Wat is my waarde? (10-03-2024)

– Banie Swanepoel:

Wat is waarde in die samelewing?

Getrouheid, eerlikheid, integriteit, spanwerk, geregtigheid, moraliteit, vertroue…

Die dinge wat voorspoed en geluk veroorsaak. Dit het vir ons waarde, want dit is waardevol.

Hoe bepaal ‘n mens sy eie waarde?

  • Ons almal kom in die wêreld as ‘n kindjie met die behoefte dat ons eie lewe saak maak en ‘n waarde het.
  • Daarom ontsyfer ons die kriteria wat ons waarde gee, sodat ons deur mense aanvaar kan word en met hulle ‘n koppeling kan maak en ‘n verhouding kan hê.
  • Hierdie ontdekking van die kriteria wat ons waarde bepaal, gebeur van baba-tyd af en die persone wat die grootste invloed op ons ontsyfering van waardebepaling het, is ons ouers.
  • Ons opvoeders bepaal dus grootliks ons eie waardesisteem waarvolgens ons ons eie waarde bepaal.
  • Slotsom: Ons almal se waardebepaling verskil en ons almal het dit by mense geleer wat geen idee het van wat dit moet wees nie.

Die natuurlike behoeftes van kinders.

  1. Om waardeer te word (jou waarde moet deur jou ouers en ander mense bepaal word en dit moet goed wees). Op grond van die ouers se waardering bepaal die kind wat sy eie waarde is.

Voorbeeld:

  • “Jy is so oulik om altyd die huis skoon te maak”, beteken my waarde is daarin om die huis skoon te maak en indien ek altyd die huis skoonmaak, is ek waardevol.
  • “Jy is so mooi, as jy groot is gaan al die seuns van jou hou”, so my waarde is in my liggaam en hoe ek lyk.
  • “Hou op om altyd so sensitief te wees”, beteken vir die kind dat hy minder waarde het as hy sensitief is. Sensitiwiteit is ‘n nadeel en maak my waarde minder.
  • Om aanvaar te word deur die gemeenskap, gee my waarde. (Die dinge wat maak dat mense met my vriende wil wees)
  • Goed met sport
  • Is grappig en kan stories vertel
  • Mooi

Sodra ‘n kind agterkom dat sekere prestasies waarin hy kan presteer maak dat mense hom waardeer, begin hy daarna streef. Later, as hy suksesvol daarin word, word dit sy bates en eienskappe wat hom waarde gee.

Die gesin se waardesisteem word die kind se waardesisteem:

  • Wat is dit wat pa nastreef en wat maak hom gelukkig?, want dit word die kind se waardes.
  • ‘n Groot huis, ‘n groot kar, ‘n hoë posisie by ‘n groot maatskappy. Vir die kind word dit die belangrike goed en dit moet bereik word om waarde te hê.
  • As hy dit nie bereik nie het hy ‘n lae, of selfs geen waarde in sy eie oë nie.

Die gemeenskap-waardesisteem

Dit wat die gemeenskap bepaal, word my waarde en waar my eie gesin swak in was, volg my waardesisteem die gemeenskap. Wat gebeur op skool, wat is op die TV?

  • Mooi mense
  • Ryk mense
  • Atlete
  • Suksesvolle mense

Ek moet dus mooi wees, goed in sport wees en baie geld hê en dan sal ek ‘n hoë waarde hê en geliefd wees en met mense verhouding kan hê. As ek nie presteer soos die mense op die TV nie, het ek nie waarde nie.

Gevolgtrekking:

  • ‘n Kind glo alles wat vir hom gesê word, ongeag of dit waarheid is en of dit leuens is.
  • Sy waardebepaling word gebou op sy waarneming van dit wat sy ouers en die samelewing bepaal en daarmee gaan hy die lewe in.
  • Ons almal se waardebepaling van ons self, gebeur deur ons self met die maatstaf wat iemand anders vir ons gegee het.
  1. Omdat ons onsself dus meet aan wat ons is en nie wie ons is nie, en omdat ons nie kan presteer volgens die standaard wat ons vir onsself gestel het, volgens die kriteria waarop ons self besluit het  nie, sal ons altyd ‘n swak selfbeeld hê en altyd teleurgesteld in onsself wees.
  2. Ons het ons waarde bepaal op wat ons is, en nie wie ons is nie. Dit geld vir alle mense, selfs die wat reken dat hulle nie ‘n swak waarde het nie, hulle het net ‘n manier gevind om dit te ignoreer en te verwerk.
  3. Die van ons wat wel presteer volgens die vereistes wat volgens onsself vir ons ‘n hoë waarde gee, goeie sportman, mooi liggaam, goeie werk, ens, sal net tydelik tevrede wees met ons eie hoë waarde, want daar kom altyd ‘n beter sportman wat jou uitstof. My liggaam word oud en onaantreklik en ek tree af by die werk en my waarde van ‘n hoë pos verdwyn.
  4. Ons waarde is dus in wat ons doen en nie in wie ons is nie, want ons weet nie wie ons is nie en die waardebepalings-kriteria wat ons vir onsself aangeneem het, kan net die sienlike waarneem, maar ons waarde is nie in die sienlike nie.

