs 5:18-20  En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het,  (19)  naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.  (20)  Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.

Die kerk het ‘n ander doel waarvan hierdie boodskap ‘n klein gedeelte uitmaak. Hierdie doel van die kerk is egter nie ‘n opdrag van God nie en veroorsaak dat mense dan meeste van hulle tyd spandeer aan dinge wat min, tot geen waarde het nie. Die kerk het geen waarde nie, behalwe dat dit ‘n vervulling van die vlees is.

DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE