Reekse
2026
Johannes 4:46 Jesus het dan weer gekom te Kana in Galiléa, waar Hy die water wyn gemaak het. En daar was ‘n sekere koninklike beampte wie se seun in Kapérnaüm siek was.
47 Toe hy hoor dat Jesus uit Judéa in Galiléa gekom het, gaan hy na Hom en vra Hom om af te kom en sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê.
48 Jesus sê toe vir hom: As julle nie tekens en wonders sien nie, sal julle nooit glo nie.
49 Die koninklike beampte sê vir Hom: Here, kom af voordat my kind sterwe.
50 Jesus antwoord hom: Gaan, jou seun lewe! En die man het die woord geglo wat Jesus vir hom gesê het, en hy het gegaan.
51 En toe hy al op pad was huis toe, kom sy diensknegte hom tegemoet en bring die berig en sê: U kind lewe!
52 Hy verneem toe van hulle die uur waarop hy beter geword het. En hulle sê vir hom: Gister, die sewende uur, het die koors hom verlaat.
53 Die vader merk toe dat dit daardie uur was waarop Jesus vir hom gesê het: Jou seun lewe! En hy het self geglo en sy hele huis.
54 Hierdie tweede teken weer het Jesus gedoen toe Hy uit Judéa in Galiléa gekom het.
DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE
Johannes (2025/26)
In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
Hy was in die begin by God.
Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
En die Woord het Vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou…
En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het;
maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self,
dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.
Amen.
Johannes 1:1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. 2 Hy was in die begin by God. 3 Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. 4 In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. 5 En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.
Johannes 8:12 En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.
Johannes 1:8 Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig. 9 Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. 10 Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie. 11 Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie. 12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
Deuteronómium 26:18 En die HERE het jou vandag laat verklaar dat jy vir Hom ‘n eiendomsvolk sal wees soos Hy jou beloof het, en dat jy al sy gebooie sal onderhou; 19 en dat Hy jou dan die hoogste sal stel bo al die nasies wat Hy gemaak het, tot ‘n lof en ‘n roem en ‘n sieraad, en dat jy ‘n heilige volk aan die HERE jou God sal wees soos Hy beloof het.
Deuteronómium 14:2 Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God, en jou het die HERE uitverkies om sy eiendomsvolk te wees uit al die volke wat op die aarde is.
1 Petrus 2:9 Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, 10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.
Eségiël 34: 30 Maar hulle sal weet dat Ek, die HERE hulle God, met hulle is, en dat hulle, die huis van Israel, my volk is, spreek die Here HERE. 31 En julle is my skape, die skape van my weide; julle is mense, Ek is julle God, spreek die Here HERE.
Romeine 9:1 Ek spreek die waarheid in Christus, ek lieg nie my gewete getuig saam met my in die Heilige Gees 2 dat dit vir my ‘n groot droefheid is en ‘n onophoudelike smart vir my hart. 3 Want ek sou self kon wens om ter wille van my broers, my stamgenote na die vlees, ‘n vervloeking te wees, wég van Christus af. 4 Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; 5 aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen.
DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE
Godsdiens of Verbond? (2025)
Die Verbondsverhouding se oorsprong is die dag toe God ‘n verbond met Abraham, deur sy seun Isak en die se seun Jakob, en sy nageslag, gemaak het en dit met ‘n eed bevestig het. Die nageslag is die lede van die verbond en die beloftes van die verbond wat deur God gemaak is, is op hulle van toepassing.
Godsdiens of Verbond (1) (14-09-2025)
Godsdiens is ‘n vorm van aanbidding van ‘n god, op ‘n voorgeskrewe manier, om guns by daardie god te kry, sodat daardie god die aanbidders kan beloon vir hulle aanbidding.
Voorbeelde van godsdiens is:
- Rooms-Katolisisme en die Christendom 1.2 Biljoen
- Islam 1.3 Biljoen
- Hindoeïsme 900 Miljoen
- Boeddhisme 360Miljoen
- Judaïsme 15 Miljoen
Die Verbondsverhouding se oorsprong is die dag toe God ‘n verbond met Abraham, deur sy seun Isak en die se seun Jakob, en sy nageslag, gemaak het en dit met ‘n eed bevestig het. Die nageslag is die lede van die verbond en die beloftes van die verbond wat deur God gemaak is, is op hulle van toepassing.
Elke godsdiens het:
- ‘n God.
- ‘n Stigter wat die godsdiens begin het.
- Oorgelewerde vorm van aanbidding.
- ‘n Geloof in hulle god.
- Wette waarvolgens die lede moet leef.
Die Christelike godsdiens glo baie uiteenlopend en verskil hemelsbreed met mekaar in so ‘n mate, dat meeste Christene ander Christene nie beskou as Christene nie. Die Christelike godsdiens is begin deur Jesus nadat hy aan die kruis gesterf het vir die sonde van die hele wêreld, omdat hy hulle almal lief het.
Die verbondsverhouding was van Abraham af en het nie begin of geëindig met die kruisiging van Yahshua nie. Yahshua het nie ‘n alternatiewe godsdiens vir die Joodse godsdiens, of enige ander godsdiens, begin nie, maar Hy het net kom doen dit wat die profete gesê het Hy gaan kom doen, vir hulle, met wie Hy ‘n verbond het. Jesaja 53:8 Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote—wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.
Christelike godsdiens kom in kerkgeboue bymekaar waar mense dan kerk hou. Daar word dan meestal gepraat deur ‘n prediker, gesing deur die lede, afkondigings gemaak en huis toe gegaan. Die nageslag van Jakob kom nie in kerke bymekaar nie, want hulle is nie ‘n godsdiens nie, maar ‘n geslag. Die volk met wie God ‘n verbond het, lewe hulle lewe elke dag in ‘n verbondsverhouding met hulle Verbondsgod, en het geen opdrag van Hom gekry om kerke te begin en godsdiens te bedryf nie.
Christelike godsdiens bely dat hulle Christene is en dit maak van hulle Christene. Enige mens moet net bely dat hy ‘n Christen is, om ‘n Christen te kan wees. Lede van die verbond egter, het dit deur afkoms omdat die verbond met ‘n geslag gemaak is. God het sy verbond met Abraham, deur Isak en Jakob en Jakob se nageslag, in hulle geslagte ná hom gemaak, as ‘n ewige verbond.
Christelike godsdiens lewe volgens sekere wette van die Bybel, maar daar is baie verskillende opvattinge van watter wette van toepassing is en watter nie. Meestal word aanvaar dat die tien gebooie onderhou moet word, maar sommige Christene gaan so ver na die wet-lose kant toe, dat hulle losbandig is en verklaar dat hulle onder God se genade is en daarom kan hulle sonde doen.
Volgens die Nuwe Verbond, met die geslag van Jakob, moet die lede van die verbond weer gebore word. Met wedergeboorte ontvang hulle dan die Gees van God wat in staat is om hulle harte te verander om te word soos sy hart. In plaas dat ‘n verbondskind wette moet hou, verander die Gees sy wil om te word soos die wil van God en daarom kan die weergebore lid van die verbond dan net doen wat hy wil, want sy wil het verander na die wil van God.
Christelike godsdiens se visie is dan ook om nie-Christene te oortuig om Christene te word en by hulle betrokke kerk-organisasie aan te sluit, sodat hulle gered kan word. ‘n Verbondskind se visie is om na die verlore lede van die verbond te gaan en hulle in te lig dat hulle lede van die verbond met God is en hulle hul tot Hom kan bekeer en daardeur gered word.
Die verbond is ‘n verwarrende term vir Christelike godsdiens en word baie min bespreek omdat die Christelike geloof verklaar dat die Ou Verbond in die Bybel verby is en daar nou ‘n Nuwe Verbond is wat niks met die Ou Verbond te doen het nie. Hulle glo dat die Ou Verbond wel met ‘n uitverkore geslag was, maar nadat Jesus gekruisig is, het Hy toe lief geword vir alle mense op die aarde en nie net meer vir die uitverkore geslag nie, en daarom is die Nuwe Verbond nou met almal.
Die verbond wat God met Israel gemaak het, was omdat Hy hulle liefgehad het. Omdat Hy hulle liefgehad het, het Hy ook vir hulle sonde gesterf, sodat hulle nie hoef te sterf nie. Toe Hy gesterf het, het Hy nét gesterf vir hulle wie Hy lief gehad het en nie vir hulle vir wie Hy sogenaamd lief sou word nie. Deuteronómium 10:14-15 Kyk, aan die HERE jou God behoort die hemel, ook die hoogste hemel, die aarde en alles wat daarin is. (15) Maar net aan jou vaders het die HERE ‘n welgevalle gehad om hulle lief te hê, en Hy het julle, hulle nageslag ná hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag is.
Omdat die houers van die verbond mislei is, weet hulle nie van die verbond nie, maar hou hulle besig met godsdiens. Wanneer ons egter besef wat die verbond behels, sal dit ons hele verhouding teenoor God en met God verander.
‘n Verbond is ‘n ooreenkoms waarop mens kan vertrou vir wanneer jy dit nodig het. God maak ‘n verbond met Abraham en sy nageslag met die doel om aan hom en sy nageslag goed te doen. God maak aan Abraham beloftes wat goed is vir hom, omdat God ‘n goeie God is en goeie dinge oor hom en sy nageslag bedink. Ons is die letterlike nageslag van Abraham, Isak en Jakob en dit is die enigste vereiste om in die verbond met die Allerhoogste te wees.
Die verbond wat Vader met ons maak, is ter wille van ons en is ‘n goeie verbond. Dit het vir ons geweldige groot voordele in, maar omdat ons nie weet van die verbond nie, is die verbond dan vir ons waardeloos. Almal met wie God sy verbond gemaak het, het Hy geseën omdat Hy vir hulle lief is en omdat Hy ‘n goeie God is, wil Hy hê dat dit met hulle goed moet gaan.
God het met Abraham die verbond gemaak en Abraham geseën, sodat dit met hom goed moet gaan. So het Hy ook gedoen met Isak en Jakob en Jakob se kinders, tot by ons vandag, omdat Hy wil hê dat dit met ons moet goed gaan. God seën nie die godsdienstige Christen omdat hulle Hom aanbid nie en ook nie omdat hulle tiendes gee of vir Hom sing nie, maar slegs hulle met wie Hy ‘n verbond het, en OMDAT Hy met hulle ‘n verbond het. Om met God ‘n verhouding te hê, moet dit binne verbond-verband wees en nie binne die godsdiens-verband nie.
God maak met Israel ‘n verbond en red hulle uit Egipte, nie omdat hulle dit verdien het of omdat hulle Hom aangeroep het nie, maar omdat Hy ‘n verbond met hulle het, en daarom kon hulle Hom ook aanroep, en omdat Hy hulle lief gehad het, het Hy met hulle ‘n verbond gehad. Hy skenk hulle ook die land van die Kanaäniete, omdat Hy hulle lief het en omdat Hy aan hulle goed wil doen, omdat Hy ‘n goeie God is en goeie dinge oor hulle bedink.
God se motief vir die verbond is sy liefde vir die uitverkore geslag, en omdat Hy geen liefde het vir al die ander geslagte nie, het Hy ook geen verbond met hulle nie, maar Hy gee hulle in die plek van die uitverkore geslag.
Jesaja 43:1-9 Maar nou, so sê die HERE, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: Wees nie bevrees nie, want Ek het jou verlos; Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! (2) As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere—hulle sal jou nie oorstroom nie; as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. (3) Want Ek is die HERE, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland; Ek het Egipte gegee as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. (4) Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe. (5) Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; Ek sal jou geslag van die ooste af aanbring en jou versamel van die weste af. (6) Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af, (7) elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het. (8) Bring uit die volk wat blind is en tog oë het, en die dowes wat ore het. (9) Al die nasies het saam vergader, en die volke is versamel. Wie onder hulle kan sulke dinge verkondig? En laat hulle ons die vorige dinge bekend maak! Laat hulle hul getuies bring, dat hulle in die gelyk gestel kan word; en laat hulle hoor en sê: Dit is die waarheid!
God seën die verbondsvolk in Kanaän en maak hulle voorspoedig in alles wat hulle doen, omdat dit sy hart teenoor sy verbondsvolk is en Hy wil hê dat dit met hulle goed moet gaan. Hy seën vir Dawid in sy koninkryk en gee hom die oorwinning in elke oorlog wat hy voer, want Hy het ‘n verbond met Dawid omdat Hy lief is vir Dawid en wil hê dat dit met hom goed moet gaan. Vader is gelukkig as Dawid oor sy vyande triomfeer en sy kinders soos sipresse rondom sy tafel sit en sy volk hom eer en hy sy volk goed lei.
God seën Salomo en seën sy koninkryk met voorspoed omdat Hy met hom ‘n verbond het wat in liefde gegrondves is. God gee om vir Salomo en vir Salomo se volk. Hy dra hulle belange op sy hart en wil vir hulle goed wees. Omdat Hy hulle oorvloedig wil seën, vra Hy vir Salomo wat hy wil hê. Nadat Salomo wysheid kies, gee God hom dit, plus rykdom en eer, net omdat Hy aan Salomo goed wil doen en omdat Hy ‘n verbond met Salomo het en vir hom lief is en oorvloedige voorspoed vir hom begeer.
Omdat ons mislei is glo ons nou dat ons God moet behaag deur ons Godsdiens, sodat Hy ons kan seën. Leuenaars verkondig ‘n evangelie aan die verbondsvolk om persoonlike voordeel uit hulle te trek, ten koste van die verbondsvolk, en ten koste van God se verhouding met sy verbondsvolk. Omdat ons nie weet van die verbond nie, kan ons nie staatmaak op die verbond nie en die satan steel nie net ons verhouding met ons God nie, maar ook ons seëninge deur die verbond.
(2) Godsdiens of Verbond? (21-09-2025)
Die waarheid is dat God nooit hierdie verbond, wat Hy as gevolg van liefde gemaak het, gestop het nie. Die ou verbond was met hierdie nageslag van Jakob en die nuwe verbond is ook met hulle. Hebreërs 8:6-10 Maar nou het Hy ‘n voortrefliker bediening verkry vir sover Hy ook Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes wettelik gegrond is. (7) Want as daardie eerste een onberispelik was, sou daar nie plek vir ‘n tweede gesoek word nie. (8) Want Hy berispe hulle en sê: Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond tot stand sal bring, (9) nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; want hulle het nie gebly by my verbond nie, en Ek het hulle veronagsaam, spreek die Here. (10) Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.
Volgens God se verbond sal Hy vir ons ‘n God wees. As ons in die nood is, wil Hy hê ons moet Hom aanroep, want Hy wil ons uitred. Die openbaring is dat as ons in die nood is, sal Hy ons uitred, want ons het ‘n verbond met Hom. ‘n Verbond is ‘n wettige ooreenkoms en Vader eer sy wettige ooreenkoms. Psalm 50:15-16 en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer. (16) Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond—
Wanneer ons besef ons het ‘n verbond met God en dat al sy beloftes in Hom ja en in Hom amen is, sal ons nie meer hulp op ander plekke soek nie. Omdat ons nie weet ons het so ‘n verlossings-verbond nie, kan ons nie daarop staatmaak nie en probeer ons ander metodes om van ons probleme ontslae te raak. Indien ons volkome op Hom sou vertrou, omdat ons ‘n verbond met Hom het, sal ons altyd op sy verlossing staatmaak en nie op ons eie vermoë nie. Dawid het nie getwyfel of hy die reus kon verslaan nie, maar omdat hy die verbond geken het en omdat hy die God van die verbond geken het, het hy net op God vertrou en geen plan B gehad nie.
Wanneer ons volkome op Hom kan vertrou, omdat ons weet ons het ‘n verbond met Hom, sal Hy altyd getrou wees aan sy verbond. Wanneer ek dan na die wêreld-omstandighede sou kyk, sal ek my geensins daaroor bekommer nie, want ek het ‘n verbond met die Almagtige. Wanneer ek weet van ‘n probleem wat op pad is, sal ek nie bekommerd wees nie, want ek sal weet dat God ook van dit bewus is en reeds besig is om aan my uitkoms te werk.
Ons lees in Openbaring van die merk van die dier wat gaan voorkom dat ons kan koop en verkoop as ons nie die dier aanbid nie. Nou weet ons reeds dat dit op pad is en dat ons nie sal kan koop en verkoop nie, omdat ons gaan kies om nie die merk te ontvang nie. Die implikasie is dat ons ons huise en kos sal verloor en op straat gaan beland. Die waarde van die verbond is dat ek dan nou reeds weet dat God klaar besig is om vir my voorsiening te maak vir in daardie tyd en dat ek my nie daaroor hoef te bekommer nie. Hoekom sal Hy dit dan vir my doen en nie vir die ander nie? Want ek het ‘n verbond met Hom en ek vertrou Hom en sy verbond met my.
Psalm 91:7-16 Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand—na jou sal dit nie aankom nie. (8) Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien. (9) Want U, HERE, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak. (10) Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie; (11) want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. (12) Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie. (13) Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap. (14) Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken. (15) Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee. (16) Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.
Omdat ons dus in ‘n verbond met God is, en ons weet dat die verbond altyd ten gunste van ons is, en omdat ons weet dat God die vermoë het om sy verbond te hou, behoort dit ons hele lewe te domineer. As ons kan besef dat Hy in elke oomblik van ons lewe betrokke is, met die goeie verbond as gesindheid, sal ons nooit vrees nie. Dit maak nie saak wat in ons lewe gebeur nie, God is uiters bewus daarvan, want Hy het ‘n verbond met ons.
Elke oomblik van my lewe is Hy betrokke, want sy goeie verbond is elke oomblik geldig. Hy is ‘n goeie God en bedink goeie dinge oor ons en volgens sy wettige ooreenkoms, met ons, sal Hy sorg dat alles wat in ons lewe gebeur ten goede mee werk vir ons voordeel.
Omdat ek dus weet dat Hy elke oomblik van my lewe betrokke is en die vermoë het om gebeure en omstandighede te beïnvloed, sal dit tot my eie voordeel wees om my lewenswandel oor te laat aan sy voorsiening. Psalm 37:3-7 Bet. Vertrou op die HERE, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, (4) en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. (5) Gimel. Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer; (6) en Hy sal jou geregtigheid laat voortkom soos die lig en jou reg soos die middag. (7) Dalet. Swyg voor die HERE en verwag Hom; wees nie toornig op hom wat voorspoedig in sy weg is nie, op die man wat listige planne uitvoer nie.
Elke gebeurtenis in ons lewe en elke besluit in ons lewe kan ons volgens die verbond aan God oorlaat en dit sal uitwerk volgens die verbond. As iemand jou parkering vat, sien dit as ‘n bestiering van God, en alhoewel jy die parkering wou hê, weet jy daar is ‘n rede waarom jy dit nie gekry het nie. Daar is nou twee keuses van optree. Die natuurlike een is om kwaad te word en die parkering te probeer vat (dit is my wil) of om te besef ek is in ‘n verbond met die Allerhoogste en Hy het bepaal dat ek nie die parkering kry nie en dit is daarom reg met my. As dit vir my beter sou wees om die parkering te sou kry, sal niemand dit by my kan vat nie. God bepaal of ek dit kry of nie, laat sy wil geskied, want dit is volgens ons verbond, vir my beter.
God werk met ons volgens sy verbond en sodra ons dit besef kan ons saam met Hom werk, in plaas van teen Hom. Volgens sy verbond bedink Hy goeie dinge oor my en laat die goeie dinge oor my gebeur, maar ek saboteur Hom dan deur in te meng met my eie wil. Hoe meer ek saam met Hom werk en nie teen Hom werk nie, hoe meer kan Hy sy verbond in my lewe laat geskied.
As gevolg van sy verbond lei Hy die volk van die verbond na die beloofde land toe. Die verbond hou vir hulle baie goeie voordele in, maar omdat hulle gereeld nie saam stem met God se metodes nie, saboteur hulle sy plan met hulle. Hulle wil die beloofde land hê, maar op hulle manier en dit veroorsaak dat hulle dit later nie kan verkry nie. God se goeie wil oor ons is die beloofde land in ons lewe, maar ons meng so in, dat Hy nie dit kan doen wat Hy vir ons beplan het nie.
God se beplanning met ons is die beloofde land en om daar te kom, moet ons soms eers deur die woestyn. Dit is hier waar ons rebbeleer, want ons lewe vir die “nou” en nie vir die groter toekoms nie.
DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE
Kerk of Koninkryk? (2025)
(1) Kerk Of Koninkryk? (31-08-2025)
‘n Kerk
- Die byeenkoms is ‘n aanbieding deur een persoon en die ander is passief.
- Die leier doen die aanbieding en is ook die hoof van die gebeure en die kerk.
- Die kerk is ook die gebou waar God is. Die kerk is ‘n plek, nie persone nie.
- Die doel van die byeenkoms is lofprysing en lering.