Wat is ons waarde volgens ons Vader?

1 Korinthiërs 6:20  Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

Openbaring 5:9-10  Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,  10  en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.

1 Petrus 1:18-19  omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,  19  maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,

Romeine 5:6-8  Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.  7  Want nouliks sal iemand vir ‘n regverdige sterwe vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe  8  maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Wat is ons waarde?

Ons waarde is gelykstaande aan Yashua se lewe, want Hy het sy lewe vir ons gegee sodat ons kan lewe. Hierdie waarde van ons is nie bepaal volgens ons optrede of prestasie wat deur ons ouers of die gemeenskap bepaal en goedgekeur is nie, maar hierdie waarde was bepaal toe ons nog sondaars was. Gevolgtrekking: Ons het dus ‘n waarde (ons is waardevol), maar hierdie waarde van ons word nie deur ons bepaal nie, maar dit is in dit wat God geskape het, die mens, sy nageslag.

Maleági 2:15  Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ‘n geslag van God gesoek.

Jakobus 3:8-9  Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is ‘n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif.  9  Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is.

Ten spyte van hoe ons gelewe het en hoe ons soms nog lewe, het ons ‘n waarde en daardie waarde word bepaal deur wie ons is en nie wat ons is nie. Ons waarde is dus onveranderlik.

Ons waarde is nie in ons geleerdheid, posisie, finansies, gemeenskapsdiens, aanvaarding deur mense, ens. nie, maar ons waarde is in wie ons is.

Ons is die nageslag van die Almagtige en ons is na sy beeld geskape. Wat die mense ook al van jou dink en wat jy ook al van jouself dink maak nie saak nie. Jou waarde is vir Vader hoër as sy eie lewe en daarom het Hy sy lewe gegee terwille van jou lewe.

Yahshua se waarde was deur die wêreld bepaal en Hy het so min waarde gehad, dat hulle Hom doodgemaak het. As ons in sy voetspore volg, sal die maatstaf van die wêreld ons ook as nutteloos meet.

Omdat Hy ons waarde so hoog ag, en ons verlore is, het Hy met ons ‘n verbond gemaak om ons verlore toestand te kan verander in ‘n lewe van ewige vreugde saam met Hom. Hierdie lewe kan ons deelagtig word deur weer gebore te word.

DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE

As jy hierdie gelees het en dit nie die eerste keer insien nie, lees dit weer aandagtig en sien in wat die diep betekenis is.

Ons dink Vader YHWH is gevoelloos. Ons dink Hy werk net volgens reëls en beginsels. Ons besef nie dat Hy net soos ons ook emosies het nie. Wanneer Hy sê Hy het ons lief, is dit nie uit beginsels nie, maar net soos wat ons liefhet, het Hy óók lief. Net soos wat ons hart skeur as ons iemand liefhet, maar daardie persoon het ons nie terug lief nie, net so skeur sý hart ook. Net soos ons wonder hoe lank gaan ons nog probeer om ons geliefde se hart te wen voordat ons tou opgooi, net so stel Hý ook uit.

Het sy my lief, of gebruik sy my net vir dit wat ek haar bied? Hoe is dit dat sy sê sy het my lief, maar sy maak onderlangs ogies vir ander mans?

Dieselfde skok wat ons hart tot stilstand bring as ons dit agterkom, is die skok wat deur Hom gaan as ons sê ons het Hom lief, maar ons bedrieg Hom, net sodat ons voordeel uit Hom kan trek. Net soos wat ons nagte om huil omdat ons geliefde se hart aan iemand anders behoort, net so treur YHWH oor ons.

Wanneer Hy Israel vir jare waarsku dat Hy hulle in ballingskap gaan stuur omdat hulle Hom nie liefhet nie, maar dan lank vat om dit uiteindelik te doen, is dit omdat Hy uitstel in die hoop dat hulle hart sal verander om Hom lief te kry.

Jesaja 54:5-8  Want jou Maker is jou Man; HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word.  6  Want soos ‘n verlate vrou en ‘n bedroefde van gees het die HERE jou geroep, en soos ‘n vrou uit die jeugtyd as sy versmaad was, sê jou God.  7  Vir ‘n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader.  8  In ‘n uitstorting van toorn het Ek vir ‘n oomblik my aangesig vir jou verberg, maar met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou, sê die HERE, jou Verlosser.

