Bybelstudie
EXODUS (2024/2025)
OBÁDJA (13-10-2024)
Vrae en Antwoorde – BYBELSTUDIE (2024)
001 V&A (Selfbeheersing) (01-10-2024)
002 V&A (Stryd tussen vlees en gees) (15-10-2024)
003 V&A (Verassing, Huwelik, Tegnologie) (22-10-2024)
004 V&A (Hoe weet ek wanneer doen ek sonde en wat VADER se wil is?) 05-11-2024
MATTHÉÜS (2024)
MATTHÉÜS 2
Die wyse manne uit die Ooste.
1 EN toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom
2 en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.
3 En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom;
4 en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word.
5 En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe:
6 En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.
Johannes 7:40 Baie van die skare het, toe hulle die woord hoor, gesê: Hy is waarlik die profeet. 41 Ander het gesê: Hy is die Christus. En ander het gesê: Kom die Christus dan uit Galiléa? 42 Het die Skrif nie gesê dat die Christus uit die geslag van Dawid kom en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was nie?
Miga 5:1 En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.
7 Toe het Herodes die wyse manne in die geheim geroep en hulle na die tyd van die ster se verskyning uitgevra;
8 en hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom vind, laat my weet, sodat ek ook kan gaan en Hom hulde bewys.
9 En nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek. En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was.
10 En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug.
11 En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre.
12 En omdat hulle in ‘n droom ‘n goddelike waarskuwing ontvang het om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ‘n ander pad na hul land teruggegaan.
Die vlug na Egipte. Die kindermoord.
13 EN toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak.
14 Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek.
15 En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep.
Hoséa 11:1 Toe Israel ‘n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.
16 Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het.
17 Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het:
18 ‘n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.
Jeremia 31:15 So sê die HERE: ‘n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie. 16 So sê die HERE: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die HERE; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom. 17 Ja, daar is verwagting vir jou nakomelinge, spreek die HERE; en die kinders sal terugkom na hulle grondgebied.