‘n Koninkryk het ‘n Koning en nie ‘n predikant nie. Die gemeente is deel van die koninkryk en is nie ‘n instansie op sy eie nie. Die hoof van die gemeente is nie die predikant nie, maar die Koning.
- Wat is ‘n Koning? Let wel, Yahshua is ‘n Koning en nie ‘n Bruidegom nie.
- ‘n Koning het alle seggenskap, dit is nie ‘n demokrasie nie. ‘n Koning word nie deur die meerderheid verkies nie, maar Hy is Koning deur geboorte.
- Sy gesag word nie bespreek nie en word nie gekritiseer nie. Hy word nie vervang omdat mense nie van Hom hou nie. Yahshua was nie Koning gemaak nie, maar Hy is Koning van ewigheid af en Hy is die hoof van die gemeente.
- ‘n Koning besit alles in sy Koninkryk. In ‘n demokrasie besit mense eiendom, maar in ‘n Koninkryk besit die Koning alles. Al die huise, grond, hulpbronne en mense. Hy regeer nie net oor die Koninkryk nie, Hy besit dit. Die gemeente is die mense in die Koninkryk, wat deur die Koning besit word.
- Die Koning se Woord is wet en word nie bespreek nie, maar net aanvaar. Wanneer ‘n president praat, is dit ‘n belofte. As ‘n prediker praat, is dit ‘n aanbieding, maar as die Koning praat, is dit wet. Geen debat, geen onderhandeling en geen stemreg nie, sy woord is wet. Sy woord is nie ‘n voorstel nie, dit is nie goeie raad nie, dit is nie net ‘n gedagte nie, dit is wat dit is. Hy spreek en die storm is stil. Hy spreek en daar is lig. ‘n Kerk pas die Koning se Woord aan om aan te pas by omstandighede in die tyd waarin ons leef.
- ‘n Koning beskerm en voorsien aan sy burgers. Hy het ‘n verbond met hulle omdat hulle burgers van sy Koninkryk is, nie omdat hulle lofprysing in die kerk hou nie.
- ‘n Koning vereis totale lojaliteit en onderdanigheid. Enige persoon wat verdeelde lojaliteit het sal skuldig wees aan verraad en tereggestel word. ‘n Koning verwag totale oorgawe van sy burgers. ‘n Kerk het hulle eie grondwet en belydenis en staan in kompetisie met die Koninkryk van die Koning. Hy het nooit ‘n opdrag gegee om ‘n kerk te begin nie.
- In die Koning se Koninkryk kan mens nie net dien nie, maar jy moet buig. Jy moet aanbid, jy moet gehoorsaam wees, jy moet jouself onderwerp. In Sy Koninkryk kan jy nie net Sondae in die kerk dien en ander tye jou eie ding doen nie, dit is ontrou aan die Koning en Hy sal so ‘n persoon vergeld na sy dade. Hy verwag egter nie van ons om die hele week kerk toe te gaan nie, maar om die hele week deel van sy liggaam te wees. Hy verwag van ons om glad nie kerk toe te gaan nie, want dit is ‘n alternatief vir deelname aan sy liggaam en maak dat ons nie by die roeping uitkom waarvoor ons geroep is nie. Ons is nie geroep om kerk toe te gaan nie, maar ons dink ons het aan sy roepstem gehoor gegee toe ons kerk toe gaan.
- Om deel van sy Koninkryk te word, is nie ‘n uitbreiding op my lewe nie, maar dit is die einde van my lewe en dan net ‘n lewe in sy Koninkryk. Ek kruisig myself en leef nou in Hom en vir Hom.
- Ons is deel van ‘n Koninkryk met ‘n Koning en moet seker wees ons weet wat Hy wil hê, sodat ons dit kan doen.
‘n Koninkryk het ‘n volk.
- Ons is nou reeds in sy Koninkryk en nie in ‘n kerk-organisasie nie.
- Ons word nie lidmate van ‘n kerk nie, maar burgers van ‘n Koninkryk. Ons word gebore as burgers van die Koninkryk van duisternis, maar dan moet ons oorgaan na sy Koninkryk van lig.
- God het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is. ‘n Kerk se lidmaatskap is ‘n lidmaatskap tot ‘n menslike organisasie en nie tot die Koninkryk van God nie.