Wanneer Hy wel Israel in ballingskap laat gaan is sy motief nie om hulle te straf nie, maar dat hulle van hulle ander liefde afstand moet doen en Hom sien vir wie Hy is en Hom lief kry. Hy is die “prins op die wit perd” wat sy lewe in hulle plek gee, sodat hulle verlos kan word van die dood. Hy is die een wat hulle gevormeer het en hulle die kroon van sy skepping gemaak het deur hulle na sy beeld te skape. Hy is die een wat net goeie dinge oor hulle bedink en niks wat sleg is nie.

Hulle het agter ander liefde aangegaan net omdat hulle bedrieg is en Hom nie ken vir wie Hy is nie.

Die van ons wat die ondervinding van ‘n gebroke hart het deurdat jou geliefde jou verlaat en iemand anders liefgekry het, beleef die geweldige pyn wat dit veroorsaak het. Dit wat jy daaruit kan neem, is om te weet dat die onverganklike pyn wat jy daagliks in jou hart voel vergelykbaar is met die pyn in sý hart as ons Hom vergeet… as ons ons eerste liefde verlaat. Die van ons wat die ervaring het dat jy iemand liefgekry het, maar daardie persoon het jou nie lief nie en jy wonder of dit die moeite werd is om aan te hou probeer.

Jy wonder of dit die moeite werd is om emosies te beleef wat jou lewe moeilik maak. Jou slaap het verdwyn en jou denke aan daardie persoon wil jou nie verlaat nie. Jy probeer vergeet, maar jy kan nie… weet dat Vader ook so voel. Hy het Israel liefgekry en sy liefde aan Israel verklaar. Hy het sy hart oopgemaak en gesê; “jou alleen het Ek liefgehad uit al die volke wat op die aarde is”.

Ons neem sy woorde ligtelik op, maar wie van ons sal vir die een vir wie jy liefgekry het sommer jou hart oopmaak en die diepste geheim van liefde aan daardie persoon verklap? Ons doen dit nie, want ons is te bang ons gaan seerkry, maar Hý het dit gedoen, en toe gebeur dit werklik ook so met Hom; Hy het seergekry, want Israel het Hom nie terug liefgekry nie.

As jy dus die ervaring van ‘n stukkende hart het en jy voel stoksielalleen en uitverkoop, assosieer dan met God, want dit is hoe Hy elke dag, heeldag voel oor sy onbeantwoorde liefde tot ‘n volk wat Hom nie wil liefhê nie. Sy geliefdes bespot Hom en ontken Hom. Hy het nie lief nie, maar Hy is liefde.

Wanneer ons liefde tot ‘n ander persoon onbeantwoord bly en ons lewe kompliseer en dreig om dit te verwoes, beëindig ons daardie uitreiking na die ander persoon en sny alle bande en beoefen totale vermyding van kontak. Ons verwyder tot alle foto’s en vermy plekke wat ons aan daardie persoon sal laat dink, sodat daardie persoon totaal uit ons geheue kan verdwyn, sodat die pyn daarmee saam kan verdwyn. Vader beleef dit ook, maar sy liefde vir ons is sterker as die pyn wat ons afwesigheid van liefde aan Hom veroorsaak. Al is ons ontrou, Hy bly getrou. Hy kan nie ontrou wees nie. Al gee Hy ons oor aan tye van benoudheid, bly sy hand altyd uitgereik na ons toe, want die begeerte van sy hart is altyd dat ons terug uitreik en sy hand gryp en Hom terug liefhê.

 Jesaja 49:14-16  Maar Sion sê: Die HERE het my verlaat, en die Here het my vergeet!  15  Kan ‘n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!  16  Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My. Hoséa 1:10-11  Nogtans sal die getal van die kinders van Israel wees soos die sand van die see, wat nie gemeet en nie getel kan word nie; en in plaas dat aan hulle gesê word: Julle is nie my volk nie—sal aan hulle gesê word: Julle is kinders van die lewende God.  11  Dan sal die kinders van Juda en die kinders van Israel almal saam vergader en vir hulle een hoof aanstel en uit die land optrek; want groot is die dag van Jísreël!

Vader YHWH, ons het U baie lief, want U is ons alles. Ons het nie ander liefde buite U nie, want U is ons Alfa en ons Omega. Baie dankie dat U ons liefgehad het toe ons nog sondaars was en dat U volhard het in U liefde vir ons, al het ons U nie dadelik gehoor nie. Ons dank U dat U volhard het in U liefde, al het ons U baie hartseer gemaak omdat ons U liefde verwerp het. Wanneer ons self seerkry as gevolg van onbeantwoorde liefde en ons besef dit is hoe ons U seer gemaak het, dan kry ons skaam en ons voel self hartseer omdat ons so opgetree het.

Hoe langer ons in ‘n liefdesverhouding met U is hoe meer deel U U hart met ons en hoe meer liefde ervaar ons van U. Dankie dat ons verhouding met U gebaseer kan wees op liefde; liefde wat U reeds bewys het. U het die waarde van U liefde aan ons afgemeet en die prys was bereken; dit was só duur soos die lewe van die ewige Skepper. Baie dankie Vader.