- Die Koning kies nie alle mense van die aarde as sy volk nie, maar dit is ‘n geslag, die nageslag van Israel. Enige mens kan lid van ‘n kerk word en kerke roem daarop dat almal welkom is, maar God roep die wat aan Hom behoort. Hulle is Sy volk, ‘n geslag. Johannes 6:35 En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. Johannes 37 Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie. Johannes 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Johannes 6:65 En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie. Johannes 7:37 En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!
- Die kerk roep lede vir homself uit alle bewoners van die aarde, maar die Koning roep sy volk uit al die bewoners van die aarde. Johannes 13:1 En voor die fees van die pasga het Jesus, omdat Hy wis dat sy uur gekom het dat Hy uit hierdie wêreld sou oorgaan na die Vader, en omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, hulle liefgehad tot die einde toe.
- Nie die hele nageslag van Israel sal egter in die Koninkryk van God kan ingaan nie, maar net hulle wat weer ‘n keer gebore is.
- Geen persoon kan ‘n burger wees van die koninkryk van hierdie wêreld en ook ‘n burger van die Koninkryk van God nie. Hierdie twee koninkryke staan teenoor mekaar, haat mekaar en is vyande van mekaar. Enige persoon wat ‘n burger is van albei die koninkryke, sal aangekla word van hoogverraad. Jakobus 4:4-5 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God. (5) Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon?
- Die kerke van die wêreld leef in vrede met die koninkryk van hierdie wêreld en is glad nie in vyandskap met die wêreld nie. Inteendeel is hulle baie goeie vriende. Die meeste lande gee nie net aan hulle godsdiensvryheid nie, maar stel hulle ook vry van belasting. Die kerke beskou nie die koninkryk van duisternis as vyande nie, maar werk saam met hierdie wêreld se koninkryk om dit ‘n beter plek te wil maak. Die kerk is een van die pilare waarop die koninkryk van hierdie wêreld se samelewing gebou is. 2 Timótheüs 3:12-13 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. (13) Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.
DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE
Die brief van Jakobus (2025)
Jakobus, ‘n dienskneg van God en die Here Jesus Christus, aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing is: Groete!
Hou goeie moed. (2025)
Johannes 16:33 Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
Romeine 8:22-28 Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. (23) En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. (24) Want ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog? (25) Maar as ons hoop wat ons nie sien nie, dan wag ons daarop met volharding. (26) En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. (27) En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree. (28) En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
Handelinge 20:22-25 En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, (23) behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. (24) Maar ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. (25) En nou weet ek dat julle almal onder wie ek rondgegaan en die koninkryk van God verkondig het, my aangesig nie meer sal sien nie.
Lukas 12:22-59 En Hy het aan sy dissipels gesê: Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe, wat julle sal eet, of oor jul liggaam, wat julle sal aantrek nie. (23) Die lewe is meer as die voedsel en die liggaam as die klere. (24) Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! (25) En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? (26) As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge? (27) Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie. (28) As God dan die gras van die veld wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel meer vir julle, kleingelowiges! (29) Julle moet ook nie soek wat julle sal eet of wat julle sal drink nie, en julle nie ongerus maak nie; (30) want al hierdie dinge soek die nasies van die wêreld, en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. (31) Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. (32) Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee. (33) Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ‘n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie. (34) Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. (35) Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. (36) En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. (37) Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien. (38) En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind gelukkig is daardie diensknegte. (39) Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie. (40) Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.
Hou goeie moed. (b) 29-06-2025
Lukas 12: (41) Toe sê Petrus vir Hom: Here, vertel U hierdie gelykenis vir ons of ook vir almal? (42) En die Here antwoord: Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee? (43) Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, só besig sal vind. (44) Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. (45) Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word, (46) dan sal die heer van daardie dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie, en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot maak van die ontroues. (47) En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; (48) maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis. (49) Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was! (50) Maar Ek het ‘n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is! (51) Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te gee? Nee, sê Ek vir julle, maar eerder verdeeldheid. (52) Want van nou af sal daar vyf in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. (53) Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader, die moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder, die skoonmoeder teen haar skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder. (54) En Hy het ook aan die skare gesê: Wanneer julle ‘n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: Daar kom reën! en dit gebeur ook. (55) En wanneer julle die suidewind sien waai, sê julle: Dit sal gloeiend warm wees! en dit gebeur. (56) Geveinsdes, die voorkoms van die aarde en die lug weet julle te beoordeel, maar hoe is dit dat julle hierdie tyd nie kan beoordeel nie? (57) En waarom oordeel julle ook nie uit julleself wat reg is nie? (58) Want terwyl jy met jou teëstander na die owerheid gaan, doen moeite op die pad om van hom los te kom; sodat hy jou nie miskien voor die regter sleep en die regter jou oorgee aan die geregsdienaar en die geregsdienaar jou in die gevangenis werp nie. (59) Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy ook die laaste oortjie betaal het nie.
Hábakuk 3:16-19 Toe ek dit hoor, het my ingewande gebewe; my lippe het getril by die geluid, bederf het gekom in my gebeente, ja, ek het gebewe waar ek staan, omdat ek rustig moes wag op die dag van benoudheid dat dit aanbreek vir die volk wat op ons ‘n aanval maak. (17) Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie— (18) nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil. (19) Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.
Daniël 6:23-24 My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is en ek ook teen u, o koning, geen onreg gedoen het nie. (24) Toe het die koning baie bly geword en bevel gegee om Daniël uit die kuil op te trek. So is Daniël dan uit die kuil opgetrek sonder dat daar ‘n letsel aan hom gevind is, omdat hy op sy God vertrou het.
Daniël 3:15-27 As julle dan nou, sodra julle die geluid van horing, fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, bereid is om neer te val en die beeld wat ek gemaak het, te aanbid, goed; maar as julle nie aanbid nie, sal julle oombliklik binne-in die brandende vuuroond gegooi word, en wie is die God wat julle uit my hand kan verlos? (16) Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie. (17) As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; (18) maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie. (19) Toe het Nebukadnésar baie woedend geword en sy gelaatstrekke het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednégo; as antwoord het hy bevel gegee om die oond sewe maal warmer te maak as wat eintlik nodig was. (20) En aan sommige van die sterkste manne wat in sy leër was, het hy bevel gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te boei, om hulle in die brandende vuuroond te gooi. (21) Toe is daardie manne geboei met hulle mantels, hulle broeke en hulle tulbande en hulle ander klere aan, en hulle is binne-in die brandende vuuroond gegooi. (22) Omdat dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en Abednégo opgeneem het, doodgebrand. (23) Maar daardie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednégo, het geboeid binne-in die brandende vuuroond geval. (24) Toe het koning Nebukadnésar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy raadsmanne toegespreek en gesê: Het ons nie drie manne geboeid binne-in die vuur gegooi nie? Hulle antwoord en sê aan die koning: Sekerlik, o koning! (25) Hy antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar ‘n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos dié van ‘n godeseun. (26) Toe het Nebukadnésar nader gekom na die opening van die brandende vuuroond en daarop gesê: Sadrag, Mesag en Abednégo, knegte van die allerhoogste God, gaan uit en kom hier! Toe het Sadrag, Mesag en Abednégo uit die vuuroond uitgegaan. (27) Daarop het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs en die raadsmanne van die koning vergader en aan daardie manne gesien dat die vuur geen mag oor hulle liggame gehad en die hare van hulle hoof nie geskroei het nie, en dat hulle mantels geen verandering ondergaan en die reuk van die vuur nie aan hulle gekom het nie.
Psalm 138:1-8 ‘n Psalm van Dawid. Ek sal U loof met my hele hart; in die teenwoordigheid van die gode sal ek psalmsing tot u eer. (2) Ek sal my neerbuig na u heilige paleis en u Naam loof, om u goedertierenheid en om u trou ontwil; want U het vanweë u ganse Naam u toesegging groot gemaak. (3) Die dag toe ek geroep het, het U my verhoor, my moedig gemaak met krag in my siel. (4) Al die konings van die aarde sal U loof, o HERE, as hulle gehoor het die woorde van u mond; (5) en hulle sal sing van die weë van die HERE, want die heerlikheid van die HERE is groot. (6) Want die HERE is verhewe; nogtans sien Hy die nederige aan, en die hoogmoedige ken Hy uit die verte. (7) As ek te midde van benoudheid wandel, behou U my in die lewe; U steek u hand uit teen die toorn van my vyande, en u regterhand verlos my. (8) Die HERE sal dit vir my voleindig! U goedertierenheid, HERE, is tot in ewigheid: laat nie vaar die werke van u hande nie!
DAAR STAAN ÓÓK GESKRYWE